‘Dood van psigiatriese pasiënte was voorkombaar’

Argieffoto

Argieffoto

Solidariteit Helpende Hand meen die meeste van die 36 psigiatriese pasiënte wat oor die afgelope vier maande in Gauteng gesterf het, se dood was voorkombaar.

Dié pasiënte is dood nadat die departement van gesondheid hulle vroeër vanjaar van die Life Esidimeni- psigiatriese hospitaal na verskeie nieregeringsorganisasies (NRO’s) oorgeplaas het. Life Esidimeni het vir meer as 40 jaar, onder kontrak van die provinsiale regering, chroniese geestesgesondheidsorg op lang termyn aan duisende Gautengse pasiënte verskaf.

Die departement het in Oktober sy kontrak met die hospitaal beëindig aangesien dit “onbekostigbaar” geword het om die 2 378 pasiënte teen R323 miljoen by private instellings te behandel.

Qedani Mahlangu, Gauteng se LUR van gesondheid, het Dinsdag inligting oor dié sterftes tydens ʼn mondelinge vraag-en-antwoordsessie in die wetgewer bekend gemaak, waarna Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, versoek het dat dit deur die gesondheidsombudsman (prof. Malegapuru Makgoba) ondersoek word.

Intussen het Helpende Hand aan Maroela Media gesê die organisasie is bewus van minstens drie gestremde pasiënte wat deur dié besluit geraak is, wat by ʼn instelling in Cullinan “in uiters verdagte omstandighede” dood is.

“Helpende Hand meen dat die dood van hierdie drie pasiënte, en heel waarskynlik die meeste van die 36 pasiënte, voorkombaar was,” het Riaan du Plooy, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, gesê.

Die organisasie poog om ʼn oplossing vir die krisis te vind deur ʼn kurator aan te stel om beweerde growwe nalatigheid en mishandeling van pasiënte deur staatwerkers te ondersoek, maar die Noord-Gautengse hooggeregshof se gesloer steek ʼn stokkie daarvoor.

Helpende Hand se regsverteenwoordigers het reeds op 9 Julie namens hul kliënt, die Siyabadinga-NRO, ’n dringende aansoek by dié hof ingedien vir die aanstelling van ’n kurator. Hoewel die aansoek op ’n dringende grondslag ingedien is, het ’n tydperk van drie weke verloop waartydens die saak nie minder nie as drie keer van regter na regter oorgeplaas is.

“Op 5 Augustus is die saak wéér uitgestel. Regter Peter Mabuse lewer uiteindelik op 9 Augustus uitspraak waar hy die saak met koste en sonder redes van die hand wys. Die gebrek aan redes vir die uitspraak staan vierkant in die pad van Helpende Hand se regsverteenwoordigers om appèl aan te teken. Ná verskeie versoeke van Helpende Hand se regsverteenwoordigers het regter Mabuse steeds versuim om redes vir sy onverklaarbare uitspraak te lewer,” het Du Plooy gesê.

Helpende Hand het op 30 Augustus ’n versoek aan adjunk-regterpresident Aubrey Ledwaba gerig ten einde regter Mabuse te dwing om redes vir sy uitspraak te lewer.

In ’n skrywe gedateer 2 September onderneem regter Ledwaba om per opdrag regter Mabuse te maan om redes vir sy uitspraak te lewer.

“Tot op hede het ons steeds geen kommunikasie van die hooggeregshof ontvang nie.”

Du Plooy het gesê Helpende Hand beskou steeds die aansoek as uiters dringend en die gesloer deur die howe word as ’n vergryp van die regsproses, ten koste van weerlose, stemlose gestremdes, ervaar.

“Die departement se onderneming om nou, ná die sterfte van die 36 pasiënte, ’n ondersoek van stapel te stuur, word deur die naasbestaandes van die oorledenes as mosterd ná die maal beskou,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jean ·

Kon iemand al se WAARAAN hulle dood is? Die feit dat hulle psigiatriese pasiente is beteken mos nie hulle kan maar net doodgaan sonder dat vrae gevra word nie? Ek hoop AL die vrae word op Dinsdag beantwoord, want soms hou hulle ‘investigations’ vir maande aan sonder enige ordentlike uitslag. Weet die naasbestaandes darem almal? En hoekom nou eers na 36 se dood is daar navraag daaroor? Ek wonder hoeveel sonder ‘voice’ gaan maar so stil stil dood sonder dat ‘n haan ooit daarna kraai?

Besorgde ·

Ek is van mening dat ‘n saak van moord aanhangig gemaak moet word wat, hoop ek, almal op en af sal laat spring. Miskien moet individue ook persoonlik aanspreeklik gehou word.

Oosie ·

Moord. Presies my gevoel ook. Die besluit kan nie teen navorsing verdedig word nie en was blatante disrespek teenoor hierdie mense. Daar was hoegenaamd nie sprake van enige beplanning nie en is growwe nalatigheid – dalk nog met opset ook, want die gevolge was onvermydelik…

Adele Botha ·

Die weiering van die regter om redes vir sy uitspraak te gee, is maar net nog ‘n voorbeeld van blatante magsmisbruik van die hele Zuma-regering en GEEN wet of wat ook al sal hulle daarvan laat afsien nie. Hulle dink hulle is verhewe bo die wet! Punt!!
Eers wanneer daar gestaak, afgebrand, verwoes word, sal daar miskien aandag aangegee word!
Mense, as dit ‘n regter, wat ten minste veronderstel is om sy wetlike pligte na te kom, se houding is, waar is ons arme land nie heen oppad nie?!
Kom ons hoop die DA het soveel suksesse in die uitvoering van hul pligte in die plaaslike munisipaliteite wat hulle gewen het, dat daar met die volgende verkiesing meer stemme verkry word, sodat die ANC-lieplappers en vroteiers uit die kussigs gelig word!
Dis net SO hartseer dat dit altyd die mees kwesbaarstes van die kwesbaarstes is, wat deur sulke goed geraak word! Gelukkig is daar ‘n God wat nie slaap nie! En word ons in Sy Woord gewaarsku dat dit wat mens aan die geringstes van Hom doen ook aan diegene wat dit doen, gedoen sal word!

Wilma Hanekom ·

Seker maar dieselfde tipe behandeling wat by staatshospitale voorkom. Net erger, want die pasiente is baie meer kwesbaar en familie is meesal afwesig. Skandalig dat mense wat geen meegevoel en liefde het nie sulke werk mag doen.

Maria van Dieweeck ·

God se hemelkinders, Hy sal sorg dat die moordenaars gestraf word!

Pieter Ellis ·

Ek maak nou sekerlik n aanvegbare stelling, maar bewys my verkeerd. Staatshospitale het n drie tot vier jaar waglys vir groot prosedures soos hart omleinings, heup vervanging, en neuro chirurgie. Dit is spesifiek so dat pasiente moontlik sal sterf voor die prosedure gedoen word. Staat spaar dus geld. Hoeveel te meer sal psigiatriese pasiente nou in sulke verwaarloosde instellings stil stil afsterf.

Kultuursaak ·

Sekere kulture het tradisioneel hul gestremdes doodgemaak op klein ouderdom. Wat se die kultuur van die regters rondom hierdie saak?

Jaycee ·

Dit skrei ten hemel. Ek hoop daar is prokureurs wat hierdie as ‘n klas-aksie sal opneem en die owerheid hieroor aanvat. Dit is seker te veel van ons slapgat regering verwag dat individue aan die pen sal ry maar ek dink die families van die oorledenes is ten minste geregtig op skadevergoeding. Aan die einde van die dag sal dit weer die belastingbetalers wees wat moet opdok.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.