Dood van valskermswewer by Leeukop ondersoek

Leeukop (Foto: Norbert Stallkamp, Dwayne Evans & Nikita Werthmann, AMS)

Die polisie in Kampsbaai in die Wes-Kaap het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met inligting wat hulle kan help met ʼn ondersoek na die dood van ʼn valskermswewer in Februarie vanjaar.

Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het die swewer, geïdentifiseer as Roderick Theron, op 20 Februarie tydens sy valskermsweeftog op Leeukop kritieke beserings opgedoen.

Die Air Mercy Service (AMS)-helikopterdiens is die betrokke dag na die toneel ontbied en het Theron per helikopter na die Chris Barnard-hospitaal in Kaapstad geneem. Hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Volgens Twigg het die polisie ʼn geregtelike doodsondersoek geopen en ondersoek die omstandighede van die ongeluk.

Volgens die Suid-Afrikaanse Skerm-en-hangsweef-vereniging (Sapha), was Theron nie ʼn lid van Sapha nie en was hy ook nie ʼn gelisensieerde valskermswewer nie.

Theron is egter nie die eerste valskermswewer wat noodlottige beserings op Leeukop opgedoen het nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 57-jarige man het in Desember verlede jaar ook in ’n valskermsweeftuigongeluk op Leeukop in Kaapstad omgekom.

Enigiemand met inligting wat verband hou met Theron se dood kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel of die ondersoekbeampte, sers. Jerome Matthews, by 081 432 6150 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deonne ·

baie tragies. maar sover ek weet sweef hulle vanaf seinheuwel en nie Leeukop nie.
Ek kan verkeerd wees maar ek sien hulle gereeld daar.

Swerwer ·

Tragies. Hy het Februarie al gesterf maar doen nou eers ‘n beroep op die gemeenskap om na vore te kom.

Pablo ·

Dit het in Februarie gebeur maar hulle soek nou eers hulp, wat beteken hulle het net mooi niks tot nou toe gedoen nie. Genade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.