Dokters kán aanspreeklik gehou word

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Deur Linette Retief

Die proses om ‘n dokter vir mediese nalatigheid te dagvaar is dikwels ‘n uitgerekte en duur storie en die vraag ontstaan of dokters nog enigsins aanspreeklik gehou kan word vir fisiese of finansiële skade wat die pasiënt opdoen.

Daar is skynbaar ook ‘n persepsie dat dit onmoontlik is om dokters te dagvaar. Volgens advokaat Johann Nortjé, senior advokaat by die Kaapse Balie, is dit egter nie meer die geval nie.

“Daar was voorheen ʼn persepsie dat die medici mekaar beskerm en nooit teen kollegas sal getuig nie. Dit gebeur nie meer nie, of minstens nie so maklik nie,” verduidelik hy.

ʼn Aantal hoëprofielsake in plaaslike sowel as internasionale media bevestig hierdie tendens:

Peter Beale: Beale het onlangs in die Gautengse hooggeregshof verskyn op aanklag van moord op die 10-jarige Zayyaan Sayed wat na ʼn operasie wat deur Beale uitgevoer is, gesterf het. Tydens sy verskyning is hy boonop vir strafbare manslag aangekla op grond van onwettige en nalatige optrede wat na bewering tot die dood van die 21 maande oue Alyssa Strydom gelei het. Die saak is na Januarie 2023 uitgestel.

Luke Gordon: Na ʼn regstryd van meer as ʼn dekade het die Health Professions Council of South Africa (HPCSA) in 2020 vir Gordon, voorheen ʼn plastiese chirurg, van die rol geskrap.

Gordon is aan nalatige optrede tydens die kosmetiese prosedures van 14 pasiënte skuldig bevind. Oor die jare het hy R4,5 miljoen aan pasiënte betaal wie se operasies hy verbrou het. Van die klagtes wat by die HPCSA ingedien is, dateer na bewering so ver terug as 2004.

Christopher Duntsch: Duntsch, voormalige Amerikaanse neurochirurg ook bekend as “Dr Death”, het binne minder as twee jaar 34 uit 38 pasiënte ernstig en onomkeerbaar beseer en twee sterftes veroorsaak voordat sy lisensie in 2017 herroep is. Hy is aan die verminking van een pasiënt skuldig bevind en dien tans lewenslange tronkstraf uit.

Kenners met wie Maroela Media gesels het, sê hoewel daar ‘n redelike kans is op sukses sou pasiënte ‘n dokter hof toe sleep, litigasie nie altyd die beste manier is om jou dokter aanspreeklik te hou nie.

Geen vrywaring van nalatigheid

Terwyl pasiënte voor chirurgiese prosedures verplig word om vrywaringsvorms te onderteken, sê Nortjé, is howe nie meer geneig om dit as ʼn verweer te aanvaar nie.

“ʼn Pasiënt aanvaar dat ʼn mediese praktisyn goed opgelei is en nie nalatig sal wees nie,” verduidelik hy. “Trouens, mediese praktisyns en verpleegpersoneel het ʼn regsplig teenoor pasiënte. Wanneer hierdie plig weens nalatigheid verbreek word en die pasiënt as gevolg daarvan skade ly, kan die pasiënt ʼn skadevergoedingseis teen die betrokke mediese praktisyn instel.”

Van der Walt wys daarop dat die HPCSA stipuleer dat geen mediese praktisyn hom- of haarself van mediese nalatigheid mag vrywaar nie, maar dat hulle wel kan vereis dat pasiënte ʼn ingeligte toestemmingsvorm teken.

Die staatsinstelling vanwaar die dokter of spesialis praktiseer, behoort ook nie skotvry daarvan af te kom nie. “Ingevolge die regskonsep van middellike aanspreeklikheid (vicarious liability), is die staat vir die skade aanspreeklik indien die mediese praktisyn in diens van die hospitaal nalatig was,” verduidelik Nortjé. “In die geval van privaat hospitale kan die maatskappy aan wie die privaat hospitaal behoort aanspreeklik gehou word.”

