Donnalee en Ivan: ‘Daar is geen beperking op omgee nie’

Ivan Botha en Donnalee Roberts. (Foto: Willem Botha/SPAR Women’s Virtual Challenge)

SPAR nooi weer vanjaar mense landwyd om Saterdag 4 September enige tyd tussen 06:00 en 18:00, onderhewig aan die Covid-19-inperkingsmaatreëls wat dan sal geld, op hulle eie pas saam te stap vir liefdadigheid.

Vir die SPAR Women’s Virtual Challenge-ambassadeurs, Donnalee Roberts en Ivan Botha, is dié jaarlikse gebeurtenis meer as net ʼn liefdadigheidsprojek waarby hulle betrokke is.

“Ek en Donnalee is jaarliks betrokke by die resies omdat ons glo in alles waarvoor dit staan, asook eerstehands beleef het dat elke liewe sent wat ingesamel word op die regte manier bestuur en bestee word,” sê Ivan in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Die akteurspaar het saam in rolprente soos Pad na jou hart en Vir altyd verskyn en was ook verantwoordelik vir die trefferfliek Stroomop.

Vanjaar se tema van die SPAR Women’s Virtual Challenge is #LiveLimitless, een van Donnalee se gunstelingtemas tot dusver. Volgens haar is die tema gepas in ʼn jaar waar daar weens die pandemie soveel beperkinge op mense gestel is.

“Daar is egter nie ʼn beperking op omgee, op liefde en op drome nie. Dit is ʼn wonderlike geleentheid om betrokke te raak by liefdadigheid en om ʼn wesenlike verskil in ander mense se lewe te maak.”

Ivan sê die resies het ʼn tasbare energie gehad toe 25 000 mense voor die pandemie by SuperSport Park in Centurion bymekaar kon kom. Dié polsende energie het egter glad nie verlore geraak sedert die resies virtueel aangebied word nie.

“Verlede jaar is die resies vir die eerste keer virtueel aangebied en die energie in die gemeenskappe wat deelgeneem het, was steeds ongelooflik. Of dit nou groepe van 10 of 100 mense was, hulle het mekaar met geesdrif aangemoedig om te stap.”

Stappers is ook aangemoedig om hulle staptogte op sosiale media te deel om sodoende die gees van die dag behoue te laat bly.

“Ons het self verby mense, geklee in dieselfde T-hemde as ons, gestap en het dadelik daardie warm gevoel gekry dat ons almal vir ʼn gemeenskaplike doel stap, al was dit aan weerskante van die pad.”

Donnalee voeg by dat ʼn gedeelte van die inskrywingsfooi aan die Petals-organisasie geskenk word. Dié organisasie skenk sanitêre ware aan minderbevoorregte meisies.

“Daar is soveel maande waartydens meisies skool misloop omdat hulle nie oor basiese benodigdhede soos sanitêre ware beskik nie. Met dié inisiatief kan ons help dat meisies nie skool misloop weens die beperking wat op hulle geplaas word tydens menstruasie nie.”

Wanneer die egpaar nie hulle skattige babaseuntjie, Cameron, se doeke ruil of draaiboeke skryf nie, werk hulle saam aan Donnalee se aanlyn klerereeks, The Romantic Collective.

Ivan vertel dié sakeonderneming het aansienlik gegroei tydens die pandemie namate mense meer vertroud geraak het met aanlyn inkopies.

Intussen het hulle ook saam met kykNET aan ʼn rits nuwe flieks gewerk, waarvan die eerste een getiteld Beurtkrag vroeg volgende jaar sal verskyn.

Donnalee en Ivan is dit eens dat hulle nog altyd, selfs voor die pandemie, voorstanders daarvan was en steeds is om nie beperkings op jou eie drome te plaas nie.

“Daar is nooit ʼn droom wat te groot is nie. Ons het nog altyd ʼn onbeperkte uitkyk op die lewe gehad, werksgewys en met alles wat ons aanpak. Die tyd waarin ons leef, het beslis ʼn lig geskyn op hoe belangrik dit is om nie die wêreld toe te laat om namens jou te bepaal waar die beperkinge van jou drome lê of van wat jy kan doen en wie jy is nie. Ons moet elke dag onbeperk aanpak sonder vrese terwyl ons ʼn verskil maak in ons medemens se lewe.”

Inskrywings vir die SPAR Women’s Virtual Challenge kos R60. Elke inskrywing ontvang ʼn virtuele resiespak wat ʼn T-hemp, toegang tot die My Virtual Challenge-tydskrif, ʼn gesigsokkie (face buff) en ʼn medalje insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.