Doodskis-video: Eerste staatsgetuie getuig

Theo Martins Jackson en Willem Oosthuizen in die hooggeregshof in Delmas, Mpumalanga (31 Julie 2017). Foto: ANA

Theo Martins Jackson (29), een van die mans wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn man in ʼn doodskis gedruk het, se voormalige werkgewer het ná die voorval vir hom gesê om die doodskis as sy eie te hou, het die hooggeregshof in Delmas, Mpumalanga Maandag gehoor.

Johannes de Beer het as ʼn staatsgetuie getuig op die eerste dag van die verhoor teen Jackson en sy medebeskuldigde, Willem Oosthuizen (28). Die twee is einde verlede jaar in hegtenis geneem nadat ʼn video wyd op sosiale media versprei is waarin gesien word hoe ʼn man huil terwyl twee ander mans hom glo in ʼn doodskis indwing.

Die beweerde slagoffer, Victor Rethabile Mlotshwa, het vroeër aan die hof gesê hy het deur ʼn veld gestap toe die beskuldigdes hom voorgekeer het. Hy het gesê hy is aangerand en vasgebind en later gedwing om in ʼn doodskis te klim. Hy beweer die twee mans het voor dié voorval glo ook ʼn ander man aangerand. Die beskuldigdes het aangevoer Mlotshwa het koperkabels gesteel en hulle wou hom ʼn les leer. Hulle het gesê hulle het nie bedoel om Mlotshwa leed aan te doen nie.

Jackson en Oosthuizen staan tereg op sewe aanklagte, waaronder die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, twee sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering, poging tot moord, intimidasie en dwarsboming van die gereg.

De Beer het Maandag getuig hy het Jackson oor die voorval gekonfronteer nadat hy deur die media daarvan bewus geword het. Hy het gesê die doodskis wat in die video gebruik is, is ʼn ruk vroeër deur sy [De Beer] se pa gekoop en in ʼn stoorkamer op die plaas gehou. “Ek het vir Jackson gekonfronteer en vir hom gesê hy kan nou daardie doodskis hou, want dit was nou sy eie,” het De Beer gesê.

Betogers buite die hooggeregshof in Delmas, Mpumalanga waar Theo Martins Jackson en Willem Oosthuizen verskyn het. (31 Julie 2017). Foto: ANA

“Ek het ook vir hom gesê hy moet homself gaan oorgee, maar ek het nie gesê waar nie. Hy het daarna die werk verlaat, maar ek weet nie of hy polisie toe gegaan het nie,” het De Beer getuig. “My pa het twee doodskiste gekoop en ʼn man wat op die plaas gewerk het, het een van hulle gebruik om ʼn familielid te begrawe. Die ander een is in die stoorkamer gehou.”

Oosthuizen en Jackson is einde verlede jaar in verband met die voorval, wat op ʼn plaas naby Middelburg gebeur het, in hegtenis geneem. Hulle is op 14 Julie op borgtog van R1 000 elk vrygelaat nadat hul vorige borgtogaansoek geweier is.

Robert Molokoane, die staatsaanklaer, het aan De Beer gevra of mense oor die algemeen toegelaat word om op die voetpaadjie te stap waar Mlotshwa deur Oosthuizen en Jackson voorgekeer is omdat hy die plaas betree het. De Beer het gesê die voetpaadjie word nie gewoonlik gebruik nie, maar het gesê sommige mense stap wel daar sonder toestemming.

“Ons het ʼn probleem [met mense wat die voetpaadjie gebruik] oor diefstal. Maar ons konfronteer nie die mense wat die paadjie gebruik nie, want dit gebeur die heeltyd,” het De Beer gesê.

Betogers buite die hooggeregshof in Delmas, Mpumalanga waar Theo Martins Jackson en Willem Oosthuizen verskyn het. (31 Julie 2017). Foto: ANA

Oosthuizen word deur adv. Wayne Gibbs verteenwoordig, terwyl Jackson deur adv. Org Basson verteenwoordig is. Die twee regsverteenwoordigers het aparte verklarings aan die hof voorgelees waarin hul kliënte herhaal dat hulle Mlotshwa net wou skrikmaak omdat hy gedreig het om hul vrouens en kinders te vermoor toe hulle hom polisie toe wou vat.

Die hofsaal was volgepak en ʼn groot getal mense kon nie binne plek kry nie. Mlotshwa was ook teenwoordig, maar het geweier om met die media oor die verhoor te praat.

Lede van die ANC-Jeugliga en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het buite die hof gesing en dans, plakkate rondgeswaai en geëis dat Jackson en Oosthuizen lewenslange tronkstraf opgelê moet word. ʼn Groep van die DA het ook teen-rassisme liedjies buite die hof gesing.

ʼn Klein groepie van ongeveer tien mense het op Oosthuizen en Jackson geskree en hulle beledig toe hulle uit die hofgebou na hul voertuie gestap het, maar polisiebeamptes het tussenbeide getree.

Die verhoor sal vandag voortgaan.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.