Van der Walt maan egter dat alle dokters onafhanklik van privaat hospitale praktiseer. “’n Eiser wat ʼn privaat hospitaal sonder regsgronde as ʼn verweerder in ʼn saak betrek, loop ʼn baie hoë risiko,” verduidelik sy. “Daarom is dit uiters noodsaaklik om eers vas te stel of ʼn privaat hospitaal enigsins aanspreeklik is.”

Tydrowende regsdoolhof

Terwyl bogenoemde ʼn mate van hoop en ʼn sin van reg en regverdigheid skep, bly nalatigheidseise vir die gemiddelde verbruiker ʼn tydrowende regsdoolhof wat alles van gemoedsrus en geesteswelstand tot finansiële sekuriteit op die spel plaas.

Adele van der Walt, stigter-eienaar van Adele van der Walt Attorneys, ʼn regsfirma wat in mediese wanpraktyk en nalatigheid spesialiseer, wys daarop dat ongunstige resultate soos dood of breinskade nie noodwendig die gevolg van nalatigheid is nie. “Daar is ʼn bewyslas met siviele eise wat verskil van die bewyslas as dit by kriminele sake kom, byvoorbeeld strafbare manslag. Dit is dikwels ʼn tydrowende proses wat duur deskundige getuienis verg,” verduidelik sy.

Onvoorsiene gevolge

Terwyl ʼn aantal faktore in die guns van pasiënteregte werk, is Van der Walt bekommerd oor die langtermynuitwerking van oormatige of ongeregverdigde nalatigheidsgedinge.

Sy wys daarop dat reeds hoë mediese koste nog verder die hoogte kan inskiet – nie net weens mediese nalatigheidsversekering wat byvoorbeeld vir ginekoloë tans R1 miljoen per jaar beloop nie, maar as gevolg van praktisyns wat addisionele, duur toetse laat doen om hulself te vrywaar. Die dilemma word dikwels verder vererger deur gierige prokureurs wat hoërisikosake vir eie gewin najaag.

Terwyl Van der Walt hoop dit sal nie gebeur nie, wys sy daarop dat sommige dokters moontlik uit vrees vir vervolging nie omvattende hulp aan pasiënte gaan verleen nie, of weens die buitensporige koste van professionele versekering die land gaan verlaat.

Magtige kennis en goue middeweg

Gegewe die kompleksiteit van mediese nalatigheid glo Van der Walt verbruikerskennis is verbruikersmag. “Die opvoeding van die publiek kan ʼn sleutelrol speel – nie net om mense met kennis toe te rus en die opsies tot hul beskikking te stel nie, maar ook in belang van die bedryf,” sê sy.

Les bes wys sy daarop dat ʼn mediese nalatigheidsaak nie noodwendig in die hof hoef te gaan draai nie. “Daar is baie skikkings binne en buite die hof; soms op die hof se trappe,” verduidelik Van der Walt. In 95% van hierdie gevalle word eisers verplig om nie-openbaarmakingsooreenkomste te onderteken om die saak en die gepaardgaande inligting uit die openbare domein te hou. “Dit is tot voordeel van die hospitaal en die praktisyn, en dit help om die vertroue in die praktisyns en die bedryf te behou,” is haar slotsom.

Reg en regverdigheid sonder rand en sent

Duur en uitgerekte litigasie is buite die meeste mense se bereik. Die volgende staats- en semi-staatsinstellings kan in hierdie opsig ʼn helpende hand verleen:

  • Die Regshulpbronsentrum
  • Regsklinieke by universiteite
  • Die Regshulpraad wat by alle landdroshowe beskikbaar is

Bystand van privaat praktyke is eweneens nie buite bereik nie. Mediese nalatigheidsdeskundiges soos Joseph’s Incorporated Attorneys en Adele van der Walt Ingelyf is bereid om sake op die grondslag van gebeurlikheid (contingency) te aanvaar. Dit beteken die regsfirma onderneem om ʼn saak te aanvaar met dien verstande dat die koste vir hul dienste aan ʼn gunstige resultaat, oftewel “geen oorwinning, geen betaling” onderworpe is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

huisvanisrael ·

Dit was al die jare “First do no harm” maar vandag se dokters wil liewers “Show me the money” en dan geen verdere verantwoordelikheid nie.

