Doodskis-saak: Hof sê oor appèl

Theo Martins Jackson en Willem Oosthuyzen in die hof voordat die vonnis gelewer is (27 Oktober 2017). Foto: Landi Slatter

Die regspan van Theo Martins Jackson (29) en Willem Oosthuyzen (28), die mans wat skuldig bevind is op verskeie aanklagte in die opspraakwekkende doodskis-saak, het Vrydag na afloop van die vonnisuitspraak ʼn aansoek om verlof tot appèl by die hooggeregshof in Middelburg ingedien.

Dit kom nadat Oosthuyzen en Jackson vroeër onderskeidelik tot effektief 11 jaar tronkstraf en 14 jaar tronkstraf gevonnis is. Die mans is gevonnis op verskeie aanklagte, insluitend poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, nadat hulle Victor Mlotshwa in ʼn doodskis in gedwing het. ʼn Video van die voorval is later wyd op sosiale media versprei.

Adv. Wayne Gibbs, Oosthuyzen se regsverteenwoordiger, het namens die verdediging die gesamentlike aansoek om verlof tot appèl by die hof ingedien. Hy het verskeie redes vir die aansoek aan die hof voorgehou, onder meer dat Mlotshwa geen sigbare beserings aan die hof kon uitwys nie en dat sy weergawe van sy beserings nie ooreenstem met die verslag van die mediese kundige wat hom ondersoek het nie.

Buite die hooggeregshof in Middelburg (27 Oktober 2017). Foto: Landi Slatter

Gibbs het ook melding gemaak van die kundige van die Car Track-opsporingsmaatskappy wat vroeër getuig het oor die posisionering van die voertuie ten tyde van die voorval.

Gibbs het gesê Mlotshwa se uitlokking van die beskuldigdes regverdig die “teenreaksie” van wat uiteindelik gebeur het.  Hy het ook aangevoer dat die hof die twee mans skuldig bevind het aan poging tot moord “selfs al is daar geen bewyse wat aandui dat een van die twee probeer het om Mlotshwa dood te maak nie”.

Adv. Org Basson, vir Jackson, het laat hoor die feit dat Jackson die kis verbrand het, kan nie gesien word as dwarsboming van die gereg nie omdat hy dit verbrand het voor hy in hegtenis geneem is.

Buite die hooggeregshof in Middelburg (27 Oktober 2017). Foto: Landi Slatter

Robert Molokoane, die staatsaanklaer, het die aansoek teengestaan en aangevoer Jackson het presies geweet hoekom hy die kis moes verbrand. “Hoekom is dit nie op al die vorige geleenthede wat dit gebruik is verbrand nie? Omdat julle geweet het wat kom,” het hy gesê.

Gibbs het op sy beurt aangevoer dat die verdediging Delton Sithole, ʼn tweede man wat deur Oosthuyzen en Jackson aangerand is, se weergawe van die gebeure ten volle verwerp. Gibbs het verder aangevoer die feit dat die koperkabel, wat Mlotshwa volgens die beskuldigdes gesteel het, nêrens te vinde is nie, dui aan dat die polisie betrokke was by hierdie saak. “Mlotshwa erken óp die video dat daar ʼn kabel was,” het hy gesê.

Basson het ook gesê Molokoane het aan die verslae van Car Track gepeuter en nie vir die hof daarvan gesê nie.

Regter Sheila Mphahlele het ná ʼn verdaging die aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys. “Ek het weer na die bewyse gaan kyk, asook my uitspraak en my vonnis van vanoggend. Die hof neem kennis dat daar teenstellings was tussen die twee klaers se weergawes, maar die hof het op die ou end bevind dit is nie ʼn kwessie nie,” het sy gesê.

Buite die hooggeregshof in Middelburg (27 Oktober 2017). Foto: Landi Slatter

“Met betrekking tot die aanranding met die doel om ernstig te beseer het die hof bevind dat daar ʼn bedoeling was om ernstige beserings aan te rig aan beide Sithole en Mlotshwa. Ek wil weer noem of die beserings wel aangerig is, is nie die kwessie nie – dit gaan oor die bedoeling. Ek het vanoggend ook melding gemaak van die gebrek aan bewyse met betrekking tot die beserings. Die hof het bevind hul optrede by die kuilvoergat is bewys van mense wat bedoel om moord te pleeg.”

Haar uitspraak is deur luide applous van sommige mense in die openbare galery begroet.

Marius Coertze, ʼn regsverteenwoordiger vir Jackson en Oosthuyzen, het aan Maroela Media gesê hulle sal nou direk by die appèlhof ʼn aansoek om verlof tot appèl indien.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.