Donasies stroom in vir Steinway-pianis se stemtoerusting

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

Skaars ’n dag nadat ʼn skarefinansieringsveldtog begin is om die bekende pianis Charl du Plessis te help om sy duur klavierstemtoerusting te vervang, is derduisende rande reeds vir hom ingesamel. Dié Steinway-pianis se motor met ingevoerde klavierstemtoerusting van sowat R60 000 is Dinsdag voor sy huis in Colbyn in Pretoria gesteel. Hy het dié stemtoerusting broodnodig omdat hy sedert die inperkingstyd klaviere begin stem het vir ’n aanvullende inkomste.

Sophia Kapp van VivA Afrikaans, ’n goeie vriendin van Du Plessis, het Donderdag die finansieringsveldtog op Back-a-Buddy van stapel gestuur. Sedertdien is meer as die helfte (R30 599,45) van die R60 000 wat nodig word om sy stemtoerusting te vervang, reeds ingesamel.

Maroela Media het vroeër berig Du Plessis het Dinsdagmiddag ’n musiekrepetisie by sy huis gehad. Hy het sy gaste in die motorhuis laat parkeer en hy het sy motor, ’n Volkswagen Polo, buite parkeer. Hy parkeer dikwels buitekant as daar nie genoeg parkeerplek in die erf is nie.

Binne 15 minute nadat hy sy motor buite geparkeer het, het sy tuinier hom geroep en gesê hy sien nie meer sy motor nie. Hy het ’n dag later met ’n skok besef dat sy duur stemtoeruting in sy motor se bagasiebak was.

“Charl lê my na aan die hart en ek weet met die inperkingstyd het hy as kunstenaar swaar getrek. Die geleentheid wat hy met hierdie klavierstemmery vir homself geskep het om ’n ekstra inkomste te genereer, is hom nou ontneem. Ek het gehoop die skarebefondsing sal vir hom ʼn bietjie lig in die donkerte bring,” sê Kapp.

Kapp sê behalwe dat Du Plessis ’n goeie vriend is, het hy ook al baie vir haar in die verlede beteken. Sy vertel hy het in 2019 onder meer vir haar en haar seun kaartjies gekoop om ’n uitvoering van die bekende pianis Evgeny Kissin in die Sala Santa Cecilia-ouditorium in Rome, Italië, by te woon. Kapp en haar seun het in Italië getoer.

“Ek onthou ek het in afwagting in die teater gesit en gewag dat die uitvoering moet begin. Charl het vir ons goeie sitplekke gekry. Terwyl ons gewag het, het daar ’n omie op die verhoog na die klavier toe gestap om dit vir oulaas te stem voordat die konsert begin. Ek het ’n foto van dié klavierstemmer met my foon geneem en vir Charl gestuur om vir hom te wys dat ons al in die teater sit.

“Dit is daardie spesifieke oomblik in die teater wat ek in my kop gesien het toe ek die nuus van Charl se toerusting ontvang het. Toe ek musiek nodig gehad het, het hy dit vir my gegee.”

Kapp het besluit om die finansieringsveldtog te loods om Du Plessis te help. “Ek kan nie net R60 000 vir Charl gee vir sy toerusting nie, al sou ek hoe graag wil. Ek het toe aan die skarefinansiering gedink.”

Sy het die skakel na die veldtog op haar persoonlike Facebook-blad geplaas en daar op ’n musiekgroepblad gedeel. Haar vriende het die skakel onder mekaar begin deel.

“Ek hoop dat Charl van die geld wat reeds ingesamel is, kan gebruik om solank van die toerusting aan te skaf.”

Die stemtoerusting, wat nou in die hande van die vermeende motordiewe is, is ingevoer uit Duitsland en die VSA. Hierdie spesifieke toerusting is volgens die klavierstemmer se spesifikasies vervaardig en is nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Van die toerusting moet nou weer vervaardig word.

Klik hier as jy wil bydra tot Du Plessis se geldinsameling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Wat ‘n nice en nederige kunstenaar sonder pretensies. Ons Afrikaners kan trots wees op hom… nog van die ware ‘ou soort’. Doen so voort Charl. Jy is meer werd as jou Steinway en sonder een vals noot.

Aai ·

Dit is goed en wel maar ek dink die probleem is hoe lank gaan dit vat om die nuwe toerusting in die land te kry dit is die probleem.So hy kan nie werk sonder dit.Ons kan saam staan

La-di-da ·

Terwyl ek ontsaglike deernis het met Charl se verlies, wil ek ñ opmerking maak. Ek is soos ñ klavier met 3 bene. Die rede is dat my knie “uitgewerk” is en ek nou met 1 been oor die weg moet kom. Mediese fonds is buite die kwessie, die staatshospitaal is tot boordens toe vol met baie siek pasiënte. Gaan iemand vir my ook skare fiansiering reël sodat ek ñ knievervanging kan kry? Ek is nie ñ bekende konsertpianis nie, net ñ eggenote, ma en ouma.

Chris ·

Ek is seker jy het vriende en kinders wat die veldtog vir jou kan begin as jy dit nodig het. Praat maar net so n bietjie met hulle dat hulle onder mekaar kan kollekteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.