Dokter se lyk in Kaapstadse woonstel gevind

Dr Raymond Dusabe. Foto: Via Facebook

ʼn 29-jarige man het Woensdag in die Kaapstad-landdroshof verskyn nadat die liggaam van ʼn 40-jarige buitelandse dokter vroeër die week by ʼn luukse woonstelblok in die stad gevind is.

Dr. Raymond Dusabe van Rwanda se liggaam is Maandag gevind nadat hy vermoedelik reeds dae vroeër in die woonstel waar hy tydens sy vakansie gewoon het, vermoor is.

Sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die liggaam van ʼn 40-jarige man is in ʼn woonstelblok op Kusweg in Seepunt gevind. “Die bure het ʼn onaangename reuk in die woonstel waargeneem en die polisie is ontbied,” het sy gesê.

ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om te bepaal wanneer presies die man vermoor is en wat die oorsaak van sy dood is. Volgens berigte is hy glo met ʼn stomp voorwerp oor sy kop geslaan.

“Die speurders het dadelik met ondersoekwerk begin en leidrade opgevolg wat tot die inhegtenisneming van ʼn 29-jarige verdagte gelei het. Hy is aangekla van moord,” het Rwexana gesê.

Times Live berig die verdagte, Junior Kamono van die Demokratiese Republiek van die Kongo, het Woensdag vlugtig in die Kaapstad-landdroshof verskyn. Die saak is tot volgende week uitgestel. Hy bly in aanhouding.

Dusabe, wat sy nagraadse studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen het, was Rwanda se eerste ginekologiese onkoloog.

Volgens die US se webwerf het Dusabe as ʼn Rwandese vlugteling in Burundi grootgeword. Verskeie van sy familielede is tydens die volksmoord van 1994 vermoor. Hy het in 1998 teruggekeer na sy tuisland nadat hy in Burundi matriek behaal het. Hy het daarna medies aan die Nasionale Universiteit van Rwanda studeer. Hy het finansiering by die Rwandese regering gekry, waarna hy gespesialiseer het in ginekologie.

Hy was ʼn praktiserende ginekologiese onkoloog aan die King Faisal-hospitaal in Rwanda ten tyde van sy dood.

Die hospitaal het op Twitter gesê hy is hartseer om die dood van Dusabe aan te kondig. “Die administrasie wil sy opregte simpatie in die moeilike tyd met sy familie betuig. Sy werk hier sal nie gou vergeet word nie. Hy sal baie gemis word. Mag hy in vrede rus.”

Elisee Mpirwa, ʼn joernalis in Rwanda, het aan 702 gesê hy het met Dusabe se familie gepraat en hulle het aangedui dat hulle reeds stappe doen om sy liggaam te repatrieer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

Is daar dan regtig te min Suid-Afrikaanse dokters dat een uit Rwanda ingevoer moet word?

Lees weer ·

Lees weer Jaco, hy was op vakansie en verbonde aan ‘n hospitaal in Rwanda. Ook ek het deurgeloop met ‘n galblaasoperasie onder die hande van ‘n bekwame swart spesialis want as jy vreksiek is en 03h00 in die oggend by noodgevalle van ‘n MediClinic-hospitaal in kruip gee jy nie om wie doen die snywerk. Alle eer aan Medunsa vir sy opleiding.

Charmaine ·

Dr.Raymond mag jy in vrede rus??. Mag die skuldige aan die pen ry.Niemand meer veilig in die lang nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.