Dokumentêr vertel ander kant van geskiedenis

AfriForum/Facebook

AfriForum/Facebook

ʼn Vereenvoudigde verhaal van ʼn bose wit regime teen die heilige ANC is vir jare gehandhaaf en geen ruimte is gelaat vir ander helde nie.

Só het Mangosuthu Buthelezi van die IVP Woensdag tydens die bekendstelling van die burgerregte-organisasie AfriForum se lokprent vir hul eerste dokumentêre film, Tainted Heroes, gesê.

Die dokumentêr, oftewel feitefilm, handel oor kenmerkende dele van die geskiedenis van Suid-Afrika tydens die apartheidsjare, maar beloof om ʼn “kant van die verhaal wat ontbreek in geskiedenisboeke te vertel”.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum en medevervaardiger van die dokumentêr, het verduidelik dat die idee vir Tainted Heroes ontstaan het nadat AfriForum beeldmateriaal van oudpolisielede ontvang het wat tydens die apartheidsjare gedien het. Roets het in hierdie tydperk dr. Anthea Jeffrey se bekroonde boek, The People’s War, gelees, wat volgens hom hierdie beeldmateriaal in perspektief gestel het.

Hy het verder gesê dat ʼn uittreksel uit ʼn hoërskool-geskiedenisboek, waar daar na die Inkhata-Vryheidsparty (IVP) verwys word as “ʼn jaloerse organisasie wat die ANC se lede wou doodmaak”, hom finaal oortuig het dat ʼn ander deel van die geskiedenis vertel moet word.

“Die dokumentêr se doel is nie om ʼn anti-ANC-rolprent te wees nie. Die stryd rondom die geskiedenis het die afgelope tyd ernstiger geword. Ons sien dat die ANC-regering al meer aggressief en sensitief is oor ʼn spesifieke weergawe daarvan, daarom is dit belangrik om hierdie geskiedenis in perspektief te stel.”

Roets het aan Maroela Media gesê ʼn bykomende doel van die dokumentêr is om Afrikaners meer selfvertroue te gee wanneer daar oor hul rol in die geskiedenis gepraat word. “Daar is nog altyd gesê dat een deel van die samelewing almal boos was en die res almal helde. Ons moet die persepsie ook net weer in perspektief stel.”

Dr. Anthea Jeffrey, senior navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR), Strike Thokoane, adjunkpresident van Azapo en eertydse leier in die Black Consciousness Movement, sowel as Buthelezi het as sprekers opgetree tydens die bekendstelling.

Thokoane het gesê dat dié deel van die geskiedenis lankal reeds gedeel moes word. “Ons het gevoel soos vrouens wat verkrag is, maar nie die verhaal mag vertel het nie omdat iemand in ons eie familie dit aan ons gedoen het.” Hy het aan Maroela Media gesê hy hoop die dokumentêr sal verseker dat meer waarhede van die verlede vorendag kom. “Ons deel hierdie stories uit ʼn opregte poging om ons land te bevry.”

Jeffrey het gesê die kritiese doel van die ANC was nie slegs om die Nasionale Party te oorwin nie, maar ook om hul swart vyande te oorwin. “Die  ANC wou die enigste organisasie wees wat alles beheer en sodoende uitsluitlik vereer word.”

Buthelezi het aan die gehoor gesê dat die IVP nie tydens die apartheidsjare vir die ANC geveg het nie, maar vir Suid-Afrika. “Ons het geveg vir ʼn toekoms waarin ons land ware versoening kon ervaar, nie net tussen wit en swart nie, maar ook tussen swart en swart. Ons fokus bly gevestig op eenheid, vrede en vryheid.”

Buthelezi het gesê dat ʼn vereenvoudigde verhaal van ʼn bose wit regime teen die heilige ANC vir jare gehandhaaf is. “Geen ruimte is toegelaat vir enige ander protagonis nie. Die boodskap wat aan die plaaslike en internasionale gemeenskap oorgedra is, is dat lede van die ANC die enigste helde in die apartheidsjare was.”

