Donker boodskap op sosiale media voor student sterf

Khensani Maseko. Foto: Instagram

ʼn Student aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad in die Oos-Kaap het in ʼn onheilspellende plasing op sosiale media haar eie sterftedatum gepubliseer voordat sy na bewering haar eie lewe geneem het.

Khensani Maseko (23), ʼn derdejaar- BA-student, het volgens die universiteit se studenteraad (SR) Vrydag by haar huis in Johannesburg gesterf. Hoewel daar geen amptelike bevestiging van die oorsaak van Maseko se dood is nie, word daar wyd berig dat sy haarself vermoedelik om die lewe gebring het nadat sy die slagoffer van seksuele aanranding was.

Maseko het Vrydag op haar Instagram-profiel ʼn swart agtergrond met twee datums op gepubliseer. Die eerste is haar geboortedatum, 24 Julie 1995. Die tweede, haar sterfdatum. Onderaan dié plasing het sy geskryf: “No one deserves to be raped!” [sic]

Die Rhodes Studenteraad het in ʼn verklaring gesê Maseko se dood het ʼn skokgolf deur die studentegemeenskap gestuur. “Haar laaste plasing op sosiale media is ʼn ysingwekkende aanduiding van die ongelukkige omstandighede wat sy in die gesig moes staar terwyl sy gelewe het: dat haar tragiese afsterwe verband hou met die feit dat sy ʼn oorlewende van seksuele aanranding was,” lui die verklaring.

Volgens mediaberigte word daar beweer dat Maseko in Mei vanjaar deur ʼn medestudent verkrag is. Sommige media beweer die vermeende verkragter was voorheen haar kêrel.

‘n Skermskoot van die laaste plasing op Khensani Maseko se Instagram-profiel.

Die SR het studente aangemoedig om ter nagedagtenis van Maseko vandag aan ʼn formele akademiese “stilstand” by die universiteit deel te neem. Studente het vanoggend op die kampus saamgekom om te betoog teen geweld teen jong vroue en owerhede se versuim om op te tree.

Die universiteit het intussen op sy amptelike Twitter-profiel bevestig dat die Rhodes-vlag vandag halfmas wapper ter ere van Maseko. “Die universiteit het die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versoek om ʼn geregtelike doodsondersoek na [Maseko] se afsterwe te doen. Die universiteit is van voorneme om ʼn skorsingskennisgewing aan die beweerde oortreder uit te reik.”

Die EFF-studentekommando het in ʼn verklaring gesê Maseko was “vol lewe en ambisie”.

“Khensani kon nie meer die pyn hanteer om deur ʼn verkragting te gaan nie. Op 3 Augustus 2018 het sy haar eie lewe geneem,” lui die verklaring.

Intussen het huldeblyke en boodskappe van skok en hartseer oor die voorval op sosiale media ingestroom. Talle het hulle uitgespreek teen ʼn “kultuur van verkragting” in Suid-Afrika en ʼn omgewing waar slagoffers van seksuele geweld te bang is om die voorvalle aan te meld of daaroor te praat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

christa ·

watte pragtige meisie was sy nie. Is die skuldige vervolg? So jammer sy was nie vir berading nie

V ·

Christa net jammer berading kan steeds nie die daad ongedaan maak nie. Iets waarmee ‘n slagoffer vir die res van hul lewe wroeg, berading of nie.

Liberaal ·

Ons liberaliste moet vir beide misdadigers se regte veg en ook vir vrouens, so wie moet ons nou kies, vroue of misdadigers?

Wenner ·

Die verskriklike pyn van verkragting, geestelik en liggaamlik! Rus sag, pragtige mensie, jou pyn is verby?

Nettie ·

En dan, by ‘n ander universiteit, maak ‘n ander vroue-student ‘n vals klagte van verkragting, terwyl hierdie meisie werklik verkrag is en nie die nodige emosionele ondersteuning en maatskaplike bystand gekry het wat sy moes gekry het nie ………

Anoniem ·

Geen mens sal weet waardeur Sy moes wroeg nie ! Mans word wakker en gee Vrouens die respek en ondersteuning wat hulle nodig HET ! Sterkte aan haar GELIEFDES

Anoniem ·

So jammer dat geen berading die daad ongedaan maak nie. Iets waarmee die slagoffer lewens lank sal wroeg, berading of nie. So jammer vir hierdie onnodige lewensverlies. Sy was ‘n pragvrou.

Linda ·

Hoeveel het ‘gelike’ en ‘comments’ gelos, maar niks gedoen nie?

Manna ·

Doodstraf vir verkragters of nog beter gee hulle oor aan gemeenskap dat geregtigheid kan geskied want in howe geskied daar nie geregtigheid.

Oorweldig ·

Hierdie storie maak my so so hartseer en dis so waar wat sy gese het,…dat mense eers oor jou praat as jy gesterf het….dan was jy so goed en oulik en wat als…ons moet dit NOU vir mekaar se….NOU mekaar se seer raak sien ….anders gaan hierdie BLY gebeur!

Menseregte Kommissie ·

Mense regte kommissie neem kennis hoe seer is verkragting werklik vir ‘n vrou, ondanks fisiese pyn, is die emosionele onoorkombaar. Tree op en laat Khensani se dood nie verniet was nie. Dit is soo jammer dat niemand jou deur die hel kon help nie.

Antjie ·

Sy was pragtig en so jammer dat sy haar eie lewe moes neem. Dis is soos Anoniem sê geen berading kan die daad ongedaan maak nie. Ek was op die ouderdom van 16 seksueel gemolesteer oor n tydperk en was vir sielkundige hulp, vandag is ek 43 jaar oud en getroud dit sal altyd n invloed op jou as vrou hê en dit beinvloed jou seksuele lewe in jou huwelik. n Mens loop altyd met daardie vrees.

NICKEY / GAUTENG ·

Die verkragter gaan niks oor kom nie…. he’ll live to rape another and another…..tot hy vir die gemeenskap gegee word….. vir “Bundu court” ..dis al wat werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.