Donasies stroom in vir mediese student

Hendrik Pretorius (Foto: Verskaf)

Skaars drie weke nadat ʼn fondsinsamelingsinisiatief begin is om ʼn mediese student se laaste twee studiejare te finansier, is derduisende rande reeds vir hom ingesamel.

Hendrik Pretorius (23) se ouers kon nie ʼn verdere lening by die bank kry nie en daar was sprake dat hy nie sy studie sou kon voortsit nie. Nou het hy egter genoeg geld om ten minste vanjaar sy klas- en akkommodasie-rekening aan die Universiteit van Pretoria ten volle te dek. Hy is nou in sy vyfde jaar medies.

Michelle Pretorius, Hendrik se ma, is sprakeloos oor soveel mense se goedhartigheid wat gehelp het om haar seun se droom ʼn werklikheid te maak. “Dit is wonderlik om te sien hoe mense wat jy van geen kant af ken nie, wil help. Ek is baie dankbaar.”

Die fondsinsameling op Back-a-Buddy het sedert 12 Februarie R147 000 van die R236 000 wat nodig is vir sy laaste twee jaar se studie ingesamel.

Michelle sê aan Maroela Media hulle kon nie weer ʼn studentelening kry om Hendrik se uitgawes vir die laaste twee jaar te dek nie, nadat hulle vir sy eerste drie jaar studentelenings by verskillende banke gekry het. “Ons moes reeds van ons pensioenfondse laat uitbetaal om vir sy vierde jaar te betaal. Die banke wou nie meer vir ons geld leen nie.” Michelle is ʼn gr.1-onderwyseres in Klerksdorp.

“Ek het met my hande in my hare gesit, want ek het nie geweet hoe ons vanjaar se uitgawes gaan kan dek nie,” het Michelle gesê. “Nadat Hendrik verlede jaar vir ʼn ruk lank in die Wilmedpark-hospitaal in Klerksdorp gewerk het, het ek die dokters gaan vra of hulle nie beurse of lenings vir studente soos Hendrik beskikbaar stel nie.”

Chris Botha, wat ook in die hospitaal werk en al lank vir Michelle ken, sê hy het dadelik met die Back-a-Buddy-fondsinsameling vorendag gekom. Hy, sy vrou en ʼn paar vriende by die hospitaal het dadelik aan die werk gespring.

“Ek was verbaas oor hoe vinnig die donasies ingestroom het. Ons het die fondsinsameling begin en sommer onder ʼn paar vriende versprei. Ons het dit nie eers op Facebook gesit nie,” sê Botha.

Michelle sê Hendrik wou al van skool af medies studeer. Hy is egter nie dadelik vir medies gekeur nie, en het in 2015 aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus begin studeer. “Hendrik het gesê hy sal aanhou bid totdat hy vir medies gekeur word, want dit is sy roeping. Hy het elke oggend en aand op sy knieë gegaan en gebid,” vertel Michelle.

In 2016 is hy vir medies by UP gekeur en Michelle sê hy blink uit in sy studie.

“Hy wil graag in neurologie of as internis spesialiseer. Ek is so trots op hom. Hy is toegewyd en baie hardwerkend,” het Michelle gesê. Bydraes vir sy studies kan hier gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jacobus ·

Sprakeloos as mens die miljoene wat deur studiefonds wat deur hoĕr onderwys wanaangewend word.

Liesbet ·

Fantaties !!! Jong man, ek glo eendag gaan jy dit “pay forward’ aan iemand wat nie medies het nie en wat mediese hulp nodig het xx

Anel ·

Nou hoekom kwelifiseer hy nie vir NAFSA nie? Hy kom elke jaar deur, so hoekom kry hy nie ook ‘n beurs nie? Sy arme ouers gaan die res van hul lewens aan al die lenings af betaal. Sterkte seun, lewe jou droom uit. Almal is nie so gelukkig nie.

Wondermaarnet ·

Anel, soos talle weet ons waaroor dit gaan. Hy is met die verkeerde velkleur gebore. Mag God hom ryklik seën met sy studies en loopbaan as dokter en mag hy terugploeg en ander mediese studente help.

Skim ·

Kwalifiseer hy nie vir NSFAS nie? Derduisende studente wat nie fondse het nie word deur hul onderhou.

Jaco ·

Ongelukkig kan geen fondsinsameling sy velkleur verander nie. Wanneer hy afgestudeer is, gaan hy moeilik werk kry NET omdat hy die “verkeerde” velkleur het.
Asseblief moenie dink hy kan verhuis Australië of Amerika of Europa toe nie. Dis nie vir almal beskore nie en dis duur en vat lank.

Michael ·

Hy kan reeds baie gelukkig voel dat hy medies kan swot in SA met hulle diskriminerende kwota sisteme.

Johan Venter ·

Jaco, hierdie kommentaar van jou sal nie ‘n demper op sy en die donateurs, ook almal wat saam bly is, se entoesiasme en ingesteldheid plaas nie.

Hennie ·

En oor twee jaar is hy ook land uit… Maar ek kan hom nie kwalik neem nie, dis ten minste prima gene wat bewaar word!

Sandra ·

Jaco GELUKKIG sal die Here wat vir Hendrik tot hiertoe mildelik voorsien het, ook n werk voorsien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.