Dokters in hof ná seun se dood

Zayyaan Sayed.

ʼn Pediatriese chirurg en ʼn narkotiseur sal Dinsdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn in verband met die dood van ʼn 10-jarige seun.

eNCA berig lasbriewe vir die twee dokters is verlede week uitgereik nadat die seun se pa aanklagte van strafbare manslag teen hulle aanhangig gemaak het.

Zayyaan Sayed het op 11 Oktober ʼn laparoskopie by die Netcare Park Lane-kliniek ondergaan nadat hy lank met refluks gesukkel het. Zayyaan se ma het vroeër aan Maroela Media gesê hulle het lank gewik en geweeg om wél die operasie te laat doen, maar het eindelik ingestem.

“Dit was die laaste keer dat ek hom [Zayyaan] [lewend] gesien het. ʼn Uur en ʼn half het verby gegaan. Toe twee ure. Ek het op en af gestap. Ná twee en ʼn half ure het ek begin wonder wat aangaan…” het Zaheera Sayed gesê.

Die operasie het eindelik nagenoeg vier ure geduur. Zayyaan het later dieselfde aand gesterf.

Zaheera en haar man, Mohammadh, het kort na hul seun se dood ʼn prokureursbrief aan die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) gestuur en gesê “dit is duidelik dat Zayyaan se dood nie ʼn geïsoleerde voorval was nie.

“ʼn Hele aantal kinders het hul lewens verloor, gedurende of ná ʼn operasie deur [die betrokke dokter],” lui die brief.

Sunday Times het vroeër berig Ethan Teubes (3) is in 2012 dood nadat die betrokke dokter ʼn operasie op hom gedoen het, terwyl die 19 maande oue Alissa Strydom in 2016 onder soortgelyke omstandighede gesterf het.

Netcare het kort na Zayyaan se dood die twee dokters se voorregte opgeskort, maar die RGB het nog geen aanduiding gegee van die stappe, indien enige, wat hy doen of beplan om te doen nie.

Dr. Anchen Laubscher, Netcare se groep- mediese direkteur, het destyds aan Maroela Media gesê Netcare het besluit om die voorregte op te skort hangende ʼn hersiening van die omstandighede van ʼn pasiënt se dood.

Sy wou nie kommentaar lewer oor moontlike regstappe teen die twee nie.

In ʼn brief aan die Sayeds het Netcare gesê hy neem kennis van hul skrywe aan die RGB en dat die hospitaalgroep reeds die RGB van sy stappe in kennis gestel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Nico K ·

Dit is baie moeilik om te bepaal was dit nalatig of was daar ander oorsake. Ek praat nou die dag met ‘n dokter en hy sê hy sal nooit iemand aanbeveel vir die beroep nie want daar word deesdae net te veel dokters hof toe geneem.

Siener ·

Onbevoegte Dr’s word hof toe gesleep!! In enige beroep is iemand regsaanspreeklik as hy nie iets volgens prosedures doen nie, wat maak Dr’s so spesiaal dat hulle gevrywaar moet word?

Isak ·

Dis tyd dat die dokters vasgevat word. Want vandag gaan dit vir hulle geld. Ek meer oor lewens nie.

Maljan ·

Jy is so reg. Jy word deesdae pertinent gevra of jy GAPCOVER het. Indien nie word jy na die volgende dr aangestuur. Hy/sy het mos reeds nou R1000 konsultasie fooi uit jou gemaak.

Arak ·

Die koste is so hoog, want dokters moet duisende elke maand opdok om die versekering te betaal wat nodig is om hulle te verdedig. Niemand baat uit ‘n kind se dood nie, en elke operasie het tog ‘n risiko. Lyk my ons wil doktors aanspreeklike hou vir alles, maar ons is nie bereid om te besef dat elke operasie ‘n risiko inhou nie.

Nettie ·

@Isak, ek veronderstel jy sal die eerste een wees wat na ‘n veearts sal gaan die volgende keer wat jy kranklik is???

Wie weet ·

Mense en kinders raak siek en ons almal gaan ons beurt kry om dood te gaan Ek kan my nie insien dat n spesialist n fout aspris sal maak nie Moet een ding onthou Dokters is ook mense wat foute maak
Net my openie Sterkte aan die ouers wat hulle kinders verloor het Mag God julle krag gee

Santie ·

16jaar gelede het ons amper ons dogter verloor. Was BESLIS ortopeet se fout. Sterkte aan hierdie ouers. In ons geval het teater verslae ‘verdwyn’.

Robert ·

ń Ondersoek kan net alle twyfel uit die weg ruim. ń Ou gesegde het gesê ń dr se foute word begrawe…..

jakes ·

Daar sal altyd n paar vrot appels in die sak wees. Verduur liewer die ongerief as om jou kind n riskante operasie te laat ondergaan. Glo my, nie alle dokters is bevoeg vir die taak nie.

RN ·

Isak en by jou werk kry jy n salaris so jaag jy nie geld nie. Nie alle Dokters is dieselfde nie, party Dokters doen dit omdat dit hulle passie is, ek weet my Dokter help baie van haar pasiente verniet veral die ou mensies.

