Doodsdreigemente: Plaasbestuurder sal ‘aanhou boer’

Willie Nel saam met sy honde Toffie, Buzzy en Steyer. Dié hondekinders het ná die voorval ribbetjies by Nel gekry omdat hulle hom wakker geblaf het. (Foto: Verskaf) 

“Ja, my bakkie is gebrand en hulle wou my seker doodmaak, maar dit sal my nie laat ophou boer nie.”

Só sê die plaasbestuurder Willie Nel (38) Dinsdagoggend nadat sy plaasbakkie oor die naweek op ’n plaas in die Buffelspoort-omgewing naby Marikana met die woorde “Kill the boer”, #Killyou en #Kill in rooi spuitverf bespuit is voordat dit aan die brand gesteek is.

Nel vertel aan Maroela Media dat sy drie hondekinders, Buzzy, Steyer en Toffie, saam met hom en sy verloofde in die huis slaap. Die honde het Saterdagaand omstreeks middernag geblaf waarna Nel vir hulle oopgemaak het om ’n draai te gaan loop.

“Ek het hulle uitgevat en met ’n flits na buite geskyn. Daar was nie moeilikheid nie en ek het die honde ingebring en weer gaan slaap.”

Die honde het egter net voor 02:00 weer begin blaf en Buzzy, Nel se Jack Russel, het opgespring. “As jou hond op jou bors spring en blaf, moet jy weet daar is fout.”

Nel vertel dat hy aanvanklik gedink het daar is ’n slang in die huis. Eers nadat hy opgestaan en behoorlik wakker geword het, het hy sy bakkie se alarm hoor afgaan. Sy eerste gedagte was dat iemand by sy bakkie probeer inbreek of hom uit die huis probeer lok. Dit is toe dat hy deur die venster kyk en sy bakkie in ligte laaie sien, vertel hy.

Nel se brandende bakkie. (Foto: Facebook)

“Ek het die voordeur oopgemaak en die honde laat uitgaan. Hulle het dadelik na die bakkie toe gehardloop. Ek het eers ’n minuut of wat in die huis gestaan en gewag om seker te maak dat daar niemand buite is nie.”

Nel vertel dat hy dadelik sy voorman gebel het om ’n trekker met ’n waterkar te bring sodat hulle die vlamme kon blus.

Die verdagtes het vermoedelik die ruit aan die passasierskant van die bakkie gebreek waarna hulle ’n vlambare vloeistof oor die passasiersitplek gegooi en aan die brand gesteek het.

“Dit het so vinnig gebeur. Dit was seker 25 minute vandat ek die bakkie deur die venster gesien het totdat die vlamme geblus was. Die bakkie het tot die grond afgebrand. Polisiebeamptes van die Marikana-polisiestasie was binne sewe minute op die toneel.”

En daardie woorde op die bakkie?

“Ek is ’n boer. Jy kan net aan jou geloof vashou en glo dat die Here jou gaan beskerm,” antwoord Nel sonder om te dink.

Die houtstokke wat gebruik is om die elektriese drade van mekaar te druk. (Foto: Verskaf)

Hy vertel dat ’n voorlopige ondersoek daarop dui dat die verdagtes twee houtstokke gebruik het om die betrokke nag die drade van die elektriese heining om sy werf van mekaar te druk. Só het hulle toegang verkry. Hulle het daarna by die motorhuis ingebreek en die kabel van die heining se kragboks gesny sodat die heining nie alarm kon maak nie.

Die volgende oggend sou Nel en die polisie uitvind dat van die vensters van die huis ook gebreek is. Daar word vermoed dat dié vensters reeds middernag, die eerste keer wat die honde geblaf het, gebreek is. Die glasstukke van die vensters het egter nie op die teëlvloer van die huis geval nie, maar in ’n wasgoedmandjie voor die venster – dié dat Nel nooit onraad vermoed het nie.

“Dis moeilik. ’n Mens slaap diep om twaalfuur in die aand as jy al 21:00 in die bed geklim het. Ons lê nie en rondrol nie. Ons is moeg. Ons werk hard.”

Nel vertel dat hy sy bakkie ná baie lank se spaar net vroeër vanjaar gekoop het. Dié bakkie het slegs 17 000 km op gehad. “Dit was my trots. Ek het bitter hard gewerk om die bakkie te koop, maar ’n ou is dankbaar dat jy leef.”