Buthelezi, wie se lewe gereeld in gevaar was tydens die apartheidsjare, het gesê dat die land 21 jaar ná demokrasie steeds in oorlog verkeer. “Hoewel ons nie veg met gewere nie, is ons stryd teen korrupsie, armoede en ekonomiese krisisse. Ons oorlog is een teen swak leierskap in Suid-Afrika.”

Die ekonoom Dawie Roodt, wat ook die geleentheid bygewoon het, het aan Maroela Media gesê dat hierdie deel van die geskiedenis nou met die land gedeel móét word. “Dit is baie belangrik dat die regering besef hierdie land bestaan nie net vir hulle nie, maar dat hulle die dienaars van die land is.”

Roodt het gesê dit is tyd dat mense besef die regering bestaan nie net uit vlekkelose helde nie, maar ook mense wat foute begaan. Hy is ook van die mening dat die dokumentêr beslis op tone gaan trap. “As jy ʼn jakkals hoor skree, dan moet jy weet die skoot was raak en ek dink ons gaan baie jakkalse hoor skree.”

Forum Films is van voorneme om Tainted Heroes in Januarie 2016 vry te stel. “Ek is besonder trots op die manier waarop die film vervaardig is; ek dink dit is ʼn dokumentêr van wêreldgehalte,” het Roets gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Christa venter ·

Ek was getaak om die afgelope jaar Geskiedenis as vak vir die Graad 10 leerders aan te bied. As jy nou wil wanvoorstellings sien moet jy daardie handboeke bekyk. Ek het vir my hoof gesê as sy my wil verloor moet sy dit weer vir my gee. Dit skreeu teen jou grein in. Alles is verdraai.

Johannes ·

Hi Christa, ons het dalk juis mense soos jy nodig wat ons kinders die waarheid sal leer en die verdraaiing sal uitwys…?

Maar ek deel jou frustrasie. Die leuens wat in ons kele afgedruk word (en wat so baie Afrikaners glo) is skreiend!

Leendert van Oostrum ·

Dit gaan oor ver meer as Geskiedenis.

Tot selfs in Wiskunde is die voorbeelde daarop gemik om konflik op grond van ras, klas en geslag op te sweep. Ook in Geografie, biologie (uitbuiting van die omgewing ten koste van die “onderdruktes”) ens.

Die hele “CAPS” stelsel en sy voorgangers is sedert 1996 gebou op die sogenaamde “Kritiese Pedagogiek”, ‘n uitvloeisel van die Neo-Marxistiese kritiese teorie as instrument om sosiale verhoudinge te ontleed en beskryf.

Een van die vaders van die Kirtiese Pedagogiek was Prof Paulo Freire van Barizië. Die titel van sy bekendste boek verduidelik wat in die SA onderwysstelsel gepleeg word: “‘n Pedagogiek van die Onderdruktes”.

Vir die huidige onderwysstelsels om aan sy doel te beantwoord moet mense (kinders) geleer word dat hulle onderdruk is en word. Daarom word feitelike gegewens altyd ondergeskik gestel en relatief tot die politieke doel van die onderwysstelsel gesien.

Die tragedie is dat Afrikanerouers hul kinders aandra na “Afrikaanse” skole wat volgens die kritiese pedagogiek ingerig is, en selfs daarop aandring dat hul kinders “op standaard” met die stelsel gehou word.

En die oorgrote meerderheid Afrikaanse onderwysers het nie die insig wat Crista Venter openbaar nie. Hulle toi-toi liewer saam met Cosatu vir hoër salarisse.

Tdw ·

@Leendert van Oostrum.
Baie dankie vir hierdie interessante kommentaar. Ek gaan verseker meer hiervan op lees. Ek was glad nie bewus hiervan nie.