Pieter ·

Hierdie drs het ‘n lang rekord van sukses en is nie jong kansvatters nie. Iemand probeer geld maak uit ‘n kond se dood en hulle weet mense is simpatiek oor kinders. Dis hoekom goeie drs die land verlaat

Siener ·

Dr Pieter. Dit gaan nie oor die geld nie maar oor geregtigheid en aanspreeklikheid. Vergeet van die geld en gee die nalatige Dr’s tronkstraf. Geld kan nie die kind terug bring nie maar die ouers wil verhoed dat dit weer gebeur met iemand anders se kind.

Sê-maar-net ·

Netcare is nie juis bekend daarvoor dat hul mediese eise betaal nie. In 2011 het ek ses dae in ICU in ‘n koma gelê. Toe ek ná 3 dae daar wakker word, het ek die ergste bedsere ooit. Maar ná 3 jaar het my prokureurs die handdoek ingegooi met die verskoning dat Netcare ‘n finansieel sterk regspan het waarteen hulle nie kan baklei nie. Saak uitgegooi nog voordat ons in die hof hulle leuens oor hul pragtige “sorg” kon betwis! Baie sterkte aan die ouers in hul grootste hartseer. Van vandag se dokters is nie meer gister s’n nie. Baie van hulle word in die buiteland opgelei omdat hul nie hier hul keuringsvereistes kon slaag nie.

Nettie ·

@Sê maar net – was jy nou 6 of 3 dae in ICU in ‘n koma? Sjoe, dit is BAIE vinnig vir enige iemand om “die ergste bedsere” te ontwikkel – net 3/6 dae? Ek het darem self ‘n bietjie verpleeg-agtergrond, gehoor!

Sarel ·

Niks is nog bewys nie, gee kans en tyd dat ondersoek sy pad loop.,

Gesiggie ·

Ek slaan my hoof op na die Hemel…. waar ons hulp vandaan kom” Here hoe kan so iets gebeur? waste Dokters is hul>>>> as ander kinders dan ook al gesterf het en dit deur dieselfde dokters,,, hoekom was daar nog nooit ondersoek ingestel?? n onskuldige seun wat veronderstel was om net vir n Laporoskopie moes gaan, is dood”’ HOE?? wat het werklik gebeur. Aan die ouers mag jul vrae gou beatwoord word?dit gaan nie vir Zayaan terug bring, maar as dit dan agv die 2 Dokters is wat nalatig was… laat hul betaal. Sterkte en my innige meegevoel.

ES ·

Nie alle dokters in nalatig nie – dit hang af van die situasie. Die feit dat daar 3 kinders gesterf het is kommerwekkend en moet ondersoek word.

Ek het self ‘n familielid verloor in 2017 a.g.v. ‘n chirurg wat nalatig was in sy prognose sowel as sy behandeling en dit het veroorsaak dat hierdie familielid van ons oorgeplaas was vanaf die waakeinheid na ‘n gewone saal en haar toestand het so versleg dat sy 2 weke later oorlede is.

Die dokter het ons oorspronklik gerusgestel dat die prosedure wat hy sou doen, algemeen is vir ‘n breinanuirisme en dat sy vinnig sal herstel en ontslaan sou word. Toe haar toestand egter versleg en ons hom daaroor uitvra, was hy erg geirriteerd en het vir ons gese dat ons nie moet bekommerd wees nie en dat hy weet wat hy doen…

Nou ja, hier is ons nou, twee jaar later. Sonder ons tante…

Anoniem ·

Weet mense nie.. enige eenvoudige mediese prosedure het risiko’s. Narkose is baie riskant op sy eie. Hier word ook net eenvoudig nie genoeg inligting gegee om te weet of dokters skuldig is of nie. En dis darem nie reg om te se daar is al baie mense dood agv die dokters nie!!!! Waar is die feite!

Wonder net ·

Hierdie is laparoskopiese prosedures …PRESIES werk, met GEEN ruimte vir fouteer nie, is die wagwoord en met sulke jong kinders, moet met nog meer PRESIESIE gewerk word. sal graag wil weet wat was die bevindinge vandie nadoodse ondersoeke op hierdie kinders….hoop dit was gedoen.

Nettie ·

Wag … wag, wag …. Ek verstaan nou nie lekker nie. Die twee dokters is aangekla en het beide borgtog van R10K gekry. Die een dokter moet die vervolgingsgesagbeampte in kennis stel as hy net uit sy provinsie wil beweeg en moes sy paspoort inhandig, maar dr. Munshi, die ander dokter, kry toestemming om in hierdie maand nog na Dubai te reis en as hy terugkeer, sy paspoort in te handig … Wat gee my die idee dat dit – soos met die Guptas – die laaste sien van die blikkantien gaan wees???

Sinies ·

Growwe nalatigheid het geen plek in die mediese beroep nie, maar so ook die sinlose eise waar dit van n dokter verwag word om die onmoontlike reg te kry. Billikheid en redelikheid na albei kante toe is wat nodig is.

Ongelukkig is n klein groepie dokters besig om n groot bedryf se naam deur die modder te sleep.

Wat die versekeringsbedryf aanbetref, hulle het duidelik die wetgewers diep in hul sakkie.
Mense sal verstom wees hoeveel addisionele versekering deur dokters, vervaardigers en enige persoon wat n diens lewer moet uitneem danksy die veranderde regulatoriese omgewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.