Donkies gehelp ter nagedagtes aan oorlede veearts

Wanneer Nico Benadé as kind ʼn verwaarloosde donkie langs die pad gesien het, sou hy na die eienaar gaan en R50 vir die donkie aanbied om hom te ‘red’ (Foto: Verskaf)

ʼn Fonds ten bate van verwaarloosde donkies is ter nagedagtenis aan ʼn jong veearts van Noordwes, gestig. Dr. Nico Benadé (36) was van kindsbeen af ʼn kampvegter vir donkies en die goeie werk wat hy gedoen het om na verwaarloosde donkies om te sien, sal nou deur die Nico Donkie-fonds voortleef.

Benadé is September verlede jaar in ʼn motorongeluk tussen Parys en Ventersdorp dood. Hy het as veearts in die Ventersdorp-distrik gepraktiseer.

Benadé se praktyk was op ʼn kleinhoewe digby Ventersdorp geleë. Marianne van der Laarse, sy tannie, vertel op dié kleinhoewe het hy enige geredde dier wat hulp nodig gehad het, aangehou en versorg. Daar was altyd donkies en perde wat hy gerehabiliteer het.

Van der Laarse vertel Benadé het ʼn sagte plekkie vir verwaarloosde diere gehad en sou nooit sy rug op ʼn verwaarloosde dier draai nie. Sy groot liefde was egter donkie se kind.

Volgens Van der Laarse het hy al van laerskool af na donkies se welstand omgesien. “Wanneer hy ʼn verwaarloosde donkie langs die pad gesien het, sou hy na die eienaar gaan en R50 vir die donkie aanbied om hom te ‘red’,” vertel Van der Laarse.

Tydens sy studiejare aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde (Onderstepoort), was hy betrokke by ʼn ergonomiese donkiekar-projek, waar hy donkievriendelike harnasse vir donkies ontwerp het.

Twee prototipes van donkiekarre wat deur die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde (Onderstepoort) en Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) geloods is. Links staan Nico Benadé (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort, Facebook)

Ter nagedagtes aan Benadé se bydrae tot die diereryk om sy liefde vir donkies te eer, het sy familie besluit om die Nico Donkie-fonds te stig. Die geld wat deur dié fonds ingesamel word, gaan aan die Eseltjiesrus-toevlugsoord vir donkies in McGregor in die Wes-Kaap.

“Ons het aanvanklik gedink om ons eie nie-winsgewende organisasie vir donkies ter nagedagtenis aan Nico te stig, maar toe besef daar is reeds plekke soos Eseltjiesrus wat goeie werk doen en die finansiële bydraes broodnodig het.”

Eseltjiesrus huisves tans 28 donkies (Foto: Verskaf)

Eseltjiesrus is ʼn nie-winsgewende organisasie wat hom beywer om ʼn permanente tuiste en versorging aan verwaarloosde donkies te bied.

Die geld wat ingesamel word, word gebruik om na die 28 donkies by dié oord om te sien. Dit sluit in om vir die donkies kos te koop, die nodige medisyne aan te skaf en ook om veeartskoste te dek.

Annemarie van Zijl, medestigter van Eseltjiesrus, sê die publiek kan finansieel tot die fonds bydra óf ʼn donkie “aanneem”.

Wanneer iemand besluit om ʼn donkie aan te neem, onderneem daardie persoon om deur middel van skenkings vir ʼn jaar lank finansieel na die donkie om te sien. Van Zijl verduidelik die persoon kry ʼn amptelike aannemingsertifikaat, ʼn foto van die donkie, die storie agter die donkie asook die oord se kwartaallikse nuusbrief. Die persoon kan ook enige tyd gaan inloer en vir sy of haar donkie gaan kuier.

Antoinette Benadé, Nico Benadé se ma, by Sussie, een van Nico se vele donkies wat deur hom gerehabiliteer is (Foto: Verskaf)

Die oord help ook met die rehabilitasie van donkies reg oor die provinsie en bied werkswinkels aan om gemeenskappe op te voed oor die belangrikheid daarvan om goed vir hul donkies te sorg.

Van der Laarse en Van Zijl het aan Maroela Media vertel dat die Nico Donkie-fonds ook bedoel is om mense te herinner hoe waardevol donkies is. Dit is gestig in dieselfde maand as wat Wêrelddonkiedag gevier word.

“Wêrelddonkiedag gaan oor die viering van donkies se onblusbare gees, oneindige geduld en individuele sjarme, en is ook ʼn geleentheid vir diereliefhebbers om betrokke te raak by die welsyn van donkies,” sê Van der Laarse.

Van Zijl sê die wêreld moet nie die waarde van donkies vergeet nie, omdat hulle soms as die agtergeblewe spesie beskou word.

“Die donkie word telkemale vergeet. Hy is egter ʼn edele en veeldoelige dier, wat steeds in die landelike gebiede ingespan word om arbeid te verrig,” sê Van Zijl.

Van Zijl versoek dat die publiek Eseltjiesrus besoek en tyd saam met die donkies spandeer.

Besoek Eseltjiesrus se webwerf indien jy ʼn bydra tot die Nico Donkie-fonds wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Wzt van die ” Karretjie mense ” in die NK. Word hulle ook betrek

Albertus Christiaan ·

Die donkie het ook ń belangrike rol in Jesus se lewe op aarde gespeel. Ek wens daar kan meer gedoen word om die Handel in donkie vele te bekamp

Sarel ·

Verstaan die Chinese het ons Renisters gesoek nou is hulle agter ons Donkies aan. Snaaks ek lees niks in die artikkel oor ons ” Karretjie Mense” in die NK nie. Indien die mense so begaan is oor die Donkie en sy voortbestaan dan moet hulle juis daar gaan werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.