Dokters ‘verheug’ oor diensjaarplasings

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hush Naidoo/Unsplash)

Duisende junior dokters het eindelik uitgevind waar hulle in Januarie vir hul verpligte gemeenskapsdiensjaar moet aanmeld. Dít volg nadat ʼn groep dokters en ʼn aantal organisasies die departement van gesondheid gedreig het met regstappe indien die plasings nie eersdaags bekend gemaak word nie.

ʼn Aantal junior dokters het aan Maroela Media gesê hulle het ʼn reusesug van verligting geslaak nadat die departement laat Vrydagaand die goeie nuus met hulle gedeel het – dat hulle inderdaad volgende jaar ʼn werk sal hê.

“Ek is by die hospitaal van my keuse geplaas, so natuurlik is ek so bly dat dit nou afgehandel is,” sê een dokter wat verkieslik anoniem wil bly.

“Ek is dankbaar en verlig dat ek werk het. Ek is in ʼn goeie gebied geplaas en kon regtig vir niks beter gevra het nie. Ek is regtig bevoorreg,” sê ʼn ander junior dokter.

Verskeie dokters het verlede week hul misnoeë oor dié situasie uitgespreek en selfs gesê dat hulle dit oorweeg om oorsee te gaan werk, waar ʼn gemeenskapsdiensjaar nie verpligtend is nie. ʼn Groep junior dokters wou ook die departement hof toe sleep hieroor.

Ondanks die goeie nuus dat meeste dokters nou hul plasings ontvang het, is daar steeds ʼn handvol dokters wat nog nie weet wat die toekoms inhou nie. Dit is ook nie duidelik wanneer hulle eindelik hieroor sal hoor nie.

“Dit lyk nou asof almal momentum verloor het om die departement hieroor te beveg, aangesien die meeste van die dokters nou uitgesorteer is. ʼn Mens voel skuldig dat jy nou ʼn werk het.”

Geplaaste dokters se bekommernisse is egter nog nie iets van die verlede nie. Hulle is nou bevrees dat hulle dalk vir maande aaneen ten duurste vir verblyf moet betaal, aangesien die departement so lank gesloer het met die plasings en hulle nou op die nippertjie verblyf moet soek.

“Soveel plekke is nie meer beskikbaar nie of sal eers later die jaar beskikbaar word. Ek moet voor die einde van die maand uit my huidige verblyf wees, maar het geen idee waar ek dan gaan intrek nie,” vertel een dokter.

“Meeste huurkontrakte vereis nou dat jy ʼn bewys van werk lewer, maar ons finale plasings is nog nie eers gefinaliseer nie so ons sal eers na verwagting teen 27 Desember – wanneer al die uitruilings onder mekaar en appèlle teen die plasings gemaak word afgehandel is – ons werkskontrakte ontvang,” sê die ander dokter.

“Ek werk ook nog regdeur Desember en kry net 31 Desember af om na my nuwe verblyf te trek. Daar is nog groot uitdagings wat voorlê.”

Talle aptekerinterns sit boonop ook steeds hande in die hare, aangesien hulle nog nie weet wat die toekoms vir hul diensjaar inhou nie. Dié pas afgestudeerde aptekers sal ook nie kan werk voordat hulle ʼn diensjaar voltooi het nie en anders as in die dokters se geval, lyk dit of die aptekersraad hulle nie veel steur aan dié jong mense se pleidooie nie.

Dié interns is uit die bloute in Oktober in twee groepe verdeel, waar groep een reeds einde Oktober gehoor het waar hulle volgende jaar hul diensjaar sal doen. Die ander groep, wat ʼn onbekende aantal aptekerinterns insluit, is steeds nie geplaas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lindi ·

Ek weet darem of ek in een van die “dokters” se pasiente wil wees nie. Ek vertrou die SA opeidings stelsels net mooi niks.

Elinette ·

Glo my, as jy siek is en jy het nie privaat mediese fonds nie, sal jy maar alte bly wees om deur een van hierdie “dokters” (soos jy hulle noem) behandel te word. Ek maak gebruik van staat-mediese sorg en omtrent ál die dokters by ons gemeenskapssorgkliniek is “gemeenskapsdiensjaar” dokters. Hulle IS volwaardig gekwalifiseer en funksioneer onder ‘n senior dokter en spesialiste.

Casper ·

Ek glo jy sal na sekere dokters toe kan gaan sonder vrees maar van die ander bly jy weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.