Doodskis-video: Ander man vertel van ‘aanranding’

Willem Oosthuizen (voor) en Theo Martins Jackson in die hof (1 Augustus 2017) Foto: Maroela Media

Delton Sithole, wat beweer hy is deur Willem Oosthuizen en Theo Martins Jackson aangerand voordat hulle glo Victor Rethabile Mlotshwa in ʼn doodskis ingedwing en gedreig het, was Dinsdag die tweede getuie wat geroep is om in die Middelburg-hooggeregshof in Mpumalanga te getuig.

Sithole het in Tsonga getuig en sy getuienis is deur ʼn tolk aan ʼn volgepakte hof oorgedra.

Sithole het getuig dat hy op 17 Augustus 2016 in die Big House-nedersetting woonagtig was toe hy glo aangerand is. “Ek was omstreeks 08:00 op pad van Kamfefe na Big House en het van die Kamfefe-pad gebruik gemaak. Terwyl ek geloop het, het Oosthuizen op my afgekom.”

Sithole het verduidelik die Kamfefe-voetpad strek deur twee mielielande en daar is ʼn spoorweg met ʼn deurgang vir voetgangers om veilig onderdeur die spoor te loop.

“Hy het van voor af gekom en met ʼn bakkie gery. Hy het in die bakkie gesit en gevra ‘wat soek jy hier’? Ek het gesê dit is ʼn pad, mense maak gebruik van die pad. Die verdagte het uit die voertuig geklim, my gekonfronteer en aan my regtergewrig gegryp. Ek het my verset om uit sy greep te kom. Net nadat hy my laat gaan het, het hy gesê hy soek nie ʼn k***** op die plaas nie. Ek het verneder gevoel. Ek het aangehou om te loop.”

Sithole beweer Oosthuizen is terug na sy bakkie en het met ʼn vuurwapen teruggekom. Hy het gesê toe hy Oosthuizen se vuurwapen sien, het hy weggehardloop na die spoorlyn toe.

“Ek het besef die bakkie sal nie die spoorlyn kan oorsteek nie en het rustiger gevoel. Toe ek aan die kant van die Blinkpan-myn [die plaas wat Jackson bestuur] kom, het Jackson my in sy bakkie my genader.”

Hy het gesê hy het probeer weghardloop maar besef hy gaan nie kan weg kom nie. Jackson het stilgehou en aangedring dat hy op die bakkie klim. “Hy het my nie gesê waarheen hy my gaan vat nie. Volgens my waarnemings was hy aggressief en wou baklei. Ek wou die bakkie se linkerdeur oopmaak om in te klim, waarna Jackson gesê het hy gaan nie ʼn sitplek met ʼn k***** deel nie. Ek het toe agterop die bakkie geklim en Jackson het vertrek.”

Volgens Sithole het Jackson hom na ʼn huis geneem waar Oosthuizen gewag het.

“Oosthuizen het na Jackson se bakkie gekom en my gevra hoekom ek weggehardloop het. Voor ek iets kon sê, het al twee agterop die bakkie geklim en reg oor my lyf begin skop. Terwyl hulle my geskop het, het ek gelê sodat ek my kop kan beskerm.”

Hy het gesê terwyl hulle hom van links en regs af geskop het, het een van hulle gesê “daar is ʼn ander k***** hier op die plaas”. “Hulle het opgehou om my te skop en elkeen het met sy eie bakkie gejaag na die ander persoon wat glo die plaas betree het,” het Sithole gesê.

Volgens Sithole was hy toe nog steeds agterop Jackson die bakkie. “Hulle het die persoon gejaag, ingehaal en ons albei teruggebring waar ek vantevore was. Oosthuizen wou weet of ek hom ken. Ek het gesê ek ken hom nie, waarna ek vrygelaat is.”

Hy het gesê sy lippe was stukkend geslaan en sy tong het gebloei nadat hy dit raakgebyt het. Hy het gesê sy hele lyf was seer maar hy het andersins geen oop wonde opgedoen nie. Dit het hom glo ʼn week geneem om te genees maar hy het “vandag nog knoppe op sy kop”.

Hy het gesê hy het nie na ʼn dokter toe gegaan nie. Toe hy by die plakkerskamp kom, het hy vir die mense gesê daar is wit persone wat besig was om ʼn man [Mlotshwa] aan te rand.
Sithole het Mlotshwa later dieselfde dag gesien. “Hy het na my gekom en gesê hy is aangerand en in ʼn houer gesit. Hy het nie gesê dit was ʼn doodskis nie. Daar was geen bloed aan hom nie omdat hy reeds gebad het, maar sy oë was bloedrooi.”

Hy het gesê hy het nie die voorval by die polisie aangemeld nie want die polisiestasie was te ver en hy was baie deurmekaar.

Sithole het gesê hy het uiteindelik ʼn saak by die polisie aanhangig gaan maak nadat hy oor die video in die Daily Sun gelees het. “Toe is politici al betrokke en ons het toe gevoel dit is nodig om dit by die polisie aan te meld.”

Adv. Wayne Gibbs, vir Oosthuizen, het dit onder kruisverhoor gestel dat nie ʼn enkele woord wat Sithole Dinsdag gesê het, waar is nie en teenstydig is met sy ondertekende verklaring wat by die polisie afgelê is.