Berhalet Beukes ·

Ek wonder of al die vooraanstaande geleerdes dit goedkeur om verdere rasse haat te bevorder? Wat HET ek, of die kinders van vandag te doen gehad met apartheid? Tog is dit is, wat aangeval, verkrag, vermoor, besteel en op barbaarse maniere verniel word? Waar trek ‘n mens die lyn en begin weer heel word? Of wil ons slim ekonome totale wanorde veroorsaak? Wil ons regering algehele uitwissing van blankes hê? Wat gaan genoeg wees?

Berhalet Beukes ·

Verdraai masr alles… God SIEN alles, WEET alles en sal alles OORDEEL… En al poog mense on GOD se Woord ook te verdraai… GOD IS ALLES… En dis wat ek van verdere rasse haat aanvuuring dink… Want dis al wat hierdie film gaan bereik… Verdere tragedies!

Johan 2 ·

Berhalet ons word “ge-nazifiseer” deur eensydige vertelling v die geskiedenis en as iemand nie die geskiedenis reg vertel en verdedig nie is daar GEEN toekoms vir Afrikaners (of julle linkse klomp engelse) in SA nie.

pop ·

Kan die film ook in arm landelike gebiede vertoon word sodat die wat net ANC hoor dit ook kan sien. GROOT ASB.

Agnes ·

Is dit nie verregaande dat die meeste inwoners van n land so teen hul regering is en tog bly hulle aan bewind? Is dit reg? Kyk na Zim. Die meeste vrees hul leier Mugabe, toch kan niemand hom onttroon nie. Is dit demokrasie of is dit demonkrasie?

Annes ·

is dit nie onvoorstelbaar dat die meeste inwoners van n land teen hulle regering is en tog bly hulle aan bewind? Hoe werk dit? Noem n mens dit demokrasie of demonkrasie? RSA en Zim is perfekte voorbeelde hiervan. Niks en niemand kan en mag iets doen, hoekom moet almal so sukkel onder hierdie gespuis van ons regering en stil bly. A nee a dit kan mos nie so werk nie?

Emile ·

Ek het so gehoop dat iemand hierdie boek sou verfilm. Dus baie bly en dankbaar dis gedoen. Vertrou dat dit wyd en gratis beskikbaar gestel sal word om ‘n gebalanseerde sy van hierdie periode in die land se geskiedenis te stel.

Baie dankie Afriforum.

Bruno Stef ·

Daarvan kan ek persoonlik getuig.Themba Khoza as Inkatha leier het in Soweto alleenlik hulle self verdedig teen die ANC aanslag.Ek het soveel kere tussen groot groepe swaar gewapende Inkatha lede met n voertuig ingery om met die Indoena se goedkeuring sekere take in die hostelle te verrig en nie een van die Inkatha lede het ons eers gedreig nie hulle was inteendeel baie vriendelik.Die groot gevaar was in Soweto se strate met hulle onverdraagsaamheid teenoor blanke mense en hulle SG rewolusie.

Maga ·

Stef stem saam. My hart was net so hartseer om die verdraaide sogenaamde geskiedenis in skoolboeke te moet lees. My pa het jare met hostels in Kzn gewerk nooit bedreig gevoel net waardeering selfde met my man en ek in Amatikulu was nooit bang net dankbaarheid was reaksie. Danki vir boek en wat volg.

Theo ·

Gelukkig ken ons die vader van die leuen. Dankie AfriForum deur daad by jul woord te sit.

Sarie ·

@ Christa Venter. Èk sal dit beslis niè kan doen nie. Ek sal voel soos ‘n landsverraaier! Ons was plaasmense & my moeder moes maar “dokter” speel wanneer nodig. Sy het deur die jare talle babas “gevang” & elke dag vir 8 tot 10 dae nà die bevalling, die baba gaan bad & beide moeder & baba versorg… Ons was geleer om hulle menswaardig te behandel. Ons huishulp se dogtertjie was my enigste maatjie nà skool, want ek het saam met 3 broers groot geword & die plase was vêr uitmekaar. Ek het bàie goeie herrinneringe aan daardie dae. Ek is in ’44 gebore & daar was gèèn onmin tussen ons en die werkers nie, inteendeel… Hulle was bàie betroubaar & nie èèn van hulle sou òòit, ‘n vinger op een van ons lê nie. Ons het elke 2de week ‘n boerbok of skaap geslag & inni winter is daar gròòt geslag. Bees & vark. Vir Sondae was daar ‘n behoorlike skrop-hoender of skaapboud, wildsvleis ens. Ons het vleis, groente & vrugte, in oorvloed gehad, & ons werkers het dan hul deel vd vleis gekry & sò kan ek aangaan. Èk weet nie wààr die vreeslike stories vandaan kom nie, want op ons plaas was dît beslis niè hoè dinge gedoen is nie!!!

