Donderstorms, hael vir noorde voorspel

Argieffoto (Foto: HubertRams, Pixabay)

Suid-Afrikaners in die noordoostelike dele van die land kan hulself voorberei vir donderstorms, swaar reën en selfs hael wat na verwagting tot volgende week sal voortduur.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het vir Donderdag ʼn geel vlak 2-waarskuwing vir donderstorms vir Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en KwaZulu-Natal uitgereik.

Volgens Kumsa Masizana, weervoorspeller verbonde aan die SAWD, sal swaar reën en skadelike wind omstreeks 14:00 die suidwestelike dele van Mpumalanga tref en dan stadig na die sentrale en Laeveldgebied van die provinsie versprei. Inwoners in die provinsie – en veral in die Laeveld – kan moontlik haelneerslae verwag.

Donderstorms sal ook laatmiddag die verre suidoostelike dele van Limpopo, noordelike dele van KwaZulu-Natal en Gauteng tref.

Volgens Masizana sal die stormweer tot Sondag in dié provinsies voorkom. Reën word egter tot Woensdag nog hier voorspel.

ʼn 60% kans vir reën en donderstorms word vir die volgende week in Gauteng verwag.

Die weerdiens het ook ʼn waarskuwing teen brande in die noordwestelike dele van Noordwes en sentrale dele van die Vrystaat uitgereik.

Ligte reën word tot Sondag in die oostelike dele van die Vrystaat, Noordwes, Oos-Kaap, die hele Wes-Kaap en die suidelike dele van die Noord-Kaap voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Daar is niks snaak aan intense donderstorm en hael hierdie tyd van die jaar in die binneland nie. Waar val jy uit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.