Dokters positief oor ‘wonderwerkseun’ (3) se vordering

Nico Mostert sterk in die hospitaal aan. Foto: Verskaf

Nico Mostert sterk in die hospitaal aan. Foto: Verskaf

Nico Mostert, die driejarige kind wat Sondag ʼn hele plaasdorpgemeenskap byeengebring het nadat hy byna in ʼn swembad verdrink het, toon goeie vordering en sy dokters is positief oor sy toestand.

“Hy was vanoggend vir ʼn rukkie wakker en het sy oë oopgemaak. Hy wou egter met alle geweld van die hospitaalbed afklouter en het in die proses een van die susters ʼn harde skop gegee,” het Nico se ma, Mary (37), Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê hulle moes Nico daarna weer ʼn ligte verdowingsmiddel toedien om te verhoed dat hy nie die breinsensors en suurstofmasjien waaraan hy gekoppel is, afruk nie.

“Hy is nog gedeeltelik afhanklik van ʼn suurstofmasjien, maar kan self asemhaal. Sy bloedtellings lyk ook goed. Hy gaan nog tot vanaand onder ligte verdowing gehou word en behoort teen môre heeltemal wakker gemaak te word en van alle masjiene afgehaal te word.”

Nico sal na verwagting Woensdag vir ʼn MRI-skandering gaan waarna vasgestel sal word of hy enige permanente skade opgedoen het.

Maroela Media het Maandag berig Nico se ouers woon sedert Oktober by sy pa, Neels (35), se broer op Sundra in Mpumalanga, waar Nico byna in die swembad by die huis verdrink het.

Mary was omstreeks 16:00 in die kombuis besig om die kinders kos te gee, toe sy ʼn oproep ontvang oor ʼn familiekrisis.

“Die sein is baie swak in die huis en ek moes buite toe gaan vir beter opvangs en is by die voordeur uit,” het Mary Maandag baie emosioneel gesê.

Terug in die huis het sy besef Nico is nie in die kombuis of by sy pa nie. “My eerste reaksie was om in die swembad te gaan kyk. Hy het by die agterdeur uitgeglip terwyl ek buite was en in die swembad geval. Ek het hom daar aan die diep kant sien dryf. Hy was blou en pap.”

Dit is nie bekend hoe lank hy in die water was nie. Mary het dadelik om hulp geroep en Nico uit die water gehaal. Neels het begin noodhulp toepas terwyl Mary hulp oor die gemeenskapsradio ontbied het.

“Help asseblief, my kind is dood, my kind is dood, Here help asseblief!” het Mary histeries oor die radio geroep.

Binne ʼn minuut was Derek Bester, voorsitter van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs en Derek Meyer, ook van die buurtwag, by die erg getraumatiseerde ouers.

Hulle het dadelik noodhulp toegepas en Nico na die Parkland-hospitaal geneem waar hy verdere behandeling in die ongevalle-eenheid ontvang het. Die hele gemeenskap het in dié tydperk vir Nico gebid en sy toestand het wonderbaarlik verander nadat hy by die dood omgedraai het.

Nico se ouers het nie ʼn mediese fonds nie en duisende rande moes daarna inderhaas ingesamel word om hom in die hospitaal se waakeenheid te laat opneem. “Ons het weer die gemeenskapsradio ingespan om skenkings te vra en ek het begin huil toe ek die reaksie sien,” het Bester aan Maroela Media gesê.

Hy het gesê die gemeenskap het in rye by kitsbanke gestaan om geld te trek om aan die gesin te skenk vir Nico se mediese onkoste. Meer as R80 000 is binne ʼn paar uur ingesamel en Nico is na die waakeenheid oorgeplaas.

Bester het gesê die buurtwag behartig steeds ʼn fonds wat gestig is om met Nico se mediese onkoste te help. “Daar is egter nog baie onkoste. Ons het tans net genoeg om hom vir twee dae in die waakeenheid te hou en dus duur ons poging om fondse in te samel voort.”

Hy het verder gesê dit was wonderlik om te sien hoe die gemeenskap in ʼn tyd van nood saamgekom het om die lewe van ʼn kind te red en hy het die hele gemeenskap uit die diepte van sy hart bedank.

Enigiemand wat wil bydra tot Nico se mediese onkoste kan Bester kontak by 082 923 7027.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Conrad ·

MAAR wanneer gaan ons leer om swembaddens toe te maak?
Is daar nie wetgewing dat swembaddens omhein moet word nie?

sarie ·

wanneer gaan ons leer om nie te oordeel nie, ‘n ongeluk gebeur so vinnig en kan met enige iemand enige tyd gebeur. Ons bid saam hierdie familie dat klein Nico nie enige skade sal oorhou nie!! Dat hy een van die dae weer kan rondhardloop! ??

lettie ·

Dankie Here dat u hom gespaar het en mag sy herstel volkome wees.

se maar net ·

Stem saam met jou Conrad, daar is nie n verskoning nie, daai swembad moes beveilig gewees het voordat die seuntjie soontoe getrek het. Dit is nie oordeel nie, dit is feite. Ek is bly dit gaan beter, en ek hoop hy word heeltemal gesond, maar sonder om snaaks te wees, kyk wat kos dit nou?
Baie meer as n ordentlik beveiligde swembad, en dan praat ek nie eers van die pyn en ongerief waarin die arme seuntjie hom bevind nie.
Klein seuntjie, ek hoop jy is sommer gou beter en terug by die huis, waar die swembad nou hopenlik toegemaak is met n net of sand.

Hannes ·

Nadat ek amper verdrink het as ‘n kleuter, het ek ook ‘n vrees vir water ontwikkel en wou niks weet van swem tot in my tienerjare nie. Laat ons dan ook bid na sy fisiese herstel, ook vir volkome sielkundige herstel. God is groot!

Theresa B ·

Alle eer aan die Here. Om saam te bid vir die ou seuntjie – verrig wondere.

Elize C ·

Bid volkome herstel toe vir die knapie. Hou in gedagte dat ‘n heining om ‘n swembad, soms dien as “leer” vir die kinders om oor te klim, ek het dit al met my eie oë gesien hoe ‘n kleintjie soos ‘n ratse apie oor ‘n normale heining klim, so selfs ‘n stewige knip met ‘n slot aan die hekkie, waarborg NIE dat ‘n kind nie by die swembad gaan kan uitkom nie. Water trek enige kind soos ‘n magneet. Ek sou voorstel dat swembaddens met ‘n seil/net toegetrek word sodra daar nie meer verantwoordelike volwassenes is wat saam met die kinders besig is om te swem nie. Die beste voorsorgmaatreël vir tragedie: vat die bron van die probleem WEG, met ander woorde: maak die water geheel en al onbereikbaar, om dit bloot “af te kamp” dien geen doel nie. Baie sterkte vir die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.