Paul ·

Sarie,
Ek kan onthou van my vakansie kuiers op my oupa se plaas elke jaar (50’2 en 60’s) dat die verhoudinge baie goed was en dat die meer konserwatiewe boere hul werkers die beste behandel het en wanneer nodig probleme met die stamkaptein gaan uitklaar het. Waar daar altyd geskree en gevloek was, kon jy seker wees dit was ‘n Broederbonder of ‘n Sap wat die bakleiwerk gedoen het. Die houding van die klompie was selfs vir ons kinders opvallend en dan moes oupa verduidelik hoekom die mense so sleg optree.

Leendert van Oostrum ·

Bravo, Afriforum – en Anthea Jeffreys!

Uitstekende skuif.

JohannV ·

Ek was bevoorreg om die dokkie te sien tydens Afriforum se nasionale kongres. Al wat ek vir ieder en elk kan sê is: GAAN KYK DIT!!! Eers dan sal jul besef wat ons vandag sien en ervaar is presies dieselfde as in daardie jare. Ek is GATVOL dat my drie kinders wat almal ook “vrygeborenes” is onder twak soos regstellende aksie moet lei!! Die poppe gaan nie dans as almal hierdie dokumentêr gesien het nie, die ANC se wiel gaan draai…

Louis ·

Kan ons nie n boek uitbring wat die ware geskiedenis van die land vertel nie en begin by die Boesmans asb. Dis al hoe ons belans kan kry en dat ons kinders weet wat aangaan. My kinders is nou in graad 5 en 2 en ek kannie die gemors hanteer wat hulle moet leer nie en ook die snert oor geloof. Ek verbied hulle om dit te leer.

SNEL ·

Ja, daai verskillende gelowe was vir my ook net te erg wat die kinders moet leer. Ek dink hulle wil ons kinders se koppe draai met dit.

Johannes ·

Baie dankie aan Afrforum – ek sal dit graag wil sien. Ek is net effens telleurgesteld dat dit lyk of Afriforum nou vure probeer doodslaan deur te sê dat die dokumentêr nie “anti-ANC is nie”. Wat IS dit dan? En behoort dit nie JUIS anti-ANC te wees nie? Anders is dit soos om ‘n film te maak wat ISIS se terreur, misdade en geweld uitwys maar dan voor te hou dat die film nie “anti-ISIS” is nie. Daar was en is steeds net mooi niks goeds aan die ANC nie! Dis tyd dat die wêreld dit besef.

Ek hoop van harte die dokumentêr sal ook vir ‘n slag die waarheid oor Mandela, Sisulu, Thambo, Biko en al die sg. “helde” uitwys. Ek is net mooi GATVOL om te moet hoor hoe wonderlik Mandela en sy maatjies was. En moenie eers die “1994 versoening” storie probeer nie. Mandela en sy anti-Christelike, kommunistiese ANC het net mooi niks goed vir Suid Afrika beteken nie.

Ryan Kommentaar ·

Weer ons en hulle, hulle en ons. Swart en wit, wit en swart……en tog is almal Afrikaners…..want Afrikaners is van Afrika.

Wit is goed en swart is sleg, swart is goed en wit is sleg. Wie soek ware oplossings en versoening?

Hulle se apartheid is verby en alles is reg, julle se die gevolge van apartheid is nog hier. Wie bewerkstellig ware oplossings en versoening?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.