Dokters ‘tevrede’ ná Clive Bruce se hartoperasie

Clive Bruce. (Foto: Facebook)

Clive Bruce, die country-legende ook bekend as die “Midnight Cowboy”, het Sondag ʼn hartoperasie ondergaan en sterk tans in ʼn Gautengse hospitaal aan.

Volgens Mara van den Bergh, Bruce se bestuurder, het hy Maandagoggend sy oë oopgemaak en is dokters “tevrede” met sy vordering.

Bruce (72) is verlede Dinsdagaand na ʼn hospitaal gehaas nadat hy borspyne gekry het. Dokters het ʼn angiogram uitgevoer wat getoon het dat sy koronêre are baie verdik is en dat dit te ernstig is om ʼn stent te oorweeg.

“Die torakale chirurg het met my gesels en verduidelik dat ʼn operasie noodsaaklik is. Dit sal volgende week plaasvind. Intussen moet ek vir ʼn kort tydperk ná die operasie in die hospitaal bly,” het Bruce verlede week via sosiale media gesê.

Bruce was destyds bekend as aanbieder van die country-musiekprogramme Sing Country en Rewind. Hy het ook in sy loopbaan van sowat vyf dekades die verhoog gedeel met country-sangers soos Lance James, Barbara Ray, Bobby Angel, Billy Forest en Sally Vaughn. Virginia Lee is sy stiefma.

“Hou aan bid asseblief, dit was ʼn baie groot operasie,” het Van den Bergh op Facebook gesê.

Bruce het in Desember verlede jaar ook ʼn noodoperasie ondergaan nadat hy ʼn abdominale aorta-aneurisme opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.