Dokters dreig met hof oor gebrek aan plasings

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Groep junior dokters wat wag op plasings van die departement van gesondheid om hul verpligte gemeenskapsdiensjaar te doen, dreig om die departement hof toe te sleep indien hy nie binnekort ʼn aanduiding van sy planne met die dokters gee nie.

Die groep dokters vra in ʼn brief aan die departement ook vir gesprek met die oog daarop dat die gemeenskapdiensjaar as deel van verpligte opleiding van dokters geskrap word, omdat die regering nie in staat is om finansiële of logistieke voorsiening vir die program te maak nie.

Die departement se gesukkel om dokters vir hul verpligte internskap- of gemeenskapsjaar te plaas, is teen hierdie tyd omtrent ʼn jaarlikse verskynsel – met geen oplossing tot dusver in sig nie – en lei elke jaar tot groot spanning onder junior dokters.

“Pleks daarvan stel ons voor dat voorsiening gemaak word vir mediese poste in die openbare sektor om spesialisopleiding aan te moedig en opgeleide dokters in die land te hou,” voer die dokters in die brief aan.

Die skrywe lui dat die beweerde begrotingstekorte by die departement ʼn “belediging vir hardwerkende staatsdiensdokters is wat gehelp het en steeds help om die land deur genadelose vlae van Covid-19, maar nie beperk tot Covid-19 nie, te dra”.

Die dokters sê dít terwyl die regering geld op verskeie maniere wanbestee.

Daar was die afgelope paar maande tientalle berigte van beweerde korrupsie en wanbesteding in die gesondheidsdepartement, onder meer met die aankoop van persoonlike beskermingstoerusting, met bedrae wat miljoene rande beloop. Die bewerings van korrupsie het onder meer tot die bedanking van dr. Zweli Mkize, voormalige minister van gesondheid, gelei.

Die groep dokters eis nou dat die departement teen Vrydag om 16:00 voorlopige plasings vir volgende jaar bekend maak en dat dié plasings gesteun moet word deur ʼn werkende aanlyn stelsel waar aansoekers die uitslae kan sien.

Indien ʼn aanlyn stelsel nie moontlik is nie, moet die departement ʼn e-pos of SMS stuur, of ʼn oproep na elke aansoeker maak om hulle oor die plasings in te lig.

Die dokters eis voorts dat die eerste dag van volgende jaar se gemeenskapsdiens minstens ses weke ná die bekendmaking van die voorlopige plasings begin en vier weke nadat die finale plasings aangekondig is omdat die tyd vir dokters om onder mekaar uit te ruil of appèl aan te teken teen ʼn plasing nie verkort word nie.

Die dokters sê hulle het ʼn billike tydperk nodig om te verhuis na die plekke waar hulle eindelik geplaas word, asook vir die departement om alle administrasie wat verband hou met die uitruilings, appèlle en finale uitslae af te handel.

Hulle eis ook dat hul Januarie-salarisse en verlofdae nie geraak word nie, omdat die vertraging met die plasings nie deur hulle toedoen is nie. Alle dokters moet hul basiese salaris teen 31 Januarie ontvang.

Sowat 800 dokters ondersteun reeds die eise aan die departement.

Die Junior dokters- vereniging van Suid-Afrika (Judasa) het die stelsel verlede maand al as ʼn “mislukking” bestempel en sê dokters moet elke jaar luister na dieselfde verskonings.

Judasa sê die Internship and Community Service Programme (ISCP) sowel as die departement is ook nie deursigtig oor die gebrek aan gefinansierde poste en dat dit lei tot die voortgesette laat plasings van aansoekers – met talle wat glad nie geplaas word nie.

Die vereniging sê hy word dikwels in die middel vasgevang, maar weens die mislukkings van die departement en die ICSP, lyk Judasa nou óók soos ʼn mislukking.

ʼn Dokter wat weens vrees vir viktimisasie op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat, het, sê die twee jaar internskap en jaar gemeenskapsdiens is ʼn vereiste vir dokters om in Suid-Afrika te praktiseer. Ander lande stel nie dié vereiste nie en is dus ʼn groot trekpleister vir jong dokters.

“As die departement nie die program kan bedryf nie, moet hulle dit opskort en nie verpligtend maak nie. Almal van ons is bereid om landwyd te gaan dien, maar die departement kan nie aan die einde van Desember vir jou sê om op 1 Januarie duisende kilometer ver op ʼn plek te gaan aanmeld nie.”

Dié dokter sê toe hy vroeër vir sy internskapjaar geplaas is, is die plasing op so ʼn kort kennisgewing gedoen dat hy twee maande lank in ʼn hotel moes tuisgaan omdat hy geen ander heenkome gehad het nie.

Volgens hom het nog nie ʼn enkele junior dokter ʼn plasing vir gemeenskapsdiens vir volgende jaar gekry nie. “Niemand van ons weet waarheen ons gaan nie.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die departement van gesondheid gerig. Kommentaar sal bygewerk word wanneer dit onvang word.

Presies ʼn jaar gelede het Maroela Media ook berig oor talle mediese studente in hul finale jaar se magteloosheid omdat hulle nie betyds by hospitale geplaas kon word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bertie ·

Solank as wat velkleur belangriker as bevoegdheid geag word, sal hierdie soort probleme aanhou en /of net erger word.

Di ·

Die korrupte regering is in staat to NIKS behalwe om Korrupsie te pleeg en die land te verwoes nie.

casper ·

Man die dokters moet die spul hof to vat en ophou om te dreig!!!!!!!!!!!!!
Die storie kom nou al meer as 5 jaar aan en niemand wil die spul hof to vat en finaal uitsluitsel te verkry hieroor nie.
Die kinders verloor duisende omdat hulle ne mag doen waarvoor hulle minstens 6 jaar lank gestudeer het nie.
ANC terroriste aan bewind !!!!!!!!!

Jacobus ·

Hierdie is presies die simptoom van ‘n “siek” gesondheids departement. Só oorstelp met die MAG wat hulle hulself toeëien dat hulle vergeet dat die voete op die grond die werk doen. Soortgelyk aan die inenting. Kan nie inligting interpreteer nie – só spuit almal in!

My siening ·

Nee hulle kry eers kubane tipies ANC beleid en uitvoering !

Tienie ·

Wat verwag julle van die spul.

Hulle kan nie vooruit beplan nie.

Dit is HOEKOM Afrike lyk soos hy lyk.

Orals chaos

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.