Dokters wag steeds op plasing ondanks minister se versekering

dokter

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Meer as 200 dokters wat hul internskappe suksesvol voltooi het, wag nog steeds om vir gemeenskapdiens geplaas te word.

Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê hierdie toedrag van sake weerspreek dr. Joe Phaahla, die minister van gesondheid, se stelling op 5 Februarie dat “almal wat in aanmerking gekom het om gemeenskapdiens te begin geplaas is”.

“Luidens verskeie klagtes sê personeel van die internskap- en gemeenskapsdiensprogram bloot ‘dat daar geen beskikbare poste is’ wanneer hulle vir inligting en bystand gekontak word nie.

“Die DA sal aan die minister skryf en ʼn opdatering aanvra oor sy belofte dat al die 800 werklose dokters teen 1 April vanjaar op ʼn permanente basis as Graad 1 Mediese Beamptes aangestel sal word.”

Volgens Clarke staan die huidige nasionale werkloosheidkoers vir mediese beamptes op 14,2%. Die meeste hiervan is in die Vrystaat (23,7%), gevolg deur KwaZulu-Natal (20,37%) en Noordwes (22%).

Die nasionale gemiddelde werkloosheidskoers vir verpleegsters is 14,7%, die koers vir sielkundiges staan op 24,36% en vir psigiaters (Gauteng uitgesluit) op 41,89%.

“Dít terwyl algemene mediese dokters, inwonende mediese beamptes, spesialiste in noodgeneeskunde en spesialiste in algemene medisyne almal op die 2024 nasionale lys van beroepe in hoë aanvraag gelys is.

“Hierdie lys sluit ook spesialiteitsverpleegkundiges en kliniese sielkundiges onder die vele mediese beroepe in,” sê Clarke.

Clarke meen die ernstige personeeltekorte is weens begrotingsbesnoeiings.

“Dit het ʼn geweldige impak op die lewering van gesondheidsdienste, wat beide pasiënte en die mediese professionele persone, kwesbaar vir verswakkende fisieke en geestelike gesondheid laat.

“Die minister se leë beloftes dra net by tot die stres van Suid-Afrikaanse mediese beroepslui, of hulle nou gesoute medici of interns is.

“Dit is duidelik dat die ANC-regering se enigste plan is om kaders te ontplooi vir hul diep gebrekkige Nasionale Gesondheidsversekeringskema (NGV),” sê Clarke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Maar ons moet miljarde betaal vir ‘n paar Kubane wat iewers in die provinsie “werk” waar niemand mekaar verstaan nie!!!! Ek wil nog steeds weet wat van die Kubane geword het wat tydens covird ingevoer is. Ons het nog van die beste mediese sorg in die wêreld, maar as dit so aangaan gaan ons regtig niks hê nie. Ek kan nie verstaan dat ons regering eers buitelanders in diens neem nie en ons eie mense moet honger lei nie!! En dan nog lieg oor die poste wat gevul is nie. Daar is kwansuis nie geld om die 800 mediese personeel aan te stel nie maar hulle wil die NGS deur stoomroller en op ons afdwing!!! En alles agv ‘n verpligte zumajaar!!!!

Papsak ·

Ja kyk hoeveel ordentlike dokters wag om uit geplaas te word maar nee Kubaanse dokters word vir ons gegee hulle verstaan niks nie so werk die anc regering klomp lieg bekke

Jolanda ·

Ja, en as hulle gemeenskapsdiens jaar klaar is, sukkel hulle weer om iewers werk te kry. My kind is besig met haar gemeenskapsdiens en moet ten duurste die een kursus na die ander doen in die hoop dat sy werk gaan hê volgende jaar. En as hulle aspirasies het om te spesialiseer is hulle weereens onderhewig aan kwotas en keuring. Na ‘n harde 9 jaar om onafhanklik te kan praktiseer is daar waarskynlik net een pad vir hulle en dis die buiteland.

domheks ·

Hoog tyd dat cANCer uit gestem word. Lieg en bedrieg so ver as wat hulle gaan!

Dries ·

Dr Joe is nog besig om tee te drink, en met Kuba te gesels om meer dokters na SA te stuur, want die ANC skuld hulle.

Ryan ·

Anel (lena), jy het soos gewoonlik geen idee waarvan jy praat nie. Jou “miljarde”, is eintlik miljoene. Die meeste van dié dokters werk by Tembisa hospitaal, en almal praat vlot Engels.

ES ·

Die mediese veld is een van die belangrikste velde waar jy nie ‘n kader kan indruk nie. Dis hoekom dit gaan in die staatshospitale soos wat dit gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.