Doodskis-video-saak: ‘Dis hoekom ons video maak’

‘n Foto van Victor Rethabile Mlotshwa wat as ‘n bewysstuk by die hof ingedien is.

Die verhoor van Willem Oosthuizen (28) en Theo Martins Jackson (29), die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Victor Rethabile Mlotshwa in ʼn doodskis ingedwing het, is Donderdagoggend in die Middelburg-hooggeregshof hervat.

Adv. Org Basson, vir Jackson, het aangedui dat ʼn kundige van die opsporingsmaatskappy Cartrack sal getuig dat die voorval op 7 September 2016 plaasgevind het. Mlotshwa hou vol die voorval het op 17 Augustus 2016 plaasgevind.

Jackson het tydens ondervraging deur Basson getuig dat hy al tien jaar getroud is en drie dogters, onderskeidelik vier, vyf en nege jaar oud, het. Jackson het aan die hof gesê die voorval het op 7 September 2016 plaasgevind.

Hy het getuig dat plaasaanvalle algemeen in die area waar hulle woon voorkom en dat sy vrou se voormalige werknemer glo ses jaar vantevore in sy huis doodgeskiet is.

Volgens Jackson word daar gereeld mielies, geysers en trekkerbatterye gesteel. Hy het gesê lande word dikwels aan die brand gesteek en dat spilpunte geteiken word vir koperdiefstal. Volgens hom kos dit sowat R50 000 om so ʼn spilpunt te vervang.

Jackson se weergawe van die gebeure strook grotendeels met die weergawe wat Oosthuizen aan die hof voorgehou het, dat Mhlotshwa koperkabels gesteel het.

Jackson het gesê Mlotshwa was “arrogant en ernstig” toe hy glo gedreig het om elke jaar lande aan die brand te steek en hul vrouens en kinders te vermoor.

Jackson het getuig van ʼn vorige geleentheid waar Hannes de Beer, sy werkgewer, hom gevra het om na ʼn toneel te kom waar hy verdagtes agter op sy bakkie gehad het. “Toe ek daar aankom het hulle onmiddellik vir die kis geskrik en weggehardloop, ek het gedink Mlotshwa sou ook skrik – maar hy was steeds arrogant, maar het niks gesê nie,” het Jackson getuig.

Jackson het ook getuig hul het video’s gemaak sodat Mlotshwa nie beweer hulle het hom aangerand nie en dat hulle bewyse het dat hy die een is wat die kabels gesteel het.

Basson het Jackson gevra hoe lank die voorval geduur het, waarop Jackson geantwoord het tussen 10 en 15 minute. Mlotshwa was volgens hom nie langer as vyf minute in die kis nie.

Volgens Jackson was dit nodig om die foto te neem omdat hulle gewoonlik foto’s neem van mense wat oortree omdat daar al voorvalle was waar die persone beweer hulle is aangerand. “Ons het ʼn algemene reëling dat daar ʼn foto van die verdagte geneem word en vir hom gesê word ‘hy is nie beseer nie en hulle het nou sy foto’,” het Jackson gesê.

Willem Oosthuizen (voor) en Theo Martins Jackson in die hof. Foto: Landi Slatter

Jackson het ook ontken dat een van hulle ʼn vuurwapen op die toneel gehad het. Hy het gesê hy besit nie ʼn vuurwapen nie en dat hy nooit vir Mlotshwa met een gedreig het nie.

Jackson het aangedui dat hy Mlotshwa weer twee keer na die voorval gesien het. Albei voorvalle het volgens hom binne ʼn tydbestek van drie weke na die voorval plaasgevind, albei in September 2016. Volgens Jackson het Mlotshwa nie een keer probeer weghardloop as hy naby hom gekom het nie en net gesê “ek gaan nie kom nie, jy gaan weer met jou stories begin!”, en die tweede keer net vir hom geglimlag.

Mlotshwa het tydens sy getuienis verlede week melding gemaak van ses verskillende kere wat hy glo aangerand is voordat hy in die kis ingedwing is. Basson het die voorvalle aan Jackson voorgehou en hy het dit ontken. Jackson het ook ontken dat Mlotshwa ooit met kabelbinders vasgebind was.

Volgens Jackson het hy die swart sak met koperkabels wat glo in Mlotshwa se besit gevind is, vir een van sy werkers gegee “want hy kan niks daarmee doen nie”.

