Doodsdreigemente voor Ermelo-vrou se moord

Issie Dippenaar. Foto: Facebook

Issie Dippenaar. Foto: Facebook

Issie Dippenaar (58) het Maandagaand vir die eerste keer in ʼn week by haar eie huis in Ermelo, Mpumalanga, geslaap, omdat sy vir haar lewe gevrees het. Sy is dieselfde aand vermoor.

Louwrens Jacobs, Dippenaar se swaer, het Woensdag aan Maroela Media vertel Dippenaar het doodsdreigemente ontvang van ʼn voormalige tuinier wat sy afgedank het. “Die man het agt jaar lank vir haar gewerk en soos sy alle mense behandel het, so het sy hom ook behandel – met respek en absolute menswaardigheid,” het Jacobs gesê.

Hy vertel Dippenaar het ook vir die tuinier werk by haar skoonouers en die CMR-kinderhuise wat sy bestuur het, gereël. Sy het ongeveer ʼn jaar gelede tydens werksure by die huis gekom en gesien die tuinier het haar Audi A6-motor, wat sy uit die motorhuis getrek het sodat hy dit kon was, vir ʼn plesierrit geneem. Sy het hierna die tuinier afgedank omdat sy gevoel het die vertrouensverhouding is onherroeplik beskadig.

Die tuinier het as gevolg hiervan ook die ander werksgeleenthede wat Dippenaar vir hom gereël het, verloor.

“Hierdie man kon nooit insien dat sy eie optrede daartoe gelei het dat hy sy werk verloor het nie. Vir hom was dit Issie se skuld dat hy sy inkomste kwyt was. Dit het baie sleg gegaan met hom en ek dink dit het die wrok in hom al meer laat opvlam,” het Jacobs gesê.

Hy vertel die tuinier het Dippenaar eenkeer by een van die kinderhuise gekonfronteer en gesê het hy sal haar doodmaak as sy nie sy werk vir hom teruggee nie. Dippenaar het hom gevra om die perseel te verlaat, maar sy was sedertdien bang vir wat die man aan haar sou doen.

“Nadat Issie se buurman se tuinier, Kenny, ook in haar tuin begin werk het, het hierdie voormalige tuinier vir Kenny gekonfronteer en gedreig. Hy het Kenny sowat twee weke gelede aangeval en met ʼn skroewedraaier gesteek,” het Jacobs vertel.

Hy sê die polisie het egter geweier dat Dippenaar ʼn klag hieroor indien en gesê Kenny moes dit self doen. Kenny was te bang om die saak verder te voer, omdat hy geglo het die tuinier is deel van ʼn bende en dat sy makkers moontlik iets aan hom sou doen indien die tuinier in hegtenis geneem word.

“Die naweek voor verlede naweek is Issie Pretoria toe om Afrikaans Is Groot by te woon. Nadat sy teruggekom het, het sy by haar ma gaan woon, omdat sy bang was vir die tuinier,” het Jacobs gesê. “Sy het wel die veiligheid rondom haar huis opgeskerp deur haar alarm aan ʼn reaksie-eenheid te laat koppel en ʼn veiligheidshek by haar slaapkamer aan te bring. Maandag het sy vir die eerste keer weer teruggegaan om in haar eie huis te slaap.”

Volgens Jacobs vermoed hy die moordenaar het moontlik in die huis se dak geskuil, aangesien hulle later, ná die moord, gesien het die luik, wat na die dak lei, is oop. “Issie het haar ma gebel toe sy by die huis kom en gesê sy is veilig en gaan nou die veiligheidshek by haar kamer sluit en daar sit en werk. ʼn Paar minute later het my skoonma haar weer gebel om iets te vra, maar sy het nie haar selfoon geantwoord nie. Sy het ook nie haar huistelefoon geantwoord nie. Sy was toe omtrent histeries en het dadelik Issie se buurman gebel om ondersoek in te stel.”

Dippenaar se buurman, Abe, het saam met sy seun by Dippenaar se huis gaan aanklop, maar daar was geen antwoord nie. Volgens Jacobs het hulle wel van buite gesien hoe ʼn man deur die huis beweeg en hulle het die veiligheidsmaatskappy ontbied.