Gibbs wou weet hoekom Sithole beweer die voorval het op 17 Augustus 2016 plaasgevind, aangesien hulle bewyse sal bring wat aandui Mlotshwa se voorval het op 6 September plaasgevind.

“Ek is doodseker dit was op 17 Augustus. Ek sal daai dag se aanranding en vernedering nooit vergeet nie, net soos ek my verjaarsdag nie sal vergeet nie,” het Sithole gesê.

Sithole het gesê hy weet nie waarom Oosthuizen hom gegryp en die vuurwapen gaan haal het nie.

Gibbs wou weet hoekom Sithole nooit die polisie gebel het om te sê hy is aangerand nie en om hulle van Mlotshwa se ontvoering en aanranding in kennis te stel nie.

Sithole het weer geantwoord hy was deurmekaar en het in daardie stadium gedink dit kon dalk polisievoertuie wees, aangesien die bakkies wat in die omgewing die plase patrolleer embleme op hul deure het, soortgelyk aan die polisie se embleem.

“Oosthuizen en Jackson sal ontken dat hulle bakkies enige embleme op gehad het,” het Gibbs gesê. “Inteendeel my kliënt sal ontken dat die voorval enigsins plaasgevind het of jou enigsins voor die eerste hofverskyning gesien het.”

Adv. Org Basson, vir Jackson, het gesê Sithole se getuienis is moeilik om te glo en onwaarskynlik.

“Die huis waar jy sê die twee mans jou op die bakkie geskop het, is naby Big House. Jou hande en voete was nie vasgebind nie en jy kon maklik van die bakkie afspring en hulp gaan soek het,” het Basson gesê. Sithole het geantwoord die bakkie het te vinnig gery.

“Verder het jy verneder en seergemaak gevoel oor die twee mense wat jou sonder enige rede aangeval het. Jy het ʼn selfoon, hoekom het jy nie toe die polisie gebel en hulp ontbied vir jou en Mlotshwa nie? Jy beweer jy was deurmekaar en jy hy net vir mense by die plakkerskamp daarvan vertel. Was jy later die dag nog steeds deurmekaar toe jy Mlotshwa gesien het?”

Sithole het hierop geantwoord hy was nie in daardie stadium meer deurmekaar nie, maar het gedink daar is nie meer ʼn probleem nie, aangesien Mlotshwa terug is en nie meer vermis was nie.

Basson het gesê Sithole het sy storie opgemaak en daar sal in die hof aangevoer word dat die voorval nooit gebeur het nie.

Die saak is Woensdag om 09:00 uitgestel wanneer Sithole se kruisondervraging sal hervat. Mlotshwa gaan ook binnekort getuig.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Help my. ·

Help my met ‘n woord wat deur die wet verbied word om teen wit mense te gebruik.

Michael ·

Die …W….woord hoe belaglik het hierdie piesang republiek nie geword met media wat te bang is om te verwys na iemand wat swart van kleur is

Nico ·

Hierdie is n komplot daar moes mense gewees het wat gesien het hoe hulle 2 gelyk het na die aanranding om binne n week te herstel is nogal vinnig dokters sal nogal belang stel

Leser ·

Leuen verklikker toets. Het hulle al so iets gebruik in die saak ? Die een se woord teen die ander. Die einde nie in sig.

Post-aparteid ·

As ‘n Suid Afrikaner wat binne apartheid gebore is, maar in ‘n post-apartheid Suid-Afrika woon (ek is nou 28) maak hierdie my hart bitter seer. Met mense wat so iets aan ‘n ander mens kan doen (maak nie saak watse kleur vel nie) gaan ons land nooit genees nie. Ek is bang vir die toekoms en nog meer vir my kind se toekoms. Die ander persoon wat getuig se saak is nie vir my relevant nie. Die 2 mans was verkeerd en daar is video bewyse daarvan. Daar is geen stry daarteen nie. Een ding wat ek al geleer het is: Daar is goeie en slegte mense (maak nie saak wat die kleur van hulle vel is nie). Ek sê maar net…

Adam ·

Dit is wonderlik om sulke kommentaar te lees. Moenie jou oor jou kind se toekoms bekommer nie, dit klink asog hy die tipe Pa het wat hom goed deur die lewe sal begelei.

se maar net ·

Ek stem 100 persent saam jou (Post-apartheid) hulle maak enklik die wit man se naam sleg

Flintstone ·

Gaaaaap.Waarom is daar geen deeglike beriggewing rakende vermoorde boere en bejaardes in die media nie?Waarom nie net so ‘n uitgerekte vervolgverhaal soos hier bo nie?Al wat ons onder luide toejuiging moet aanhoor is dat die saps verskeie “verdagtes”aangekeer het,en op so en so ‘n datum in die hof gaan verskyn.Daarna word beriggewing gestaak en as afgehandel beskou.Selde hoor ons waar die saak uitgegooi is weens “tegniese redes”Nooit hoor ons waar gevonnisde misdadigers na 3-6 maande weer vrygelaat is nie.Waarom hierdie partydige en selektiewe beriggewing?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.