Dokter wat uit vergoedingsfonds steel, gevonnis

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn Mediese dokter wat die departement van arbeid se vergoedingsfonds uit nagenoeg R400 000 geswendel het, is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.

David Michael Adams (42) se vonnis is egter vir vyf jaar opgeskort. Dit beteken hy sal nie ʼn enkele dag in die tronk spandeer tensy hy binne die volgende vyf jaar skuldig bevind word aan diefstal of poging tot diefstal nie.

Teboho Thejane, woordvoerder van die departement, het in ʼn verklaring gesê Adams sal vir drie jaar onder korrektiewe toesig wees wat huisarres, gemeenskapsdiens, lewensvaardighede- en oriëntasieprogramme en die vermyding van die misbruik van alkohol en dwelms insluit.

Adams is in 2010 in Rustenburg in Noordwes vasgetrek ná hy sowat R396 660 se onwettige betalings van die vergoedingsfonds ontvang het. Hy is op 29 April skuldig bevind aan verskeie klagtes van diefstal.

Die staat het aangevoer Adams moet tronkstraf uitdien omdat hy nie ʼn leek is nie en ʼn opgevoede man met ʼn gereelde inkomste was wat “geld geneem het by die armes”.

Die hof het egter anders besluit. Landdros Ncube het gesê die straf is regverdig omdat hy ʼn eerste oortreder is en berou getoon het. Hy het ook aangedui dat hy die geld wat hy onwettig bekom het, sou terugbetaal.

Ncube het gesê die batebeslagleggingseenheid het ook ʼn hofbevel gekry dat hul Adams se bates mag konfiskeer en dat hy R470 000 aan die staat moet terugbetaal.

Die vergoedingsfonds staan werknemers finansieel by wat by hul werkplek beseer is of siek geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Genieve ·

Slaan my dood met n papsnoek. Buite straf vir diefstal. Ai die regering se stelsel werk net vir my baie anders of in watter land woon ek.

Andre ·

Wat ‘n lekker ligte “straf”!! Wat se boodskap word hiermee uitgestuur?

Cherokee ·

Sommer net so interessantheidshalwe, want dit ìs interessant… “korrektiewe toesig wat die vermyding van die ‘misbruik ‘ van drank of dwelms insluit”? Gedink hy mag dit nie ‘gebruik’ nie.

Jeannette ·

Ai @Cherokee – jy is gewoonlik so skerp, maar vandag is jou gedagtes lyk my soos dun vlieswolkies voor ‘n reënbui in die Kaap …….. Die dokter gaan onder huisarres wees en moet lewensvaardigheids- en oriëntasieprogramme deurloop sodat hy geleer kan word hoe om die misbruik van alkohol en dwelms te voorkom”. Mooi en reg lees, vriend!

Cherokee ·

Jeannette, jou beurt om skerp te wees vanmôre en die Kaapse vlieswolkies het my verkeerde plek laat antwoord… ondertoeër..!!!

Eish ·

Née wat, ek dink die hof het hom goed van sy taak gekwyt. Vonnis se word nie uit die duim gesuig nie, dit word aan die hand van voorskrifte toegepas. Ons kan mos sien die dokter met die lang vingers het berou gehad. Verder kan n mens aflei dat daar versagtende omstandighede was soos byvoorbeeld dat hy n drank en dwelm probleem het, nie meer as n mediese dokter sal kan praktiseer nie, ens, ens. Hy was ook n eerste oortreder, alhoewel hy seker n paar vals eise ingedien het om op die reuse bedrag uit te kom. Dan word hy van sy bates gestroop en het n hengse bedrag om terug te betaal.

Cherokee ·

Dankie Jeannette :-) Op jou beurt is jy vanmore so helder en kleurvol soos ‘n wolklose lenteoggend in Namakwaland. Dankie vir die teregwysing.

Ouma ·

Solank hy en almal wat geld uit fondse gesteel het, dit terugbetaal. Dan sal SA weer skat ryk wees..

Suzette ·

@Ouma: Nee ouma nie net hy nie. Daar is hoeveel prokureurs en dokters wat deur die tyd vals eise by die Padongelukkefonds ingedien het. Daarom is hulle bankrot en kan nie die werklike slagoffers uitbetaal nie. Eise neem jare om uit te betaal en dan word hulle deesdae soos ek verneem gedeeltelik uit betaal. Maand vir maand, en die beste van als is daardie slagoffers verloor intussen alles. Als het in vervalle gegaan….Berou se g@t. Hulle het presies geweet waarmee hulle besig is hulle gierigheid was die oorsaak van alles.

karen ·

Ag shame hy het soveel berou oor sy dade….. mooi jy moet tog net al die geldjies terug betaal hoor en dan kan jy maar sommer jou werk ook terug kry….Moenie weer stout wees nie ne Die vergunning is once off want jy het geweet jy steel van arm mense moenie weer gevang word nie ne!!. hy moet afterall werk om die geld terug te betaal. ….. belaglik verby !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.