Doodskis-video: Hof hoor beskuldigdes se weergawe

Willem Oosthuizen (voor) en Theo Martins Jackson in die hof (1 Augustus 2017) Foto: Maroela Media

Die saak teen Willem Oosthuizen (28) en Theo Martins Jackson (29), die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Victor Rethabile Mlotshwa in ʼn doodskis ingedwing het, is Donderdagmiddag in die Middelburg-hooggeregshof hervat.

Die verhoor is hervat waar Mlotshwa vertel het dat daar geen ander geleentheid was wat Jackson en Oosthuizen hom vantevore genader het nie. “Die foto moes dus op 17 Augustus of 7 September geneem gewees het,” het adv. Wayne Gibbs, vir Oosthuizen, aan Mlotshwa gesê. Mlotshwa voer aan die voorval het op 17 Augustus gebeur terwyl die beskuldigdes sê dit was op 7 September.

Gibbs voer aan dat Oosthuizen nie in die omgewing was waar die voorval plaasgevind het nie. Hy sê dat hulle deur kundiges se getuienis sal bewys dat nóg hy nóg sy voertuig in die omgewing was.

Gibbs het vir Mlotshwa gevra of hy in die teenwoordigheid van Delton Sithole was toe hy sy verklaring afgelê het waarop hy “nee” geantwoord en bygevoeg het dat hy dit ook nie met hom bespreek het nie. Mlotshwa het gesê hy het geweet dat Sithole aangerand is, maar dat hy sedert 17 Augustus nie met hom gepraat het nie.

“En as ek vir jou sê Sithole sê julle het daaroor gepraat?” wou Gibbs weet. “Nee, ons het nie gepraat nie. Ons het mekaar net een maal gegroet, maar nie oor die voorval gepraat nie.”

Gibbs het gesê Sithole het aangevoer Mlotshwa het hom die middag ná die voorval gesien ná hy reeds gebad en die bloed van hom afgewas het. Gibbs het aangevoer hy vermoed die rede hoekom Sithole en Mlotshwa se datums ooreenstem, is omdat hulle vooraf daaroor gepraat het. Mlotshwa het dit ontken.

Gibbs het aangevoer dat Sithole ook gewag het dat die video wyd versprei is voor hy sy saak aanhangig gemaak het. “Mlotshwa, ek gee jou weer ʼn geleentheid om te sê as jy per ongeluk die datum verkeerd gehad het, dis nie ʼn probleem nie. Almal kan sulke foute maak maande ná die tyd.” Mlotshwa het volgehou daar is geen moontlikheid dat hy verkeerd kan wees oor die datum nie.

Gibbs het Mlotshwa weer deur sy getuienis geneem. “Ek kan nie op die foto enige bewyse van die ‘wrede’ aanranding wat glo plaasgevind het voor jy in die kis ingedruk is, sien nie. Kan jy dit verduidelik?” het Gibbs gevra.

“Ek sien ook nie beserings op hierdie foto nie, maar ek sien tot my verbasing dat ek nog my hemp aanhet op die foto en ek het genoem ek het  ʼn wond op my bors gehad,” het Mlotshwa gesê.

Gibbs het dit aan hom gestel dat as hy so erg en herhaaldelik met vuiste in die gesig geslaan was, sou ʼn mens dit waarskynlik op die foto kon sien. Mlotshwa het gesê hy het sy gesig beskerm met sy hande.

“Die beskuldigdes sal ontken dat hulle jou geslaan, geskop of aangerand het, net dat hulle jou wel in die kis gedruk het. Hulle voer aan dat nét wat op die video’s gebeur het waar is. Die beskuldigdes voer aan dat hulle die video en die foto juis geneem het om te bewys dat hulle jou nie aangerand het en dat hulle dan valslik beskuldig word nie. Hulle voer aan hulle het jou gedreig en in die kis ingedruk omdat jy gevang is met gesteelde goedere. Hulle sê toe hulle jou dreig met polisie, het jy vir hulle gesê jy sal hul vroue en kinders doodmaak en hul lande afbrand elke jaar.” Mlotshwa het dit ten sterkste ontken.

“Die beskuldigdes voer aan dat hulle jou in die kis gedruk het omdat hulle gehoop het jy erken by wie jy die kabels gesteel het en dit nie weer sou doen nie. Ek gaan argumenteer dat jou weergawe hoogs onwaarskynlik is om verskeie redes.”

