Dokters ‘angstig, gefrustreerd’ oor plasings vir diensjaar

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Meer as ʼn week nadat ʼn groep dokters die departement van gesondheid gedreig het met regstappe, weet duisende jong dokters steeds nie waar hulle in Januarie vir hul verpligte diensjaar moet aanmeld nie.

Dié dokters se angsvlakke loop hoog terwyl hulle wag vir die departement om hulle oor die toedrag van sake in te lig. Talle dokters vrees dat hulle glad nie ʼn plek sal kry nie omdat daar glo nie geld is vir al die poste wat nodig is nie.

Dit is onseker presies hoeveel dokters nog wag vir plasing, maar luidens sommige berigte kan dit soveel as 5 000 dokters wees.

ʼn Aantal dokters het nou aan Maroela Media gesê hulle oorweeg om hul vaardighede en kennis oorsee aan te wend, aangesien lande soos Kanada en Ierland reeds medici van Suid-Afrika werf omdat ʼn gemeenskapsdiensjaar nie daar verpligtingend is nie.

“Ons is bekommerd dat ons werkloos gaan wees,” sê Marie Vermaak, ʼn dokter wat self nog wag om terugvoer van die departement te kry.

“As ʼn dokter het jy nooit gedink daar is ʼn kans op werkloosheid nie, maar hier sit ons nou.

“Ons sou beter voorsiening vir ons toekoms gemaak het as ons vroegtydig bewus gemaak is van die omvang van die probleem.”

Nog ʼn dokter, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, sê sy is oorlaai met stres aangesien sy midde van die deurmekaarspul steeds 24 tot 36 uur skofte moet werk.

“Dit is baie stresvol om nie te weet wat aangaan of wat met jou gaan gebeur nie. Niemand is voorbereid vir die onsekerheid nie, wat nog te sê van die finansiële en emosionele impak wat dit op ons gaan hê,” sê sy.

“ʼn Mens kan nie in Suid-Afrika praktiseer as jy nie jou gemeenskapsjaar voltooi het nie, so wat is daar vir ons om te doen as ons nie geplaas word nie.

“Ons almal is meer as bereid om hierdie verpligte jaar te doen, ons gemeenskappe te ondersteun en hulle by te staan, maar ons hande is afgekap.”

Nog ʼn dokter van die Wes-Kaap, wat liefs anoniem wil bly, sê haar besittings is reeds gepak want sy moet teen die einde van die jaar uit haar verblyf trek, maar het geen benul waarheen nie.

“Ek bly in die hospitaal waar ek tans werk se dokterskwartiere en as ek nie voor Januarie geplaas word nie, sal ek by vriende of familie moet afpak, boonop sonder ʼn inkomste.”

Sy sê hoewel haar geliefdes almal in die Kaap is, oorweeg sy dit nou sterk om oorsee te gaan werk.

“Natuurlik oorweeg ek en baie ander dit om die land te verlaat en iewers heen te gaan waar ons nie met sulke nalatigheid en minagting behandel sal word nie.”

Hof genader

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het intussen ook gesê hy gaan die hof dringend nader indien die junior dokters nie teen 16 Desember vir hul verpligte gemeenskapsdiensjaar geplaas word nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat die regering so laat in die jaar beweer dat hy nie dié dokters kan plaas nie, omdat daar nie voldoende fondse is om hulle te betaal nie,” sê Sama.

“Hierdie jong dokters kan nie elders gaan werk nie en gaan sonder ʼn inkomste gelaat word as gevolg van onbenullige statutêre vereistes.”

Die Junior dokters- vereniging van Suid-Afrika (Judasa) het ook in ʼn verklaring gesê hy is besig om alle moontlike opsies te oorweeg om die departement hieroor aan te vat.

ʼn Groep junior dokters het reeds vroeër gesê hulle sal self die departement hof toe sleep indien planne vir hul plasings nie binnekort bekend gemaak word nie.

“Ons is steeds verward oor hoekom hierdie so groot probleem is. Die hoeveelheid dokters wat by elke universiteit hul studies voltooi is mos geen geheim nie. Die departement het lank al geweet hoeveel poste nodig is, so waarom is voorsiening nie gemaak nie?” vra Vermaak.

Volgens Vermaak sal sy en ʼn aantal van haar kollegas wat nie voor die einde van die jaar geplaas word nie, beplan om volgende jaar vir die tweede siklus diensjaar-innames aansoek te doen.

