Dokter se vermeende moordenaars in hof  

Dr. Michael Isabelle (Foto: Facebook)

Die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn mediese dokter tydens ʼn gewapende rooftog in sy praktyk doodgeskiet het, het in die Roodepoort-landdroshof verskyn.

Gordon Matwetwe Muningi (50) en Tebogo Thutlwa (48) word aangekla van die moord op dr. Michael Isabelle. Hy is verlede maand in sy praktyk in Dobsonville, Soweto, doodgeskiet. Drie verdagtes het by die praktyk opgedaag en voorgegee dat hulle mediese bystand vir ʼn vriend benodig. Nadat die ontvangsdame hulle by die spreekkamer ingelaat het, het hulle Isabelle glo aangeval waarna ʼn skietgeveg ontstaan het.

Isabelle is geskiet en gewond. Hy is na ʼn hospitaal geneem waar hy die volgende dag aan sy beserings beswyk het. Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is een van die verdagtes ook glo raakgeskiet en later dood. Die verdagtes het met ʼn personeellid by die praktyk se motor van die toneel gevlug.

Die uitgebrande voertuig is later in Alexandra gevind. Muningi en Thutlwa is die naweek by hul huise in Alexandra in hegtenis geneem. Van die slagoffer se besittings is in hul besit gevind en daar is op twee ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê.

Die twee staan tereg op twee aanklagte van moord, vier van roof met verswarende omstandighede, opsetlike saakbeskadiging, die onwettig besit van vuurwapens en ammunisie en regsverydeling. Die saak is tot 2 April vir verdere ondersoek uitgestel.

Die polisie het vroeër gesê die beskuldigdes beweer dat hul makker tydens die rooftog deur die dokter geskiet is en dat hy in die motor gesterf het toe hulle van die toneel gevlug het. Hulle beweer verder dat hulle van sy liggaam ontslae geraak het en sy familie ingelig het waar om hom te kry en dat hulle die gesteelde motor agtergelaat en aan die brand gesteek het. Dit is intussen nie bekend of die liggaam van die betrokke verdagte al gevind is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Hoop hulle vrot in die tronk! daar is te veel van hierdie gemors in die land

Heinrich ·

Ek sekondeer Di, mag hulle nooit weer vry loop om dit aan iemand anders te doen nie.

Catherina ·

Dis verskriklik. Min drs wil in hierdie dele werk. Díe dr het en kyk nou. Hy moes n goeie mens gewees het om daar te gaan werk. My hart gaan uit na sy geliefdes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.