De Beer het glo vir Jackson opdrag gegee om ontslae te raak van die kis nadat hy die video gesien het “omdat hy net k*k aanjaag met die kis”. Jackson het die kis glo in Oktober na die kuilvoergat waar die voorval plaasgevind het, geneem en dit aan die brand gesteek.

Jackson beweer hy het die video net na Oosthuizen gestuur op die dag waarop die voorval plaasgevind het. Jackson se vrou het die video op sy foon gesien en vir hom gesê om dit af te vee. “Ek het dit toe afgevee.”

Basson het gevra of Jackson ooit gedink het dat wat hy en Oosthuizen gedoen het verkeerd was, waarop Jackson “nee” geantwoord het.

“Ons het hom geen leed aangedoen of hom aangerand nie,” het Jackson gesê.

Jackson het gesê hy was bewus van die opsporingstelsel waarmee sy werksvoertuig en Oosthuizen se voertuig toegerus was.

Robert Molokoane, staatsaanklaer, het Jackson hierna ondervra. “Jy het gesê jy dink nie daar is iets verkeerd met die video wat op sosiale media versprei is nie?” het Molokoane gevra. “Nee,” het Jackson geantwoord. “Hoekom het jou vrou dan vir jou gesê om dit af te vee sodat die kinders dit nie sien nie?”

“Want die kinders is nog klein. Ek het die video afgevee want ek het nie ʼn rede gehad om met haar te stry nie,” het Jackson gesê.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kiepie ·

Hoekom het julle nie foto’s geneem van die kabels in sy besit nie?

Trevor noa ·

Julle breek my hy het nog nooit n vuurwapen besit en hom nie daarmee gedreig nie

lorayne ·

Klink of jy op die toneel was Trevor noa? Nou maar vertel ons meer!

Cherokee ·

lorayne, dalk besit nie een van daardie twee ‘n wapen nie. ‘n Beskrywing van die wapen kan mos gevra word. Wat as nie een van hulle ‘n vuurwapenlisensie het nie? Swartes dink dalk dat alle wittes vuurwapens het terwyl ‘n menigte hul wapens oor ‘n polisietoonbank ingehandig het en nou wens hulle het dit nie gedoen nie.

Joe Stormer ·

Stem saam Trevor. Jy het n vuurwapen maar het hom nie daarmee gedreig nie…of jy nie n vuurwapen nie en dus kon jy hom nie dreig met n vuurwapen nie. Daardie gedeelte lees nie lekker nie

Suzette ·

@Lorayne: – Hy het gesê hy besit nie ʼn vuurwapen nie en dat hy nooit vir Mlotshwa daarmee gedreig het nie. : Maak dit vir jou sin?? Hoe kan hy hom nooit met iets bedreig het wat hy nie eers besit nie? Die artikel lees beslis nie lekker nie. Trevor gee nie voor hy was daar of weet als nie. Eish julle mense lees niks behoorlik nie en val mense sommer onnodig aan. Gaan sit weer en lees mooi, dan sal jy sien wat breek ons koppe…….

Hannes ·

Ag siestog arme ding is nog perdvris en gesond. Right, kom ons praat nou oor die plaasmoorde.

Suzette ·

Dankie MM dat julle die bewoording verander het. Nou is ons koppe helder haha :<)

Katryn ·

Ai ai, ek wonder hoe sal jy voel as jy ‘n video van ‘n plaasmoord sien. Of selfs hoe ou mense vas gebind word…en vermoor word. Dink voor jy praat en gaan doen jou job! Ons boere sit kos op JOU tafel.

phillipvandyk ·

ons wens die polisie en die media en die mense wil so vinnig reageer op plaas aanvalle en op hoewe aanvalle. ons het die week in kameeldrift wes reeds 21 honde vergiftig gekry. ons word weekliks in kennis gestel van diefstalle aanvalle skietvoorvalle maar ek sien geen polisie of regerings aksie daaroor nie.

BANG JAN SE VROU ·

Wat die dorpenaars en stedelinge nie besef nie is dat enigiets wat die boer produseer op sy lande gebruik word om te verkoop om ‘n bestaan te maak. As elkeen ‘n mielie of twee, sonneblom of twee steel, dit verminder sy oes en uiteindelik sy inkomste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.