“Hierdie siklus begin op 1 Julie, maar die poste is steeds uiters beperk,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anel ·

Om ‘n verpligte jaar vir die staat te werk is net onaanvaarbaar. Wie het die dokters se studies betaal? Die staat? Ek glo nie. Baie van hulle sit met enorme studielenings. Wie gaan dit betaal? Laat hulle aansoek doen by privaat instellings en klaar. En stuur die Kubane, wat lekker vakansie hou op ons belasting geld, terug wasr hulle vandaan kom. Dan is daar ook weer nog poste beskikbaar. Wat ‘n onbevoegde lot en dan wil hulle die gesondheidsorg beheer. Behoede ons!!!

Erik ·

Anel, hierdie studente verdien ongeveer R50 000pm terwyl hul hul staatsdiensjare afhandel. Dis ook hier waar hulle ondervinding opdoen. Net soos rekenmeesters en prokureurs ook moet ‘artikel’. Glo my, jy weet bitter min as jy klaar gestudeer het en leer maar eers werklik as jy ondervinding opdoen. Kyk gerus hoeveel van hierdie studente dokters loop met hul handboeke in die hospitale rond.

Pieter ·

Die regering sien eerder toe dat Kuba se werkloosheid aangespreek word, deur verskeie “professionele” Kubane in poste in Suid Afrika te akkommodeer, ten koste van Suid Afrika se eie burgers.

annie ·

Waarom nie maar die diensjaar afskaf nie. Die idee was glo aanvanklik dat junior dokters uithelp waar groot nood bestaan. Nou is dit ‘n strafjaar. Vanaf die opleiding waartydens studente vreesaanjaende tye beleef en snags selfs moet hardloop vir hul lewe van en na hul motors wanneer hul aanmeld of uitgemoeg huiswaarts keer tot die diensjaar in gehawende hospitale, eerder spelonke, waartydens baie in vervalle buitekamers as kamma-woonkwartiere moet uithou. Dis nie grappies om ‘n goeie hart te hê vir jou naaste nie.

Erik ·

Waar gaan hul dan ondervinding opdoen? Sal jy na ‘n dokter toe gaan met net ‘n graad en geen ondervinding?

casper ·

Dit is absoluut hoog tyd dat alle mediese dokters in SA nou saamstaan en die jong dokters help om die staat wetlik aan te vat in die hoog geregshof oor die totale uitbuiting van die jong dokters.

Die probleme kom nou al etlike jare voor en al die gesmeek en beloftes doen niks om dit op te los nie !!!

Hoe kan mens verwag dat van jou mees talentvolle jeug ses jaar moet studeer aan ‘n graad en dan niks daarmee te kan doen nie ???

Dit is verregaande man !!!

Nie Verbaas ·

Wel gedaan ANC. Julle herinner ons daagliks aan julle intellektuele kapasiteit en welstand van die land.

Jannie van Niekerk ·

Stuur al die swak opgeleide Kubaanse dokters terug na hulle bankrot land. Vergeet van Payback time omdat die Kubane jou gehelp het in die Nambiësie /Kangolese oorlog. Belê eerder in jou EIE land se GOED opgeleide dokters by Suid Afrikaanse Universiteite. Skrik wakker ANC.

Christine ·

Dit is n absolute skande en uitbuiting. Hierdie dokters werk onmenslike ure onder moeilike omstandighede waar n tekort aan personeel aan die orde van die dag is. Die dokters is bereid om hard te werk want dit is hulle passie maar daar is soveel politiek in die staatshospitale en wanadministrasie dat dit die moeilike taak, onmoontlik maak. Die dokters probeer met die minimum wat tot hul beskikking is, die beste vir hul pasiënte doen. Die regering moet hul sokkies optrek en die dokters met die nodige respek en agting behandel wat hul verdien! Dit is professionele mense met jare se studies agter blad en hul verdien om met respek behandel te word.

Jan ·

Laat ons nou maar eerlik wees, hierdie is SEB of omgekeerde diskriminasie op sy beste. Die meeste van die interns wat wag vir werk is wit en die ANC gee nie ‘n veer om wat van hulle word nie. Dit is presies waarvoor Solidariteit betoog “Stop die rasmalheid”. Daar is net een uitweg, Federasie of stig af. My dogter is een van die vasgevangde mediese interns. Na meer as ‘n half miljoen rand se studieskuld, sit jy met hierdie gemors.

Marius ·

Die gemeenskaps jaar is onnodig en goedkoop arbeid. As die departement van gesondheid nie die taak kan verrig nie moet dit afgeskaf word.

Winnie ·

Gee pad uit die land en gaan na Kanada waar julle met respek behandel sal word. Hulle staatshospitale lyk soos ons privaat klinieke. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.