Dokter se vrou sterf ná aanval

Karin en dr. A.P. (Dakman) Marais (Foto: Marais Dakman Karin, Facebook)

’n Dokter van Graaff-Reinet in die Oos-Kaap se vrou is dood nadat die gesin Donderdagoggend deur ’n verdagte in hul huis aangeval is.

Karin Marais (57) is na bewering in haar linkerskouer met ’n mes gesteek. Sy het later in die hospitaal aan haar wonde beswyk. Dit is nie duidelik nie of haar man, dr. Albertus Petrus (Dakman) Marais, of dogter, wie se naam nie bekendgemaak is nie, enige beserings opgedoen het nie.

Kapt. Bradley Rawlinson, woordvoerder van die polisie, sê die aanval het omstreeks 06:00 in die gesin se huis in Somersetstraat in Graaff-Reinet plaasgevind.

“Die polisie is vroeg na die huis ontbied en is ingelig dat ’n onbekende man die huis ingekom het,” sê Rawlinson.

Volgens Rawlinson het Karin die man in die huis gewaar. Sy en haar dogter het hom gekonfronteer en glo na die agterkant van die huis verjaag.

“’n Struweling het tussen hulle [Karin en haar dogter] en die aanvaller uitgebreek. Karin is in die proses in die linkerskouer gesteek. Die aanvaller het daarna op die vlug geslaan.”

Karin se gesin het haar die huis ingehelp waar sy inmekaargesak het. Dr. Marais het daarna met haar na die Midlands-hospitaal gejaag, waar sy aan haar wonde beswyk het.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord.

Graaff-Reinet Toerisme het op hul Facebookblad hul meegevoel uitgespreek ná die afsterwe van Karin.

“Dit is baie hartseer oor die afsterwe van ’n pilaar van ons gemeenskap, Karin Marais, vrou van dr. Dakman Marais. Sy het ongelooflike gemeenskapswerk in die dorp gedoen,” lui die inskrywing.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die aanvaller kan lei, kan ao. HS Kruger by 082 442 2969 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Innige simpatie aan die naasbestaandes. Mens is nêrens meer veilig nie.

Toy ·

Waaroor haar steek eers en dan weg hardloop, hoekom het hy nie net gegaan nie. Mens se bloed kook wanneer mens sulke goed hoor.

Harley Davidson ·

Die rede hoekom die regering nie die wapenwet kan verander nie ,jy het geen ander opsie as om ten alle tye gewapende te wees vir selfbeskerming al is dit in die veiligheid van jou tuiste.

Willem ·

Enige inbreker of indringer in jou huis of op jou erf kan net met ‘n vuurwapen in die hand gekonfronteer word. ‘n Vuurwapen wat jy kán- en bereid is om te gebruik. As hy/sy jou aanval skiet om dood te skiet – hou aan skiet tot die aanvaller lê en hou jou oë oop vir enige makkers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.