Dokters kan niks méér vir Lielie Muis doen nie

Leah de Jager. (Foto: Annelie Jonker Photography)

Medies gesproke kan dokters niks méér vir die vyf maande oue Leah de Jager oftewel Lielie Muis van Uitenhage doen nie.

Baba Leah, wat weens ʼn skaars mediese toestand geen immuunstelsel het nie en reeds byna twee maande lank om haar lewe in die hospitaal veg, word nou eindelik hoofsaaklik gemaklik gemaak terwyl haar dokters en ouers toekyk of haar toestand verbeter al dan nie.

“Dit is baie sleg, want al wat ons kan doen, is wag. Maar waarvoor wag ons? Wag ons vir genesing of vir die dood?” het Gerrit de Jager, Leah se pa, Dinsdagmiddag aan Maroela Media gesê.

Dit volg nadat hy en sy vrou, Lezaan, die volgende boodskap die afgelope naweek op Facebook gedeel het: “Dis met ’n baie swaar hart dat ek die nuus aan julle breek. Die dokters kan ongelukkig niks meer vir Leah doen nie.”

Leah word steeds in die neonatale waakeenheid van die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth behandel nadat sy sowat twee maande gelede met ernstige gekombineerde immuungebrek (SCID) gediagnoseer is. Dit beteken dat sy wesenlik geen immuunstelsel het nie en haar liggaam dus geen vermoë het om teen infeksies, bakterieë en kieme te baklei nie.

Gerrit verduidelik dat Leah se bloed gewoonlik twee keer per week getoets is om vas te stel hoe dit met haar infeksies gaan en of sy wel nuwe infeksies opgedoen het. Dié toetse is egter intussen gestaak. “Haar dokters behandel nou die infeksies waarvan hulle reeds weet, maar gaan nie meer vir nuwe infeksies toets nie. So, as sy ’n nuwe infeksie kry, gaan ons dit nie weet nie. Sodra dit die punt bereik dat dokters sien haar lyfie gee in, gaan hulle haar bloot gemaklik maak.”

Leah de Jager by haar ouers, Lezaan en Gerrit. (Foto: Annelie Jonker Photography)

Daar word vermoed dat sy wel nou nog ’n infeksie opdoen aangesien sy koorsig is en haar hart baie vinnig klop. “’n Mens kan veral die afgelope twee dae sien sy is siek. Sy het ook vandag weer stuipe gekry,” sê Gerrit.

Vir eers behandel dokters haar aanvanklike infeksie, die tuberkulose in haar brein asook die stuipaanvalle wat sy gereeld kry.

“Dit is soos ’n nagmerrie waaruit ek wil wakker word,” erken Gerrit. Hy verduidelik dat hulle vir eers positief probeer bly hoewel hy hom as ’n realis beskryf. Hy erken dat dit sy vrou, Lezaan, is wat deurgaans positief bly.

’n Enkele ligpunt is dat Leah se mediese koste gedek is ná die Familiedag wat verlede maand ten bate van haar gehou is. Indien sy beter word, sal dié geld vorentoe vir verdere behandeling soos fisioterapie gebruik word. Indien die ergste denkbaar gebeur, sal die geld aan ander kinders in Leah se situasie geskenk word. “Ons sal net graag Leah se naam blywend wil hou. Indien sy moet doodgaan, kom daar darem iets goeds uit al hierdie sleg.”

Gerrit vertel dat hulle elke moontlike oomblik by haar bed waak en dat haar oupas en oumas gereeld kom kuier. Daar is egter nié ’n vasgestelde tyd aan die uitmergelende wagtydperk gekoppel nie. “’n Mens is moeg maar ons gaan maar aan; ons het nog baie geloof en hoop. Vir eers staan ons haar by. Ons kan niks doen nie. Die infeksies gaan seker iewers begin oorvat.”

Lezaan het sedertdien ’n oulike video van hul Lielie Muis op Facebook gedeel waar sy haar mondjie tuit terwyl sy slaap. “Kyk net hoe oulik is Mamma se kleine lyfie as sy doedoe! Smoorverlief op hierdie blommetjie van my,” sê Lezaan in die inskrywing.

Besoek die Lielie Muis Fondsinsameling Facebook-blad vir meer inligting oor Leah se vordering, asook maniere waarop die gesin bygestaan kan word.

Kyk net hoe oulik is mamma se kleine lyfie as sy doedoe! Smoor verlief op hierdie blommetjie van my ????

Posted by Lielie Muis – Leah de Jager on Saturday, December 1, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Jammer ·

Baie sterkte aan jul gesin en familie. Wens soms mens kon alles net beter maak. Mag Liewe Jesus julle baie styf vashou. Ons sal nie ophou bid nie.

Danika Marais ·

Ek is nog self n kind en ek kan my nie in dink in watter stres julle is nie. Ek ken nie eers julle meisie kind nie maar elke aand herinner dit my aan watter vooreg ek het om so gesond te wees met niks pyne en skete nie. Ek as n 14 jaarige meisie bid elke aand dat julle sal deur bring tot die beste van julle vermoë. En nie moet sal op gee nie. Ek is baie jammer vir jou toekoms maar dit gebeur met n rede?God het n plan met julle?

