Dolfyn gered wat by Jeffreysbaai strand

Foto: NSRI Jeffreysbaai

ʼn Dolfyn is Saterdag in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap gered toe hy op rotse gestrand geraak het.

Ernie Schmidt, van NSRI Jeffreysbaai, het gesê die Nasionale Seereddingsinstituut is die middag omstreeks 13:00 deur lede van die publiek na Lower Point ontbied. “ʼn Volwasse dolfyn het op die rotse gestrand geraak. Twee jong vissermanne en lede van die publiek het tevergeefs probeer om die dolfyn weer in die see vry te laat.”

Schmidt het bygevoeg die dolfyn het skrape en snyplekke op sy vinne gehad wat hy vermoedelik opgedoen het toe hy op die rotse beland het.

Die Marine Animal Stranding Network en ʼn veearts is ook na die toneel ontbied.

Die veearts het bevestig die dolfyn is steeds in ʼn goeie toestand, ondanks die geringe seerplekke. Lede van die publiek het die NSRI gehelp om die dolfyn agterop ʼn bakkie te laai en hy is na Dolphin Beach vervoer waar hy op ʼn boot gelaai is en ongeveer 1,5 km van die kusgebied af in die see vrygelaat is.

“Die dolfyn het ʼn paar keer om die boot geswem voor hy sy kop uit die water gelig en daarna in die see verdwyn het. Die NSRI is versigtig optimisties dat die dolfyn oorleef het.”

Die NSRI het die publiek geloof wat hulle op die toneel bygestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Donderstorm ·

In amerika het die dolfyne en walvisse so uitgespoel na ping oefeninge van die vloot nou mag hul nie oefen as daar van hulle in die omgewing is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.