Donker naweek op Wes-Kaapse paaie

Die ongelukstoneel Sondagaand op die N2 tussen Swellendam en Riviersonderend. (Foto: Verskaf)

Wes-Kaapse verkeersowerhede het Sondagaand gesê dit was ʼn donker naweek op die provinsie se paaie met minstens 26 mense wat tussen Vrydag en Sondag in padongelukke gesterf het.

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, sê Vrydag het nege mense in padongelukke gesterf. Vier van die oorledenes was passasiers in voertuie wat betrokke was in verskillende ongelukke by Gansbaai in die Overberg-distrik. Nog twee is passasiers wat dood is in ongelukke onderskeidelik in Woodstock en Eersterivier.

Saterdag is nóg agt sterftes by die naweek se dodetal gevoeg met ongelukke in onder meer Napier, Milnerton, Macassar, Somerset-Wes en Nyanga. Een van dié oorledenes was ʼn fietsryer wat om 22:20 in Macassar gesterf het.

‘n Ongelukstoneel op die R102. Twee mense het in dié ongeluk gesterf. (Foto: Verskaf)

Sondag het nog agt mense, onder wie een voetganger, in padongelukke gesterf. Drie hiervan was passasiers van ʼn bus wat dood is op die N1 tussen Touwsrivier en Laingsburg toe die bus en twee vragmotors in ʼn ongeluk betrokke was.

Om 18:15 gisteraand het nog ʼn ongeluk plaasgevind op die N2 tussen Swellendam en Riviersonderend toe ʼn bestuurder beheer oor ʼn voertuig verloor het. Volgens Africa het die bestuurder glo uitgeswaai vir ʼn bok wat vroeër op die snelweg doodgery is en die voertuig het omgeslaan. ʼn Vrouepassasier in die voertuig is in die ongeluk dood, terwyl die bestuurder geringe besering opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

willem botha ·

Dit gaan elke dag en elke naweek so daar word net op dit gekonsentreer tydens paasnaweek en kersfees.

Hannatjie ·

Kon die persoon wat die bok dood gery het nie maar die bok uit die pad gesleep het nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.