John ·

So ‘n mooi klein mensie… Ons hart gaan uit na die ouers.

Hartseer ·

Sy is so mooi. Regte klein engeltjie. My hart bloei vir julle.

Liza ·

AAAAAAA MY HART BREEK VIR DIE OUERS… EK BID DAT ONS HEMELSE GENEESING SAL SPREEK OOR LIELIE MUIS…. KLEIN LIELIE MUIS IS PRAGTIG…. STERKTE VIR DIE MAMMA EN PAPPA

leser ·

lielie muis, engel, ek sal ook aanhou om jou by Jesus op te dra
sterkte pappa en mamma, Jesus is julle anker

Geregtigheid ·

Ek het groot empatie vir die ouers. Ons het ons kleintjie so verloor. Wanneer die dokters se hulle kan nie meer nie. Weet dit, ons geloof moet sterk geanker wees en dan kan die Vader ingryp. Vertrou Hom. Dis baie erg maar met die hulp van ons hemelse Vader kom ons deur alle beproewings. Bid julle sterkte toe en kyk op hulp en krag kom altyd van bo.

Rina Dekker ·

Ek spreek lewe en gesontheid oor lielie muis in die naam van VADER,SEUN EN HEILIGE GEES AMEN

Linda ·

Hoe huil ek nou.
Lielie Muis so pragtig. Ek sal haar en die mamma en pappa in my gebede hou. Stywe drukkie vir julle.

Reti ·

Ag hoe vreeslik. Ek sal nooit in so situasie wil wees nie. Baie baie sterkte aan almal hier betrokke. Mag julle alle sterkte ontvang wat julle sal dra hierdeur.

Anna-Marie ·

hou vas leahtjie jy lyk soos n sterk mensie….hou moed ouers

Cindy ·

Dankie dat julle die video gedeel het. Ons waardeer dit regtig. Altyd gewonder hoe lyk sy nou al. Baie dankie dat julle openlik alles deel met ons. So voel ons deel van julle gesinnetjie elke dag. Ek is seker God het n rede vir alles en hy sal en maak al klaar die regte besluit vir ons almal. Al wat ons moet doen is Bid en Glo God sal voorsien aan ons gebede. Sterkte julle ons dink aan julle elke daggie. Xxx

Mariska Van Niekerk ·

Al wat julle kan doen is om vir ons Pappa God te vra om haar tenvolle te genees. Ons God is groot en niks is vir Hom onmoontlik nie. Xxx ons bid saam julle vir die pragtige prinses

Natasha ·

So ‘n klein vergtertjie! Ek bid vir jou! Mag God se liefde jou omvou! Versterk! Here ons bid vir genade en liefde, vir gesondheid en krag hier! Amen

Diefie ·

Mag die Vader julle en julle familie in Sy hand van liefde hou, dis daar waar veiligheid is.

Hartseer ·

Dit is hartverskeurend :( Hou Pappa, Mamma, Oupa’s en Ouma’s en die res van al die geliefdes in my gebede. Mag God asb hul styf vas hou in die bitter moeilike tyd. Amen.

Nin ·

So ‘n pragtige kind. So hartseer. Ek dra julle op in my gebede.

Pietman ·

Ons Harte gaan uit na jul. Ons bid vir haar en julle. Gee vir haar biki Sutherlandia teetjie. Seënwense.

Petro Potgieter ·

By ons Hemelse Vader is niks onmoontlik nie,
Hier waar ek voor my rekenaar sit, het ek vir haar gebid,
Ons moet net glo en vertrou dat God haar kan en sal gesond maak,
Dr;s kan niks doen nie, maar ons Hemelse Vader kan alles doen, Hy is almagtig.
Amen

Dankie Jesus dat U vir Lila Muis gesond maak,
Baie dankie Jesus
Ons vra dit in ons almagtige Vader wat Hemel en Aarde gemaak het,

Amen

VanAfrika ·

Ag Liewe Heer
Ons is al so moedeloos in hierdie bloedvergiete, vermoorde land van ons. Gee ons tog net een wonderwerkie sodat ons net ons geloof weer kan optel. Lê U hande op hierdie pragtige klein siel en genees haar volkome vir hierdie ouers. Plaas asseblief weer U voet neer in hierdie land van ons wat tans so vol sonde is. Ons het U broodnodig en skree om hulp na U. Ons dank U ook dat U ons Skepper is, die Alpha en Omega van hemel en hierdie aarde. Ons Herder en ons Beskermer en ook ons Groot Geneesheer. Ons vertrou dat U Lielie Muis gaan gesond maak en ons lê haar nou in U hande.

Poppie ·

En soos die trane nou oor my wange loop, so bid ek dat Liewe Jesus vir Liewe Lielie Muis n 2de kansie sal gee. Dat daar van nou af net beterskap kan wees. Amen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.