Gibbs het gevra of Mlotshwa op enige van die twee video’s enige sigbare beserings kon uitwys. Die video’s is toe weer in die hof vertoon. Mlotshwa het aangedui dat sy lyf in die kis was en dat hy nie die beserings op die video kon sien nie.

Gibbs het Mlotshwa ook uitgevra oor Dinsdag se ter plaatse ondersoek op die toneel. Gibbs het gevra of hy onthou hoe laat hy van die huis af geloop het daardie oggend waarop hy laat hoor het dit was net ná 07:00. Hy kon nie onthou hoe laat die voertuig hom genader het nie.

“Ek herhaal jou getuienis om seker te maak ek verstaan reg. Sithole het ʼn totaal ander weergawe van die gebeure. Volgens hom is hy by die hek aangerand deur albei beskuldigdes en albei voertuie was daar. Hy het gesê hy was steeds agterop een van die voertuie en besig om aangerand te word toe hulle gesê het, ‘kyk daar is nog ʼn k****r, kom ons gaan jaag hom’, waarna hulle in die voertuie gespring en na jou toe gery het.”

Mlotshwa het hierop gesê hy kan nie daarop antwoord nie. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

Gibbs het dit aan Mlotshwa gestel dat Sithole gesê het hulle twee het die middag ná die voorval en een maal voor die verklarings afgelê is ná die Daily Sun-artikel die voorval bespreek.

“Ek stel dit aan jou dat jou en Sithole se weergawes nie korrek kan wees nie. Het jy Sithole geken voor hierdie voorval?” Mlotshwa het “ja” geantwoord hierop. Gibbs het aangevoer dat die reaksie en die uitwerking wat die video op die publiek gehad het dit onwaarskynlik maak dat Mlotshwa en Sithole dit nie bespreek het nie.

Gibbs het verder aangevoer dat die stok of knopkierie wat in die kort video te sien is, inderdaad aan Mlotshwa behoort. “Oosthuizen sal getuig dat jy ʼn swart sak met koperkabels en die stok of kierie gehad en hom probeer aanrand het met daardie stok.” Mlotshwa het dit ontken. Gibbs het gesê Oosthuizen het vir Mlotshwa gevra om nader te kom en dat Mlotshwa toe begin hardloop het.

“Omdat daardie voetpaadjie bekend is vir diefstal, omdat jy weggehardloop het toe hy jou roep en omdat jy die sak by jou gehad het, het hy vermoed jy het gesteelde goedere by jou en het dus Jackson gevra om jou te vang.”

Die saak gaan Vrydag voort.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Darius ·

Gaan vang dan vis, ek wil dit lees. En ek lees net belangrike goed

MAB ·

Is belangrik omdat ander persone wil weet wat uitkoms van hierdie saak gaan wees!!!!!

Afrikaanse Knaap ·

As ek nou een ding uit die Oscar TV saak geleer het, is dat dat as 2 mense se getuienis nie ooreenstem nie, daai getuienis bitter min/geen water dra nie.

Care ·

Kan van alle ander misdaad en moorde wat plaasvind ook asb. so in “detail” in die koerante en nuusblaaie/televisie terugvoer gegee word. Ons hoor nie weer daarvan – wat maak hierdie saak so anders wil ek graag weet ? Hoekom terugvoer hieroor en by die res, het die misdaad/moord gebeur en dis die end van publisiteit. Iewers mis ek iets.

Ronell ·

Hierdie terugvoer is uiters belangrik, dit bevestig en wys duidelik dat 90% van die klaer en sy getuie se getuienis vergesog en aangeplak is. Lesers moet bewus wees daarvan hoe “klaers” hul sake opmaak om ernstig te kan laat voorkom wanneer hulle sake aanhangig maak. Alle publiek moet dus wakker slaap. Ja ek stem ons sal graag terugvoer oor ander sake ook wil hoor, maar besef dat die aanhoor van sekere sake en gedeeltes van sake gepriviligeerd is, en daarom kan daar nie gereeld terugvoer van gegee word nie.

anton ·

Ek sien al klaar dat ek van die begin af voorspel het dat die 2 manne beskuldig is van dinge wat hulle nie gedoen het nie Behalwe om hom die skrik op die lyf te wou jaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.