Doodskis-saak: Een op parool vrygelaat

Willem Oosthuyzen (voor) en Theo Martins Jackson in die hof (Augustus 2017) Foto: Landi Slatter

Een van die mans wat skuldig bevind is op etlike aanklagte in die opspraakwekkende doodskis-saak, is reeds Woensdag op parool vrygelaat.

Theo Martins Jackson is na twee en ’n half jaar agter tralies ’n vry man. Sy medepligtige, Willem Oosthuyzen, is steeds in aanhouding, maar gaan ook binnekort vrygelaat word.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), het bevestig dat Jackson sowel as Oosthuyzen vroeg in Februarie parool toegestaan is.

Die korrektiewe toesig- en paroolraad het besluit om parool toe te staan nadat hulle die minimum vereiste tydperk van hul vonnisse asook die nodige rehabilitasieprogramme suksesvol voltooi het.

“Hulle bly nou onder korrektiewe toesig en sal volgens hul vonnisvoorwaardes gemonitor word tot die vervaldatum van die vonnisse,” het Nxumalo gesê.

Jackson en Oosthuyzen is in 2017 gevonnis op ʼn reeks aanklagte nadat daar bevind is hulle het Victor Mlotshwa aangerand en in ʼn doodskis ingedwing. ʼn Video van die voorval is wyd op sosiale media versprei.

Maroela Media het vroeër berig Oosthuyzen en Jackson is oorspronklik in die rondgaande hof in Middelburg onderskeidelik tot effektief 11 jaar en 14 jaar tronkstraf gevonnis.

Hul appèl teen hul skuldigbevinding en vonnisse is in November in die appèlhof in Bloemfontein toegestaan.

Die appèlhof het die skuldigbevinding en vonnisse wat in die rondgaande hof in Middelburg opgelê is ter syde gestel. Dié hof het albei mans skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer en ontvoering. Jackson is ook skuldig bevind aan regsverydeling. Die ander aanklagte, van onder meer poging tot moord, is ter syde gestel.

Oosthuyzen en Jackson is tot effektief vyf jaar tronkstraf gevonnis. Die vonnisse is terugwerkend tot 25 Augustus 2017.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan Venter ·

Jip, en ek sien Beeld berig “Een van die sogenaamde doodskis-2 van Mpumalanga is die afgelope week stil-stil op parool vrygelaat.” Stil-stil né? Ek het idee hy is net vrygelaat, niemend het iets stilletjies gedoen nie.

Anet ·

Hulle moes in die eerste plek nie tronkstraf gekry het nie, maar ek is dankbaar dat hulle eindelik uitkom.

Jones ·

Dis baie goeie nuus. Ek is so bly vir hulle en hul families

Pieter J ·

Hierdie saak het ń absolute grap van die regstelsel gemaak.

Andrè ·

Wat het geword van die duisende kriminele wat vrygelaat is maar hulle saak is seker te “ernstig”?

lodewyk ·

Hoeveel regte moordernaars word na n kort tydperk vrygelaat en verkrag en moor sommer op die selfde dag ??-maar hulle word stil -stil op parool vrygelaat?? -die media moet bietjie hieroor berig??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.