Dokters sê vandag oor veloorplanting vir baba wat met olie brand

Jaydené Croucamp voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Klein Jaydené Croucamp wat ʼn week gelede met kokende olie gebrand het se verbande sal na verwagting vandag afgehaal word sodat dokters haar wonde kan ondersoek.

Dokters behoort dan te kan bepaal wanneer die 14 maande oue dogtertjie ʼn veloorplantingsoperasie sal ondergaan wat moontlik nog dié week sal gebeur.

Chantelle Botha, Jaydené se tannie, het Maandag aan Maroela Media gesê Jaydené word steeds in die waakeenheid van die Dora Nginza-hospitaal in Port Elizabeth behandel.

“Hulle hou haar nog soms onder ligte verdowing, maar wanneer sy haar ma se stem hoor, reageer sy. Sy kan haar koppie al so ʼn bietjie knik om ja of nee te sê en haar ogies is al mooi oop,” het Botha gesê.

Sy verduidelik dat Jaydené se wonde nog heeltemal met verbande toegedraai is en hulle daarom nog nie weet hoe haar vel lyk nie. “Sy het wel nog baie pyn en hulle hou haar konstant op pynmedikasie. As sy nie verdoof is nie, is sy woelig, skop haar beentjies en probeer die drup in een van haar bene uithaal.”

Maroela Media het vroeër berig Jaydené het brandwonde oor 30% van haar lyf opgedoen nadat sy verlede Sondag ʼn braaipan met kokende olie op haarself omgetrek het. Sy het brandwonde aan haar bors, rug en gesig opgedoen, waarvan sommige derdegraadse brandwonde is.

Jaydené is onmiddellik ná die voorval eers na die Livingstone-hospitaal gehaas waar die gesin na die Dora Nginza-hospitaal verwys is omdat dié hospitaal glo beter toegerus is om brandnoodgevalle te hanteer.

Volgens Botha is dit vir Jackie, Jaydené se ma, ʼn baie moeilike tyd en sukkel sy om buite die hospitaal se besoektye nie by haar kind te wees nie. “Hulle is baie streng by die waakeenheid en net Jackie en Ricardo [Bester, Jaydené se pa] word by haar toegelaat. Dit is verstaanbaar en goed dat hulle so streng is, maar die naweek het Jaydené begin huil toe Jackie loop en dit is vir haar baie moeilik om haar dogtertjie agter te laat.”

Sy het bygevoeg die ondersteuning wat die familie selfs van vreemdelinge ontvang, help om dié moeilike tyd draagliker te maak. “Ons weet daar is so baie mense wat aan Jaydené dink en vir haar bid en ons is so dankbaar daaroor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Blackie ·

Sjoe, in ‘n oogwink kan dinge so verskriklik skeefloop. Baie sterkte met julle lang pad van herstel.

Jannie ·

Jaydené, ons dra jou in gebed op aan ons Almagtige GOD, in die kosbare naam van ons Verlosser, YASHUA!! Vir HOM is ALLES moontlik!! Seënwense, my kindjie!!!!

Lené Geyser ·

So iets gebeur so vinnig! My dogtertjie het twee maande gelede met kookwater gebrand toe sy haar ouma gehelp het om koffie te maak. Genadiglik het sy net op haar armpie en ‘n klein plekkie op haar borsie gebrand, maar dit kon soveel erger gewees het. Vandag is daar net ‘n klein merkie op haar arm en dit word elke dag beter. Net genade van Bo! Ek bid baie hard vir hierdie lyfie vir genesing. Almal wat wil kritiseer moet asseblief weer dink. Dit gebeur in ‘n oogwink en is beslis nie enige iemand se skuld nie. Glo my, die ouers voel skuldig genoeg. Mens herleef daardie oomblik soveel kere en elke keer wens jy dat jy iets anders kon doen. Kom ons bid eerder vir haar en haar ouers!

Elize ·

Ek is bly om te hoor sy vorder so goed ons Hemelse Vader se hand is oor haar glo net en vertrou die dat sy reageer op stemme se al klaar daar is beterskap sterkte en ons drae haar op in ons gebede dit is n lang pad na herstel maar glo dit sal ook verby gaan sterte aan julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.