Op ’n vraag of Nel steeds kans sien vir boer ná die voorval antwoord hy: “Dit is algemene ding wanneer jy kyk na die land se statistiek. Ons word afgemaai soos wilde diere, maar dit sal my nooit laat ophou boer nie. Dit maak seker nie vir ander sin nie, maar ek is passievol oor landbou in ons land. Dit gaan vir my oor die groter prentjie. Dit gaan nie vir my oor die bakkie nie. Dit gaan oor mense wat moet eet en ’n inkomste moet verdien.

Die bakkie het heeltemal uitgebrand. (Foto: Verskaf)

“Die werk wat ons as boere doen, is seker die ondankbaarste werk, maar dit gaan verander. Iewers moet iemand iets raaksien. Dit gaan nie vir my oor ras nie. Dit gaan ook nie net oor boere nie. Almal is keelvol vir misdaad in hierdie land. Ek is net nog een van die statistiek. Iemand moet sê dis nou genoeg.

“Die seer is baie groot. Hulle maak inbreuk op ’n ou se persoonlike lewe, maar ek is dankbaar dat ek, my verloofde en ons honde leef. Ons het maar net mekaar en ons geloof.”

Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, het oor die naweek gesê ʼn saak van kwaadwillige saakbeskadiging word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Annelize ·

Hulle het presies geweet waar om die elektriese heining se draad te knip? Willie Nel, jy moet wakker loop en bitter mooi kyk, hierdie kan ek nou al vir jou se is ‘n “inside job”. Dit is gewoonlik.

Siener ·

Stem saam oor die inside job. Spandeer ‘n geldtjie en vat al jou werkers vir poligraaf toetse. Jy sal verseker antwoorde kry. Die ander ding, waar is jou wapen om jouself te verdedig? Hy moet 24 uur langs jou sy wees. Jou veiligheid begin by jouself.

André André ·

Dankie minister Bheki Cele dat jy omgee vir elkeen van ons landsburgers se veiligheid, ook die boere, waar hulle ook al mag wees, dankie vir al jou planne, jou onbaatsugtigheid, jou passie, dankie president Cyril, dat jy hom vertrou om ons ALMAL in die land gemoesrus te gee en teen misdaad beskerm, dankie dat julle besig is om die misdadigers te ontwapen.

Adri ·

André André, ek wens ek kon vir jou ‘n duimpie wys! Goeie kommentaar.

Werner ·

Bokke het jou naam verander dink eerder hulle wil die wetsgehoorsame burger ontwapen te sleg om die kriminele te ontwapen weet nie wie dink n krimineel gaan sy wapen inhandig nie droom maar lekker voort

daniel ·

Geen regering sal ooit die misdadigers kan ontwapen nie. dit is wat hulle wil he die burgers moet glo.
Hulle ontwapen die wetsgehoorsames en laat hulle in die mag van die kriminele.

daniel ·

Die woord revolusie is tog so n mooi word vir die onkundiges en die kleur rooi so aanloklik vir hulle.

daniel ·

Party politieke idiote het n magiese bewondering vir die kleur rooi.

James ·

Is dit werklik die vrees wat mens elke dag moet beleef. Waarvoor lewe n mens as die mense in die land net vir n kans wag om jou lewe te eindig. Die Wederkoms moet gou kom.

Melanie ·

Ek en my gesin sal saam jul bid vir jul veiligheid. Ons verstaan jou passie en glo die Here se wakened en beskermde hand is oor jul. satan kom in enige vorm voor… hy is n bedrieer en ons bind hom en sy trawante in Jesus se naam!!

Loraine ·

Stem saam met Annelize, pas net op jou pragtige honde nie ook vergiftig gaan word nie. Willie, wees maar versigtig dag en nag en wees paraat hulle gaan weer kom. Die was absolute waarskuwing vir jou. Sterkte!

Riaan ·

Kan Afriforum of enige ander organisasie wat bereid is om te help asb ‘n bankrekening beskikbaar stel sodat daar weer vir die man ‘n bakkie gekoop kan word nie? My witmonopoliekapitaal brand my sak en ek wil graag my medeboer help. Geen booswig sal ons onder kry nie.

