Doodskis-twee gevonnis

Theo Martins Jackson en Willem Oosthuyzen in die hof voordat die vonnis gelewer is (27 Oktober 2017). Foto: Landi Slatter

Theo Martins Jackson (29) en Willem Oosthuyzen (28), die mans wat skuldig bevind is op verskeie aanklagte in die opspraakwekkende doodskis-saak, is vandag in die Middelburg-hooggeregshof gevonnis.

Oosthuyzen is effektief tot 11 jaar tronkstraf gevonnis en Jackson tot effektief 14 jaar tronkstraf.

Regter Sheila Mphahlele het Oosthuyzen tot drie jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding met die doel om ernstig te beseer van Victor Mlotshwa, tot drie jaar tronkstraf vir die aanranding met die doel om ernstig te beseer van Dalton Sithole, tot vyf jaar tronkstraf vir ontvoering, tot sewe jaar tronkstraf vir poging tot moord en tot ses jaar tronkstraf vir intimidasie.

Jackson is tot drie jaar tronkstraf opgelê vir die aanranding met die doel om ernstig te beseer van Mlotshwa, drie jaar tronkstraf vir die aanranding met die doel om ernstig te beseer van Sithole, vyf jaar vir ontvoering, sewe jaar vir poging tot moord en ses jaar vir intimidasie en drie jaar vir dwarsboming van die gereg.

Van die aanklagte se vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Mphahlele het tydens die vonnisoplegging gesê sy sal nie die vorige aanklagte wat Jackson teen hom het, naamlik bestuur sonder ʼn lisensie, in ag neem nie omdat dit nie gewelddadig van aard was nie.

Polisiebeamptes buite die hooggeregshof in Middelburg (27 Oktober 2017). Foto: Landi Slatter

Sy het tydens haar uitspraak ʼn kort opsomming van albei beskuldigdes se persoonlike omstandighede voorgehou. “Oosthuyzen het gesê dat hy spyt is dat hy Mlotshwa in die kis geplaas het. Hy het twee dogtertjies van onderskeidelik twee en een jaar oud,” het Mphahlele gesê.

Oor Jackson het sy gesê dat hy ʼn ongelukkige en onstabiele kinderlewe gehad het. “Toe hy in hegtenis geneem is, was hy ʼn plaasvoorman. Hy werk egter nou as ʼn nutsman omdat hy nie langer op die plaas waar hy werksaam was kon aanbly nie. Hy en sy vrou het drie dogtertjies waarvan die oudste tien jaar oud is. Hy is nie die primêre versorger van die gesin nie, sy vrou werk ook.”

Sy het gesê die mans is aan ernstige aanklagte skuldig bevind. Sy het ook beklemtoon dat Mlotshwa se menseregte geskend is en dat hy ook ʼn reg tot veiligheid het en ʼn reg om nie op vernederende wyse vir sy oortredings gestraf te word nie.

Mphahlele het ook genoem dat Oosthuyzen en Jackson al by vorige geleenthede swart mense in die betrokke kis geplaas het. “Hulle het dit gedoen om swart mense wat hulle vermoed gesteel het bang te maak. Nie een van hierdie voorvalle is ooit aangemeld by die polisie nie. Dit gaan in teen die grein van die grondwet.”

Volgens Mphahlele was dit afstootlik om ʼn mens teen sy wil lewend in ʼn kis te sit en te dreig om hom dood te maak. “Hulle het hom gevra hoe hy wil doodgaan, stadig of vinnig. Dit was walglik en onmenslik. Die pyn en trauma wat Mlotshwa ervaar het, kan ons ons net indink.”

Sy het gesê die enigste tyd toe die twee beskuldigdes berou vir hul dade getoon het, was toe versagtende omstandighede aan die hof voorgehou is. Sy het ook gesê die hof neem kennis dat daar nie mediese bewyse van die aanranding aan die hof voorgehou is nie, maar neem ook die erns van die saak in ag.

Mphahlele het genoem dat rasse-voorvalle al meer in die samelewing begin kop uitsteek. Volgens haar is Oosthuyzen en Jackson jonk en het hulle in ʼn demokratiese bestel grootgeword. “Dié wat ons handves van menseregte oortree moet aan die pen ry, dit is die hof se verantwoordelikheid,” het sy gesê.

Familielede van die beskuldigdes het deurentyd tydens die vonnisuitspraak gesit en huil.

Die hof het ná die vonnisuitspraak tydelik verdaag.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.