Doodsdreigemente vir ‘transitoheld’ ná video

Leo en Lloyd is wyd geloof vir die kalmte waarmee hulle opgetree het. (Foto: Facebook)

Leo Prinsloo, die koelkopheld wat opslae gemaak het toe hy ʼn bende transitorowers in Pretoria met sy bestuursvernuf gefnuik het, het verskeie doodsdreigemente ontvang.

ʼn Video van Prinsloo en sy kollega, Lloyd Mtombeni, wat aangeval word terwyl hulle ʼn besending selfone in ʼn ander voertuig begelei het, is die afgelope ruk wyd versprei.

Deon Coetzee, besturende direkteur van Fortis Pro Active Defence Solutions, sê hulle neem die dreigemente uiters ernstig op en Prinsloo en sy gesin word in hierdie stadium beveilig.

“Dit is ongelukkig so; daar is doodsdreigemente op sy lewe. Ons beskou dit as ernstig weens inligting oor wie vermoedelik agter die misdaad sit,” sê Prinsloo.

Prinsloo en Mtombeni is nie in die aanval beseer nie.

Prinsloo, ʼn voormalige lid van die polisie se taakmag, is ʼn opleidingsinstrukteur wat onder Fortis se vaandel werk.

Die maatskappy bied onder meer opleiding aan, van teenstroperyopleiding in Afrika tot opleiding vir veiligheidsmaatskappye, gewone burgers en boere. Hulle verskaf ook spesialistoerusting, doen risiko-ontledings vir kliënte en is nou betrokke by plaasbeveiliging.

Prinsloo en Mtombeni het op die betrokke dag ʼn voertuig met ʼn vrag selfone begelei toe die rowers op die N4 in Pretoria toegeslaan het. In die video kan gesien word hoe Prinsloo ontwykende bestuurtegnieke begin toepas.

Terwyl hy die rowers – in verskeie voertuie – probeer uitoorlê, vra Prinsloo vir Mtombeni om hul kollegas, Robbie en Josh, te bel. Die twee was in dieselfde omgewing en was ook besig om ʼn voertuig te begelei.

Ten spyte van die erns van die situasie het mense vandeesweek geskerts en gesê wanneer die helde Leo en Lloyd in die pekel is, vra hulle hulp by Robbie en Josh.

In die bykomende video kan gesien word dat Mtombeni met die selfoon besig is, maar uiteindelik nie ʼn oproep maak nie. Coetzee sê soos die noodlot dit wou hê was daar in daardie stadium geen selfoonsein nie en kon Mtombeni nie ʼn oproep maak nie.

Om hulp op die radio uit Johannesburg te ontbied, sou waarskynlik hopeloos te laat gewees het – selfs al is ʼn helikopter ontplooi.

Coetzee sê mense het heelwat vrae gehad oor waarom die twee nie ʼn venster oopgemaak het om op die rowers te skiet nie. Hy verduidelik dat ʼn geseëlde voertuig in so ʼn situasie die veiligste plek is.

Sodra ʼn venster of deur egter oopgemaak word, word dié veilige seël gebreek en is dit makliker vir die aanvallers om by die wagte uit te kom.

In nog ʼn video van die voorval wat sedertdien uitgelek het, kan nou ook gesien word hoe ʼn wit dubbelkajuitbakkie verby Prinsloo en Mtombeni se voertuig jaag.

ʼn Ent verder staan die bakkie wat die selfone vervoer langs die pad nadat die rowers dit tot stilstand gedwing het. Prinsloo bars links tussen die bakkie se oop deur en ʼn veiligheidsreling verby terwyl die vermeende rowers uit die pad duik.

Coetzee sê Prinsloo het op die voertuig afgepyl in ʼn poging om die vrag te beskerm – suksesvol ook.

Die rowers vlug eindelik met leë hande en Prinsloo en Mtombeni hou ʼn ent verder, hul bakkie vol gate geskiet, op ʼn veilige plek stil.

Coetzee sê dit was die afgelope paar dae verstommend om te sien hoe min mense bewus is van die gereeldheid waarmee transitorowers toeslaan. “Hierdie rowers is ongelooflik gevaarlik en ongelooflik goed verbind.”

