Dokter op verjaardag dood aangetref

Johan Gebhardt. Foto: Facebook

ʼn Mediese dokter van Centurion is Donderdagoggend op sy verjaardag dood in sy huis in Wierdapark aangetref.

Johan Gebhardt se broers, Hein en Bertie, het op Johan se 32ste verjaardag op sy liggaam afgekom. Johan het alleen gewoon.

Hein het Vrydag aan Maroela Media gesê sy broer is aan natuurlike oorsake dood, maar die presiese oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie. “Daar word ʼn nadoodse ondersoek gedoen wat dit sal bepaal. In dié stadium weet ons net dit was natuurlik,” het hy gesê.

Die drie broers het saam Critical Life Assist besit, ʼn ambulansdiens in Centurion. Volgens Hein het Johan sy mediese kennis ingespan om in noodgevalle te help, terwyl Hein en Bertie die sakekant van die onderneming behartig het.

Johan het egter ook sy eie private praktyk besit.

“Om mense te help was nog altyd sy passie en hy het dit sy brood en botter gemaak. Hy het lank in die trauma-eenheid gewerk en dit was sy roeping om mense se lewens te red,” het Hein gesê. “Van kleins af sou hy saam met my oom wat ʼn dokter is in die hospitale wees. Dit was net altyd wat hy wou doen.”

Hein het gesê Johan sou in Maart by sy vriendin, wat in die VSA studeer, gaan kuier het en na verwagting dan verloof geraak het.

“Ek sal Johan onthou as ʼn stil, maar baie sterk mens. Hy was ʼn ongelooflike goeie dokter. Die mense wat van hom gehou het, was baie lief vir hom en die mense wat nie van hom gehou het nie, het hom steeds altyd gerespekteer. Ons werk in ʼn baie kompeterende bedryf en Johan was die enigste dokter wat altyd saam op die pad was en daarvoor is hy altyd gerespekteer.”

Finale begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hanna ·

Innige simpatie Ana die brokers, familie en kolegas van hierdie finomilale jong man.
God has given, God has taken, prepair a path for your loved ones.
JY LOS ‘n MASSIEWE LEEMTE

Gesiggie ·

Innige meegevoel aan sy Familie, dit is so jammer dat so iets op sy verjaarsdag moes gebeur”’ Sterkte aan jul almal…

Tiana ·

Ek was ‘n jaar gelede in dieselfde bootjie met my boetie wat oorlede is.
Wens iemand het vir ons gesê om ons eie dokter te kry om bloed te trek en die uitslae aan te vra, want vir SAPS se nadoodse ondersoek wag mens VYF JAAR want daar is ‘n “backlog” by die forensiese laboratoriums..

Anel Oberholzer ·

Ek het nie vir Johan persoonlik geken nie, maar ek het baie van hom gehoor, 2 van Johan se vriende werk saam met my. Sterkte vir die boeties en almal wat hom persoonlik geken het. Jy was n super ster, en ons is dankbaar vir alles wat jy vir ons gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.