Doodsdreigemente in aanloop tot Pretoria-optog

Polisiebeamptes tydens ʼn vorige optog in die strate van Pretoria (April 2017). Foto: Maroela Media

Verskeie strate in Pretoria sal Vrydag geraak word deur ʼn optog wat in die stad se sakesentrum beplan word.

Nonhlanhla Mgiba, woordvoerder vir die Tshwane-metropolisie (TMPD), het in ʼn verklaring bevestig daar is ʼn formele aansoek ontvang van ʼn groep genaamd “All Tshwane Vat Alles Employees” om die optog Vrydag te hou. Die TMPD het goedkeuring gegee dat dié optog gehou kan word.

Intussen blyk dit dat dié optog deel vorm van die ANC-Jeugliga se sogenaamde #TshwaneShutdown wat vir Vrydag beplan word, hoewel die aansoek vir die optog as die “All Tshwane Vat Alles Employees”-groep ingedien is.

ʼn Kennisgewing, onder die ANC-Jeugliga se naam, wat wyd op sosiale media versprei word, dui aan dat die protesaksie gehou sal word om te eis dat 11 000 “Vat Alles-werkers” weer aangestel word, 10 000 veiligheidswagte wat afgedank is weer aangestel word, dat daar aan kerke “die grond gegee word wat aan hulle belowe is”, dat hoë verhuringstariewe verminder word en dat “die teistering” van informele handelaars stopgesit word.

Die plakkaat dui ook aan dat die optog by Burgerspark sal begin waar die “All Tshwane Vat Alles Employees”-optog ook begin.

Mgiba het beklemtoon dat hulle bewus is van die inligting wat die ronde doen dat daar Vrydag ʼn optog deur die ANC-Jeugliga in Pretoria sal plaasvind, maar dat daar geen aansoek van die Jeugliga af ontvang is vir ʼn optog nie. “Daar is geen aansoek van die ANC-Jeugliga ontvang vir ʼn optog soos deur die wet vereis word nie en daarom sal hierdie optog wat geadverteer word as onwettig hanteer word indien dit wel soos beplan plaasvind.”

Intussen het Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, hom skerp uitgespreek teen ʼn doodsdreigement wat hy gekry het in aanloop tot Vrydag se optog. Msimanga het in ʼn verklaring gesê ʼn bekende leier van die ANC-Jeugliga het Dinsdagaand op Msimanga se amptelike Facebook-blad geskryf:

“Solly, former Mamelodi beauty king, we are coming 4 you this Friday, bloody die white puppet.” [sic]. Die inskrywing is sedertdien verwyder.

Solly Msimanga, die burgemeester van Tshwane. Foto: http://da-gpl.co.za/

Msimanga het gesê hy het besluit om nie in dié stadium strafregtelike aanklagte in die verband aanhangig te maak nie, maar sal nie huiwer om dit te doen indien so ʼn dreigement weer gemaak word nie.

“Ek sal enige kommentaar wat deur hierdie individu gemaak word, monitor, asook kommentaar van ander soos hy wat verkies om hierdie kommunikasieplatforms te gebruik om beledigings rond te slinger en dreigemente te maak, eerder as om werklike besware rakende diensleweringskwessies in die stad aan te pak,” het Msimanga gesê.

Die burgemeester het gesê indien hierdie inskrywing ʼn aanduiding is van die gesindheid waarin die optog Vrydag gaan plaasvind, is dit baie kommerwekkend. “Ek hoop dat hierdie kommentaar deur die individu in sy persoonlike hoedanigheid gemaak is en dat sy verwydering van die inskrywing ʼn aanduiding is van sy spyt hieroor,” het hy gesê.

“Ons doen ʼn beroep op die ANC-leierskap om nie ʼn herhaling van die gebeure van 2016 te ondersteun of goed te keur nie toe Thoko Didiza as die ANC se burgemeesterskandidaat vir Tshwane aangekondig is en ons geweld in plekke soos Atteridgeville gesien het. Daar is geen plek vir geweld in Suid-Afrika nie en dit moet aangespreek word wanneer dit ook al gebeur.”

Volgens die TMPD sal die optoggangers Vrydag om 08:00 by Burgerspark in die Pretoria-middestad bymekaarkom en van daar af na Lilian Ngoyi-straat beweeg en regs draai in Madibastraat tot hulle Tshwane House bereik. Van daar af sal hulle na die Uniegebou beweeg en dan terug na Burgerspark deur Leydsstraat, Pretoriusstraat, Nelson Mandela-rylaan, Nana Sita-straat en Thabo Sehume-straat.

Die optog sal na verwagting om 16:00 tot ʼn einde kom. Motoriste is aangeraai om bogenoemde strate te vermy en van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Mgiba het gesê TMPD-beamptes sal ontplooi word om die optog te monitor. Lede van die publiek kan Vrydag enige onwettige aktiwiteite by 012 358 7095 of 012 358 2124 aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Attie ·

Het die instansie wie vir die optog aansoek gedoen het, gemeld dat hulle verantwoordelikheid sal aanvaar vir enige skade aan eiendom gedurende die optog of het die goedkeurende gesag dit as n voorwaarde gestel? Dis die enigste manier om alle optogte van nou af te beheer.

jaco ·

het ek reg gelees: die ANC Jeugliga wat hulle so Engels hou en Afrikaans haat, gebruik ‘n Afrikaanse naam vir hulle optog?

AFrikaans of Engels ·

Wat beteken ALL TSHWANE VAT ALLES EMPLOYEES??? Ek verstaan nie, is dit AFrikaans, is dit Engels? Want al die woorde is nie NET Afrikaans of NET Engels nie. .. help ‘n bietjie waarvoor betoog hulle? Is hulle nou weer PRO Afrikaans VAT ALLES? Eish .?

snoefie ·

as dit “nrussen” aan die lig gekom het dat die ancyl aansoek om n optog onder n skuilnaam gedoen het, hoekom is dit nie gekanselleer nie en hulle deposito vir skade aan hulle terubetaal nie? of het hulle nie die deposito betaal nie? neem tmpd dus verantwoordelikheid vir skade wat die ancyl onder die vaandel van “All Tshwane Vat Alles Employees” sal aanrig? wat wil hulle alles vat? enige mens kan net VAT wat hulle voor betaal het. wai n mens voor betaal het, is jou eiendom.

Emjee ·

Ek wonder net hoeveel dae verlof ek kan kry om te gaan “toi toi” ? Of is die harde werklikheid dat die werklose massa in busse aangery en betaal word om hierdie afbrekende vernietigingswerks te doen. Ek is seker swart Suid Afrikaanse gesinne is al net so keelvol hiervoor soos ons.

Vermeende ·

As jy hom reg vertaal na Engels dan lees dit so.

TSHWANE TAKE ALL EMPLYEES!

lol!

Dell ·

Hierdie VAT ALLES groep is soos ek verstaan uit vroeer gebeure, die kontrak werkers vir vullis verwydering. Hulle het (dink Desember) gestaak omdat hulle permanente aanstellings wou gehad het. Hulle het gebiede met rommel bestrooi ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.