Hy sê ook gewone mense wat op só ʼn misdaadsituasie afkom, moet liefs so ver as moontlik uit die pad probeer bly.

“Daardie rowers is absoluut gefokus op hulle teiken. Hulle skiet skote, nie alles tref die teiken nie, maar dit gaan steeds êrens heen. Hierdie is nie jou geveg nie, bly veilig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Michael ·

Transitorooftogte is waarskynlik een van die ANC se bronne van inkomste

Robert ·

Ek wil weet wie die video gelek het… as ek die baas was is hy nou afgedank en ek sou seker maak hy word nooit deur enige sekuriteit firma aangestel nie.
Dit is ongelooflike beelde maar die vrystelling het soos ek gevrees het nou ‘n swaard bo die twee se koppe geplaas.

JohanR ·

Dit is al bewys dat by elke transito roof is daar ‘n polisie beampte betrokke, of ‘n werker by die geld vervoor maatskappy. By die 0B Tambo dollar en euro rooftog, het hulle self iemand in die toring gehad.

Cherokee ·

Bewys sê jy? Dit is al bewys? Dìt het ek nog nie raak gelees nie.

Nie Verbaas ·

Daar was n program op televisie oor die rooftog en daar was hulp uit die toring wat die vliegtuig weg van die hoofgebou laat parkeer het. Vliegtuie wat geld vervoer is veronderstel om reg voor die gebou te parkeer juis as gevolg van sekuriteit. So dit is bewys.

Keelvol ·

JohanR daar is wel gevalle wat daar wel polisie manne betrokke is. Daarmee kan ek nie stry nie. Maar dis nog nooit bewys dat by ELKE transito roof n polisie manne betrokke is nie. Jy moenie net aamanings maak nie.

JM ·

Transito rooftogte vind plaas met behulp van binne-inligting, want hoe anders weet die rowers wanneer en waar om toe te slaan? Ons land het in ‘n uiters gevaarlike rampokkerstaat ontaard. Mense is nie meer hul lewe seker nie. Mag Prinsloo en sy gesin bewaar bly.

SomeOne ·

dis net jammer die bmw was net ‘n sekonde later of leo moes dit net harder gestamp het, die kamera/lamp paal so baie mooi gehelp het

Jr ·

Sit die driegers se identikits op social media sodat die hele SA sien hulle. Maak dit sodat daai betrokkes nie eers n coke sal kan koop by n kafee. Nie n treë gee sonder on herken te word. En SA help om hulle te vang

Aai ·

Kan jou belowe Leon nie bang vir hulle natuurlik moet hy sy familie beskerm want hulle sal vir daai sagte teiken gaan.Dalk kry die rowers nog ‘n groot verrassing.Dit moet iemand wees wat vir die maatskappy werk wat vrag vervoer wat inligting aan sy makkers gegee het van escourt en vrag inhoud.Kan niemand anderste wees.

Cherokee ·

Die woord transitorowers behoort vervang te word met moordenaars. Dit is immers ooglopend dat hulle geen gewete het nie.

Ovelia ·

Mooi so manne. Leer bq die polisie van werda polisiestasie maniere. Julle 2 is tops

Vonkprop ·

Maak sin dat hy dreigemente ontvang, want hy het die rowers pateties laat lyk en hulle wil tog nie ‘n slegte beeld hê nie en hulle wil basies wraak neem, maar dit is net jammer dat Leo in SA bly waar kriminele beter na gekyk word as landsburgers.

Kattebol ·

Bravo!….. En dankbaar dat die Vader julle beskerm het.

Nie Verbaas ·

As die rowers nou doodsdreigemente teenoor hom en sy familie uiter meen dit hulle kry persoonlike informasie van iemand in die sekuriteits maatskappy of die polisie. Rowers nou n bespotting en dit tas klaarblyklik hulle egos hewig aan.

Blikkies ·

Ek hoop van Harte Leo en sy kollega word na gekyk en is veilig.

Danie ·

Ek sou beslis nie so ver na links by die Ranger verbygery het nie.

Zet ·

Hoekom kry Leo se partner ni dreigemente ni? En selfoon sein gerieflik af op besige pad. Daai mannetjie lyk alte rustig vi my.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.