Naomi ·

Bel die ou (Cobus?) wat op RSG gepraat het, en neem ‘n plaas in Vanwyksvlei aan.

leani ·

@Riaan. Wens jou wit monopolie kapitaal kan ons ander boere ook help. Ons verloor baie meer as bakkies.

Scalla ·

Willie, jy ken waarskynlik die lafaards, hoop jy sorteer hul uit.

Se maar net ·

Ek het op ‘n plaas groot geword. Ek het nog altyd ‘n passie vir die boere gehad. Ek ondersteun Afriforum. Totdat ek na ‘n boeregemeenskap in die Vrystaat trek…en agterkom hoe arrogant die boere kan wees. Dit maak nie saak wat jou velkleur of geloof of politieke stand is nie…jy is ‘n buitestaander. Die dorp behoort aan hulle. Die paaie behoort aan hulle en hulle bakkies en Fortuners. Jy stop by die stopstraat. Hulle stop nie. Dit maak my hart seer, want ek was van plan om, soos gese op RSG, ‘n plaas in die Karoo aan te neem. Elke bietjie help vir die droogte.

Nettie ·

@Se maar net – bou ‘n bruggie en kom daaroor. ‘n Mens se aanvaarding en opname in ‘n gemeenskap (of dan nouwel, níé-aanvaarding) hang grotendeels daarvan af wat jý insit. Klein dorpies IS nou maar eenmaal “gemeenskapsbesit” en as jy nie inskakel by gemeenskapsaktiwiteite nie, hoe verwag jy dat mense jou met ope arms moet verwelkom, as hulle jou nie ken nie en jy nie moeite doen sodat mense jou kan léér ken nie?

LB ·

Ek is heeltemal te lief vir my honde om hulle die gevaar in te stuur! Hulle waarsku jou en daarna gebruik jy jou verstand om die regte ding te doen om almal se veiligheid te verseker, jou honed s’n ingesluit.

Helene ·

Stem saam. Al het ek ook twee Pitties gehad, sou ek hulle nie buitetoe laat gaan het nie.

Me ·

Dink hulle die geld wat aan hulle betaal word om boere dood te maak gaan hulle gelukkig maak

Mede boer ·

Trots op jou Willie! Wees versigtig en voorbereid. Dankie vir jou siening en refleksie oor landbou en ons land.

lizzi ·

Riaan, jy is ‘n man so na my hart – sit no en dink aan presies dieselfde ding.

Maria ·

Ek trots op jou Willie en jy dapper dit net n genade bo Abba Vader! Spreek : Laat God se engele jou en gesin bewaar Amen

daniel ·

Maar daar wag n groot verrassing op hulle wat dink dat moord die opposing is. God is nie aan hulle kant nie? en bejammer die mens met wie God nie is nie.

Emelia ·

Willie… Mag ons God jou seen met n splinter nuwe bakkie. Sterkte en wees versigtig.. Klink ook of iemand presies geweet het waar om die drade te gaan knip.

Sonja ·

Hulle uurglas is besig om vinnig uit te loop, dis n kwessie van tyd. Wanneer daai eerste plaas gevat word, gaan hierdie boere hulle leer van daantjie in die kalwerhok!

My Stem ·

Willie, sal,saam met baie ander, elke aand vir jou en ons ander boerehelde bid! Ek smeek en pleit vir julle beskerming teen die heidense moordenaars ! Ons God is GROOT en ALMAGTIG!!

Kameras ·

Kameras gebruik dit tenminste 4 kameras ek sien n bekende selfoon netwerk bied dit nou aan en 10 gig data 1 kamera pakket minder as 200 rnd n maand toe ek Paar dae terug gekyk het. As jou area 3 g sein Kan opvang kry tenminste n Paar kameras dis ekstra oe. As jy nie 3 wagte Kan bekostig. kry Dan net n Paar kameras Dan hoef jy nie blindelings net uit tegaan en Dan het jy ook die skuldiges op videos en videos Kan men’s dophou al is jy n Paar 100 km weg om verrassings te voorkom

Heksie ·

Dra jou vuurwapen en wees paraat, dis al wat ek jou kan sê … want die gemors gaan weer toeslaan … hierdie was maar net ‘n boodskap …

RS ·

HOU JOU EN JOU DIERE VEILIG!! HULLE IS NIE VEILIG BUITE NIE HOU JOU GEWEER BY JOU EN SLAAP MET LIGTE AAN SOWEL AS ALARM

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.