Doodskis-video: Mlotshwa in trane in getuiebank

Victor Mlotshwa (regs) getuig in isiZulu in die hooggereghof in Mpumalanga met die hoftolk, Mokgethwa Sekete, langs hom. Foto: ANA

Victor Mlotshwa, die man wat verlede jaar deur twee mans in ʼn doodskis ingedwing is, het Woensdag in die hooggeregshof in Middelburg in Mpumalanga gehuil terwyl hy vertel het wat hy tydens die voorval deurgemaak het.

Mlotshwa het getuig in die saak teen Theo Martins Jackson (29) en Willem Oosthuizen (28) wat tereg staan op aanklagte van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, twee sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering, poging tot moord, intimidasie en dwarsboming van die gereg.

Mlotshwa het sy getuienis in ʼn selfversekerde stem begin, maar was later in trane. Hy het volgehou dat Oosthuizen en Martins hom aangerand het voordat hulle hom verlede jaar in Augustus in die doodskis in gedruk het. “[Jackson] het die kis oopgemaak en vir my gesê ek moet inklim. [Oosthuizen] het toe gesê hy sal my skiet as ek probeer weghardloop,” het Mlotshwa gesê.

“Ek het geweier om in die kis te klim en hulle het my albei met hul vuiste reg oor my lyf aangerand. Beskuldigde nommer twee [Jackson] het na sy bakkie toe gegaan en teruggekom met iets soos ʼn knopkierie en het my oor my hele lyf geslaan. Ek was so bang. Ek het hulle aanhou vra wat gebeur, maar hulle het my nie geantwoord nie.

“Ek het toe gedink dis beter om maar in die doodskis te klim sodat ek nie meer die pyn hoef te verduur nie, maar my bolyf het buite die kis gebly. Beskuldigde nommer een [Oosthuizen] het my geskop en met sy voet in die kis in gedruk.”

Die staatsaanklaer Robert Molokoane het Mlotshwa gevra of Oosthuizen ʼn vuurwapen in sy besit gehad het en Mlotshwa het geantwoord daar was ʼn vuurwapen aan Oosthuizen se sy.

Oosthuizen en Jackson is einde verlede jaar in verband met die voorval, wat op ʼn plaas naby Middelburg gebeur het, in hegtenis geneem. Hulle is op 14 Julie op borgtog van R1 000 elk vrygelaat nadat hul vorige borgtogaansoek geweier is. Die beskuldigdes voer aan dat Mlotshwa koperkabels gesteel het en hulle wou hom ʼn les leer. Hulle het gesê hulle het nooit enige bedoeling gehad om Mlotshwa leed aan te doen nie. Hulle ontken skuld op die aanklagte teen hulle.

Willem Oosthuizen (voor) en Theo Martins Jackson in die hof (1 Augustus 2017) Foto: Maroela Media

Mlotshwa het Woensdag getuig dat die voorval begin het toe Jackson hom in sy bakkie vanaf Bethal se rigting genader het terwyl hy langs ʼn teerpad gestaan het. Hy het gesê hy wou ryloop na Middelburg om kruideniersware vir sy ma te koop.

Hy het besluit om die voetpaadjie deur die mielieland langs die teerpad te gebruik om vinniger by sy bestemming uit te kom. Volgens Mlotshwa het Oosthuizen in ʼn ander bakkie opgedaag en hom aangerand, sy hande met ʼn kabelbinder vasgebind en hom agterop Jackson se bakkie gelaai.

Jackson het met hom na ʼn afgeleë gebied gery terwyl Oosthuizen in sy bakkie gevolg het en dit is waar die voorval gebeur het, het hy getuig.

Terwyl Mlotshwa getuig het, het Oosthuizen met sy hande beduie en vir een van die lede van sy regspan gefluister wat voor hom gesit het. Regter Sheila Mphahlele het Oosthuizen se regsverteenwoordiger, adv. Wayne Gibbs, gevra om sy kliënt te versoek om op te hou om handgebare te maak en vir Oosthuizen te sê om hom te gedra.

Mlotshwa het later te emosioneel geword en Molokoane het die hof gevra om die saak na Donderdag uit te stel. Hy het gesê ongeveer 20 polisiebeamptes sal Donderdag na die hof ontplooi word vir veiligheidsredes.

Die hof was Woensdag nie so volgepak soos gewoonlik nie en Oosthuizen se familielede het in die voorste ry van die openbare galery gesit. Dit het Oosthuizen se vrou, Chene, sy pa Gert, en sy ma Tinka, ingesluit.

Die verhoor is tot 10 Augustus op die hofrol geplaas.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.