Doodskis-saak: Twee vandag gevonnis

Willem Oosthuyzen (voor) en Theo Martins Jackson in die hof (27 Oktober 2017) Foto: Landi Slatter

Theo Martins Jackson (29) en Willem Oosthuyzen (28), die twee mans wat in die Middelburg-hooggeregshof skuldig bevind is op verskeie aanklagte in die opspraakwekkende doodskis-saak, word Vrydag gevonnis.

Jackson en Oosthuyzen is op 25 Augustus in die Middelburg-hooggeregshof in Mpumalanga skuldig bevind op ses van die sewe aanklagte teen hulle nadat hulle Victor Mlotshwa aangerand het voordat hulle hom in ʼn doodskis ingedwing het. Die aanklagte sluit poging tot moord en die aanranding van ʼn tweede man, Dalton Sithole, in.

Die staat en verdediging het Maandag getuies in die hof geroep om ter verswaring en versagting van die vonnis te getuig.

ʼn Maatskaplike werker, wat nie geïdentifiseer mag word nie uit vrees vir haar veiligheid, het ter strafversagting vir Oosthuyzen en Jackson getuig. Sy het onder meer getuig dat Oosthuyzen nie meer op die plaas, waar hy werksaam was, kon aanbly nie en dat hy, sy vrou en hul jong kinders nou by sy skoonouers woon. “Hy verkoop nou vrugte en groente vir ʼn inkomste, maar sy inkomste is nie vas nie en wissel van maand tot maand,” het sy gesê.

Sy het verder genoem Oosthuyzen is ʼn eerste oortreder, hy is die broodwinner van sy gesin en hy moet sy vrou en kinders ondersteun. Volgens haar verslag was daar nog nooit enige klagte van rassisme teen Oosthuyzen nie. Sy het bygevoeg dat sy kinders skeidingsangs ervaar.

Oosthuyzen het self getuig en gesê hy is spyt dat hulle vir Mlotshwa in die kis ingedwing het en hom nie eerder na ʼn polisiestasie geneem het nie.

Die maatskaplike werker het, met verwysing na Jackson, gesê dat hy ook die primêre bron van inkomste vir sy gesin is en dat hy ook sy fisiek gestremde pa ondersteun. Sy het verder aangedui dat hy ook ʼn eerste oortreder is en ʼn vrou en kinders het om te onderhou. Sy vrou werk tans, maar daar is, volgens haar, net R108 van haar salaris oor ná aftrekkings.

Jackson het tydens sy getuienis gesê hy is spyt oor wat gebeur het.

Oosthuyzen het bygevoeg albei beskuldigdes het hulself aan die polisie oorgegee en het die langer weergawe van die video aan die hof beskikbaar gestel. “As hulle nie verantwoordelikheid vir hul aksies wou aanvaar nie, sou hulle nooit skuld beken het op sekere feite nie. Nie een van hulle het ʼn geskiedenis van soortgelyke gedrag nie. Hulle het ondersteuningsnetwerke wat hulle kan bystaan en sal kan rehabiliteer sodat hulle weer in die samelewing geïntegreer kan word.”

Sy het die hof versoek dat, indien die mans tronkstraf opgelê sou word, hulle na ʼn gevangenis in Witbank gestuur word, eerder as in Middelburg. Sy het verder eerder korrektiewe toesig en gemeenskapsdiens vir die beskuldigdes voorgestel.

Mlotshwa het ter strafverswaring gesê Jackson en Oosthuyzen moet tot minstens 15 jaar tronkstraf gevonnis word. Dit het ook aan die lig gekom dat Mlotshwa R400 000 in ʼn siviele hofgeding van Oosthuyzen en Jackson eis.

Regter Sheila Mphahlele het haar uitspraak oor die vonnisoplegging tot Vrydag voorbehou.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.