Dokumentêre reeks gee blik op Kaapse blommeverkopers

In ‘Blomdraers’ word die geskiedenis van die blommeverkopers in die Kaap verken en is die fokus veral op die 150 jaar oue blommemark in Adderleystraat. (Foto: kykNET)

Fadielah Gamildien, of Deelia soos vriende en familie haar noem, is ʼn blommeverkoper van Kaapstad se Trafalgar-blommemark wat verlede jaar kykNET-kykers laat glimlag het met haar pittige sêgoed tydens ʼn episode van Die Siener met Gerald Burger.

Kykers kan binnekort meer van Deelia sien in ʼn dokumentêre reeks, Blomdraers, wat eersdaags op kykNET uitgesaai word. Die reeks bestaan uit slegs twee dele.

“Blomdraer” is die naam wat Deelia en die ander blommeverkopers van Adderleystraat in Kaapstad dekades gelede vir hulself gegee het. In Blomdraers word die geskiedenis van die blommeverkopers in die Kaap verken en is die fokus veral op die 150 jaar oue blommemark in Adderleystraat.

Fadielah Gamildien, of Deelia soos vriende en familie haar noem, is ʼn blommeverkoper van Kaapstad se Trafalgar-blommemark. (Foto: kykNET)

Daar word gekyk na die roete van blomme na die mark – vanaf die plase in Gauteng tot die blommeveilings by Multiflora in Johannesburg en die uiteindelike aankoms by Adderleystraat in Kaapstad. Kykers ontmoet ook vir Cecilia, die oudste blomdraer op die mark.

Deelia se gesin, wat sewe kinders en ʼn kleinkind insluit, maak ook deel van die reeks uit – en almal woon saam in hulle beskeie huis in Grassy Park. ʼn Tragiese voorval wat ʼn ruk gelede Deelia se gesin geruk het, sal kykers se harte aangryp.

Blomdraers openbaar vir die eerste keer op televisie die ware storie van die legendariese blommeverkopers van die Kaap,” verduidelik Rian van Heerden, vervaardiger van die reeks.

“Hoe het die blommemark ontstaan, wat was die verkopers se invloed op die Kaap, sy flora en sy mense deur die dekades en hoe het blomdraer Fadielah Gamildien daarin geslaag om die datum van die parlementsopening te skuif? Kykers moet beslis nie die ware verhaal van hierdie fassinerende en innemende karakters misloop nie.”

Blomdraers saai op Woensdag 30 Desember 2020 en 6 Januarie 2021 om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.