Doodskis-saak: Uitspraak verwag

Willem Oosthuizen (voor) en Theo Martins Jackson in die hof (1 Augustus 2017) Foto: Maroela Media

Theo Martins Jackson (29) en Willem Oosthuizen (28), die beskuldigdes in die veelbesproke doodskisvideo-saak, gaan na verwagting vandag [Vrydag] hul lot in die Middelburg-hooggeregshof hoor.

Die beweerde slagoffer, Victor Rethabile Mlotshwa, sy ma, Lonea Mlotshwa, en verskeie ander ANC-lede het Maandag positief gelyk oor die uitspraak in die saak nadat die slotbetoë aangehoor is. ʼn Klein groep ANC-lede het nagemaakte doodskiste buite die hof gedra en gedans en gesing terwyl hulle gewag het vir die verrigtinge om te begin. Foto’s van Oosthuizen en Jackson was bo-op die kiste vasgemaak.

Tydens Jackson en Oosthuizen se borgtogaansoek by die Middelburg-landdroshof was die straat voor die hof vol ANC- en EFF-lede wat die saak as rassisties afgemaak en daarop aangedring het dat hulle nie borgtog toegestaan moet word nie. Hul aansoek is van die hand gewys.

Oosthuizen en Jackson word daarvan beskuldig dat hulle Mlotshwa in ʼn doodskis ingedwing het nadat hulle hom na bewering aangerand het. ʼn Video van Mlotshwa wat in die kis ingedwing word, het wyd opslae gemaak toe dit op sosiale media versprei is.

Die twee beskuldigdes staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, aanranding met die doel om ernstig te beseer en intimidasie.

Adv. Robert Molokoane, die staatsaanklaer, het Maandag tydens die lewering van sy slotargumente gesê die bewyse wat aan die hof voorgelê is, dui daarop dat Oosthuizen en Jackson vir Mlotshwa wou vermoor. “Die beskuldigdes het Mlotshwa gedreig en na ʼn sloot geneem. Dit beteken hulle het reeds begin met hul poging om hom te vermoor,” het Molokoane gesê.

“Die voorval was poging tot moord, want Mlotshwa is ook aangerand. As jy hom net wou skrikmaak, hoekom gebruik jy ʼn doodskis? Terwyl Mlotshwa in die kis was, het die hof self gesien hoe hulle probeer het om die kis toe te maak. Hy sou versmoor en dood gewees het as hulle die kis toegemaak het.”

Adv. Wayne Gibbs, Oosthuizen se regsverteenwoordiger, het volgehou dat die beskuldigdes nie skuldig is aan poging tot moord nie aangesien hulle nooit van voorneme was om Mlotshwa dood te maak nie. Hy het aangevoer daar is teenstrydigheid tussen Mlotshwa se getuienis oor die aard van sy beserings wat hy tydens die beweerde aanranding opgedoen het en die getuienis van sy ma, Lonea.

“Mnr. Mlothswa is gevra om sy beserings aan die hof te wys, maar hy het geweier,” het Gibbs gesê. “Ek het nog nooit van enige saak gehoor waar mense eers ʼn doodskis gaan haal voor hulle iemand vermoor nie. Ek stel dit aan die hof dat daar geen bewyse is dat daar enigsins ʼn voorneme was om mnr. Mlotshwa te vermoor nie.”

Mlotshwa en sy ma het tydens die verrigtinge telkens met ander ANC-lede in die volgepakte hofsaal gepraat.

Lees alle vorigte berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Carel ·

Die saak word heeltemal uit verband uit geruk
Ek kan nie glo die aanklaer laat hom so vermaak deur onbenullighede nie. Maar ek sien ongelukkig moeilikheid vir die twee

Sê wie ·

Maar ‘n weermaglid wat ‘n persoon skiet in verkeer se saak word spoedig deur die SAP afgehandel sonder ‘n hofsaak of aanklag van poging tot moord? Dubbele standaarde in ons erg deurmerkaar land!!!!!!

Leahim ·

Mense doen aan jou wat jy hulle toelaat ek wed julle die ou wat gearesteer is vir die selfverdediging met die knipmes gaan geen siviele eis instel teen die regering vir 2 redes
1) Hy weet nie hoe
2) Hy is maar te bly oor sy lot en hy gaan sy pak vat en wegloop
Voorbeelde moet gemaak word sodat die polisie twee keer dink voordat hulle buite die reels en regulasies optree

Swannie ·

Dit kos BAIE geld om `n saak teen die Staat te maak – ek was al daardeur.

Saak word telkens uitgestel – soms 7 – 10 keer, AS jy gelukkig is, maar die prokureur/advokaat moet nog steeds betaal word.

Selfs al wen jy die saak ( soos in my geval). teken die Staat nog steeds appèl aan, en Boeta, dan kan die kostes oploop. Indien jy by appèl die saak verloor, is jy dan ook nog verantwoordelik vir die Staat se onkostes.

`n Gewone persoon het eenvoudig nie die finansies om die staat aan te vat nie,

Pieter ·

Pateties maar as dit by PLAASMOORDE kom is daar geen BETOGERS deur partye nie wys jou net aan watter kant staan die ANC.

Leahim ·

Swannie dankie vir daardie info ek het dit nie geweet nie maar dit is die rede waarom ek en duisende mense n klein bedrag skenk elke maand vir Afriforum daar behoort n regshulp fonds gestig te word om mense by te staan in hierdie situasies.

LMF ·

Jaaaa kom ons Los afriforum en skenk ons geld vir ons eie mense wat gehelp moet word is die uitspraak al gelewer of wat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.