Dokter se vrou ‘was ’n inspirasie’

Karin en dr. A.P. (Dakman) Marais (Foto: Marais Dakman Karin, Facebook)

Familie, vriende en gemeenskapslede van Graaff-Reinet het Dinsdag tydens die roudiens van Karin Marais (57) vertel watter groot inspirasie sy was en watter enorme impak sy op hul lewens en die gemeenskap gehad het. Karin, die vrou van dr. Albertus Petrus (Dakman) Marais, ʼn welbekende dokter op die dorp, is Donderdag in die gesin se huis vermoor.

Maroela Media het vroeër berig dr. Marais en Karin is Donderdag omstreeks 06:00 in die gesin se huis in Somersetstraat in Graaff-Reinet deur ’n verdagte aangeval. Karin is in die linkerskouer met ’n mes gesteek en het later in ʼn hospitaal aan haar wonde beswyk.

’n Man is Sondag in hegtenis geneem in verband met Karin se moord en het sal na verwagting Vrydag in die landdroshof op die dorp verskyn.

Die roudiens vir Karin is om 10:00 in die Karoo Community Church in Graaff-Reinet deur pastoor Richard Bremner gehou.

“Wat met Karin gebeur het, was ’n tragedie. Dit is onregverdig. Dit laat ons magteloos en woedend voel. Dit laat ons met vrae sonder antwoorde. Trane wat eindeloos is. Ondraaglike pyn. Hoe maak mens sin van só iets? Dit is moeilik om te groet en te aanvaar,” het Bremner tydens die roudiens gesê.

“Al wat ons kan doen, is om toe te laat dat die Here ons troos. Ons moet ons pyn, woede en vrae by die Here se voete sit. Die Heilige Gees sal ons troos.”

Bremner het Karin se broer, Helmut, aangehaal waar hy gesê het dat Karin nie sou wou gehad het dat die familie haat en woede in hierdie tyd moet ervaar nie omdat sy só vergewingsgesind was.

Karin en dr. Marais se kinders, Elze Eigelaar, John, Imke en Mieke, het tydens hul huldeblyk aan Karin vertel hoe ʼn goeie ma sy was en watter goeie verhouding sy met die Here gehad het. Volgens dr. Marais was sy die gom wat die familie bymekaar gehou het.

“My ma was ons mentor. Sy het ons geleer om ander mense lief te hê, om te gee en te aanvaar – maak nie saak wie die persoon is nie. Ek hoop om eendag die helfte van die vrou te wees wat sy was,” sê Imke.

“My ma se grootste geskenk aan ons was om ons van God se liefde te leer. Sy het God se onvoorwaarlike liefde in haar daaglikse bestaan gedemonstreer,” sê John.

“Sy het haar krag om die lewe voluit te lewe van die Here gekry,” sê Elze.

Die kinders vertel hoe hulle haar goedheid, liefde en kreatiwiteit nooit sal vergeet nie.

“My ma sou op ’n Saterdag voor haar naaldwerkmasjien sit en vir een van ons ’n rok of vir een van haar kleinkinders ’n uitrusting maak,” vertel Imke.

John sê hulle het graag saam tuingemaak of gekook.

Elze vertel alhoewel sy saam met haar man, Corné Eigelaar, en hul kinders in Namibië woon, het Karin altyd moeite gedoen om by haar kleinkinders uit te kom.

“My ma het saam met haar kleinkinders sandkastele gebou, trampolien gespring en na hul stories geluister,” vertel Elze.

Karin en dr. Marais sou vanjaar 36 jaar getroud gewees het. Hulle het op universiteit ontmoet.

“Karin het my geleer wat dit is om onvoorwaardelik lief te hê en te gee. Ons was mekaar se mentors en kompasse,” vertel dr. Marais.

Dr. Marais beskryf Karin as ’n stylvolle en grasieuse vrou wat die mooi in iets eenvoudigs raakgesien het.

Hy sê sy het ook baie omgegee vir die gemeenskap. “Ons deur was altyd oop vir enigiemand.”

Karin se dood het skokgolwe deur die gemeenskap van Graaff-Reinet gestuur. Karen was jare aktief by gemeenskapswerk betrokke. Sy het as voorsitter van die Union Preparatory en Union High se beheerliggame gedien en ook as lid van die skool se Eeufeeskomitee. Ten tyde van haar dood het sy steeds as ʼn kurator van die UHS-ontwikkelingstrust gedien.

’n Hele paar vriende en lede van die gemeenskap het ook tydens die roudiens ’n huldeblyk gelewer en vertel hoe Karin hul lewens verryk het. Hulle beskryf haar as ’n “liefdevolle en sterk, omgee-mens”.

“As dit nie vir die Covid-19-regulasies was nie, sou hierdie kerk te klein gewees het vir almal wat lief was vir Karin,” sê pastoor Bremner.

“Sy het altyd tyd gehad om te luister en raad te gee,” vertel Wilna Gerber, ’n ontvangsdame by dr. Marais se spreekkamer.

Inwoners word uitgenooi om Dinsdagmiddag hul laaste eer aan Karin te betuig deur blomme en kaartjies buite die Marais-gesin se huis te gaan neersit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

‘n Tragedie. Deur ‘n sinnelose daad is die slagoffer en die moordenaar asook hul naasbestaandes se lewens vernietig.

Nico ·

Wat beteken die woord na verwagting, gaan hy vervolg word of nie. Die onskuldige vrou se lewe is geneem en die regstelsel praat van dat die beskuldige na verwagting vervolg gaan word terwyl die Marais gesin in rou gedompel is. Sterkte aan die Marais gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.