By die motorhuis het hulle Dippenaar se Audi gesien, wat halfpad uit die motorhuis getrek was. Die venster was oop en twee selfone het op die passasiersitplek gelê. By nadere ondersoek het hulle Dippenaar se liggaam in die motor se kattebak ontdek. “Haar hande en voete was vasgebind en sy het in ʼn fetus-posisie gelê. ʼn Verband is gebruik om haar mond toe te bind en ʼn elektriese koord was om haar nek,” het Jacobs gesê.

Issie Dippenaar. Foto: Facebook

Issie Dippenaar. Foto: Facebook

Maroela Media het vroeër berig ʼn man is Dinsdagmiddag in die Wesselton-woonbuurt in verband met die moord in hegtenis geneem. Hy is tydens sy inhegtenisneming in sy sy geskiet en word tans in die plaaslike provinsiale hospitaal behandel. Kapt. Carla Prinsloo, woordvoerder van die polisie, het Woensdag bevestig dit is wel die voormalige tuinier wat in hegtenis geneem is. Sy het gesê Dippenaar se bankkaart, ‘n groot bedrag kontant en ‘n gaspistool is tydens die inhegtenisneming in sy besit gevind.

“Dit is nie vir ons om te oordeel nie. God is die regter,” het ʼn emosionele Jacobs gesê. “Ten spyte van al die hartseer en pyn, moet ons ook bid vir die redding van hierdie man se siel.”

Hy het gesê die familie hou nou aan hul geloof vas om hulle deur die moeilike tyd te kry. “As ʼn mens nie jou fondasie in die Here gehad het nie, sou mens dit seker heeltemal verloor het. Issie het haar lewe vir die Koninkryk gegee. Die kinderhuise en die kinders daar was die rede vir haar bestaan. Die hele Ermelo ween oor haar dood. Ons weet op die ou end as jy die Here dien, gaan jy nie dood nie. Jy skuif bloot uit hierdie liggaam, ʼn tydelike tentwoning, na jou ewige woning by die Here. En dit waarin ons berusting vind.”

Jacobs het gesê dit gee hom gemoedsrus om te weet Dippenaar is nou weer by haar man, André, wat net meer as twee jaar gelede oorlede is. “Ons weet die Here sal ons help om só te lewe, dat ons haar ook weer eendag kan sien. Ons lewe nie sonder hoop nie. Ons hoop is in die Here.”

Dippenaar word oorleef deur haar twee seuns, Eben en Quinton, haar dogter Amoré en twee kleinkinders. Geen begrafnisreëlings is sover bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

47 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

Baie baie hartseer die. Ken nie vir Issie nie, maar die vat aan n mens en watter pragtige woorde van haar kinders in die boodskap. Daardie opregte seer….Kan net vir jul bid en glo en vertrou dat God jul in die tyd en die dae en jare sal deurdra. Wees sterk en weet sy rus sag in God se arms……..

spel foutjie

KONINGRYK?

Wiebo

Dit is net soos die man wat in Moreleta Park mense geskiet het. Die polisie was bewus van die man, maar hulle het niks gedoen nie. Net soos die polisie in Ermelo wat geweet het van die tuinier se dreigemente, en niks gedoen nie. Ek het n vriend wat dreig om my en my dogter dood te maak. Ek het alreeds n beskermingsbevel teen hom. Hy dreig nogsteeds om my dood te maak, maar die polisie se hulle kan niks aan hom doen voordat hy nie iets aan my doen nie. Hier kom nog n moord en my hande is… Lees meer »

Fanie

Hoe kan mens vir iemand se siel bid as hy nie een het nie.Ek het baie simpatie met Issie en haar kinders.So word ons net statestieke.

Jean

Dit bly skokkend dat jy moet vrees vir jou lewe na ‘n afdanking van iemand wat duidelik oortree het. Dis vreemd die mentaliteit van mense wat dink as jy ontevrede is by ‘n werksplek of ‘n loongeskil met iemand het, jy daardie persoon mag doodmaak. Nie net het hy nou in elk geval nie ‘n werk of ‘n inkomste nie, maar ook baie kinders en ander mense waarvoor sy haar hart en siel gegee het sit nou sonder haar hulp en bydrae. Jy het ‘n ‘icon’ vermoor, is jy nou trots op jouself? Rus in vrede en baie sterkte aan… Lees meer »