Johan ·

Ek sien nogal uit na die eerste saak oor vax beserings, of is daar genoeg vrywaring ingebou die dag toe jy jou gif gevat het?

piet ·

Hoeveel sake was daar al weens komplikasies vir die gebruik van enige ander medisyne soos Disprins? Die gebruik van enige medisyne dra risiko’s en die gebruiker daarvan weet dit. Sodra die medisyne goedgekeur word deur die land se Mediese Raad verlaag jou kanse om te slaag met so ‘n eis na bykans zero.

Perdeby ·

En dit is hoekom die i Gynecologist in Worcester area nie meer bevallings doen nie, maar na ander dorpe of staatshospital verwys na ‘n sekere tydperk in jou swangerskap. So 4/5jaar terug daar verander, reeds omdat die ouers vir elke klein ding wil dagvaar.

Swerwer ·

Wel dit is verstaanbaar in die huidige omstandighede van die huidige medesie. Daar is van die “Dokters” wat regtig nie in die Mediese Praktyk hoort nie.

Alfred E Neuman ·

Wat my die meeste grief van dokters is dat die heel eerste vraag tydens n besoek is “hoe gaan jy betaal en wanneer?” Die gejaag na geld is afskuwelik, en daarom probeer medici mekaar beskerm.

Akhenatha ·

Gee nie om wat hulle hier sê nie. ‘n Dokter moet steeds baie erg verbrou voordat geregtigheid geskied. Meeste mense wat deur die mediese wetenskap te na gekom is, kry nooit geregtigheid nie. Miskien 1% of 2%.

VaalDonkie ·

My (gewese) dokter was soos ‘n “vending machine”: jy gee vir hom ‘n geldjie en dan gee hy vir jou ‘n voorskrif vir antibiotika en twee dae siekverlof.

VaalDonkie ·

Ek begryp dokters doen moeilike werk. Maar veral huisdokters is nogal optimisties as hulle dink hulle kan ordentlik medisyne praktiseer binne 15 minute. En ‘n liggie in die keel en ‘n stetoskoop teen die bors en rug gaan nie vir jou genoeg info gee om te besluit of die ou COVID of ‘n verkoue het nie. En dan wil hulle nog R500 vir die dans vra.

piet ·

Ek wonder hoeveel algemene praktisyns sou praktiseer as dit nie was vir die bestaan van mediese fondse nie? Maklike betaling. As jy self moet betaal, sal jy tweekeer dink om vir die eerste hoesie dokter toe te hardloop. Ek weet nie of ek my misgis nie maar dit lyk asof daar baie minder algemene praktisyns deesdae praktiseer. Jy sal sien hoe vinnig verloor hulle pasiente as die mense nie meer mediese fondse kan bekostig nie. Dit gaan hand aan hand. Ek sal wragtig vrek siek moet wees om dokter toe te gaan en dan sal dit waarskynlik reguit hospitaal toe wees.

VaalDonkie ·

Ja ek was laaste keer daar omdat my kind se maatjie en die se ma positief getoets was vir COVID een dag nadat hulle saam gekuier het, en ons hele huisgesin toe “griep” en “brongitis” ontwikkel het. Ek het net ‘n hospitaal plan so ek moet elke keer daai R500 (of R850 vir die pediater) uit my eie sak betaal. So OF die maatjie en sy mamma se dokter(s) was verkeerd oor die COVID diagnose, OF ons s’n was. Maar die koors en lyfseer wat my vrou gehad het was in lyn met die COVID simptome, nie met griep soos sy dit kry nie. Anyways. Wie sal nou rerig weet?

SjN ·

Hul almal beskerm mekaar, verslae, registers, ens, word aangepas en verander om sekere gevalle te regverdig, gelukkig is daar ander prosedures wat gevolg kan word om by die waarheid uit te kom, ongelukkig neem dit tyd en kos baie geld.

Papsak ·

Daar is lankal nie meer goeie dokters nie hulle gee niks meer om vir n lewe nie hoe gouer jy dood gaan hoe beter hulle sien net daai dollars in hulle beursies drink klomp pille in jou hand maak nie saak of dit gaan help of gaan jy dood nie vertrou bulle ook lankal nie meer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.