Doodskis-video-saak: Langer video in hof gewys

‘n Foto van Victor Rethabile Mlotshwa wat as ‘n bewysstuk by die hof ingedien is.

Die saak teen Willem Oosthuizen (28) en Theo Martins Jackson (29), die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Victor Rethabile Mlotshwa in ʼn doodskis ingedwing het, is vandag in die Middelburg-hooggeregshof hervat.

Die verrigtinge is hervat met Mlotshwa wat getuig het oor die beweerde aanranding terwyl hy in die kis was. “Hulle het my vrae gevra, ek het nie geantwoord nie en hulle het my verder aangerand. Ek het in daardie stadium besef as ek saamstem met wat ook al hulle sê, hulle dalk genade sou hê en my nie verder aanrand nie. Hulle het my geskop en in die kis gedruk. Wat my die bangste gemaak het, was toe hulle my vra hoe ek wil doodgaan. Ek was so geskok en het besluit om hulle te gee wat hulle wou hê. Ek wou nie met hulle verskil nie.”

Mlotshwa het getuig hy het verskeie sigbare beserings opgedoen. Hy het aangedui hy het ʼn groot wond op sy bors opgedoen. “Ek het vandag nog daai wond. My regterhand het kneusplekke gehad en ook op my regterelmboog van my skouer af. My regteroog was ook geswel, my neus het gebloei en my ribbes het gepyn. My skouers en rug het gepyn en was geswel, my linkerbeen het wonde opgedoen en het ook vandag nog daardie litteken.”

Mlotshwa het nie onmiddellik mediese behandeling gekry nie en eers nadat die video op sosiale media begin versprei het, het hy ʼn dokter besoek. Op ʼn vraag oor hoekom hy eers later die dokter besoek het, het hy gesê hy was in die polisie se teenwoordigheid toe hy dokter toe is. “Ek het in daardie stadium reeds die saak aanhangig gemaak.”

Die staatsaanklaer Robert Molokoane wou by Mlotshwa weet wie die video gemaak het, waarop hy geantwoord het dat hy nie die persoon gesien het nie. Twee video’s – ʼn korter een en ʼn langer een – is toe in die hof vertoon.

Mlotshwa het aangedui dit was Jackson wat sigbaar is op die video en dit is ook die man wat hom in die kis ingedwing en die deksel op hom neergedruk het.

Molokoane het aangedui dat hy die langer video Maandag ontvang het en dat Mlotshwa dit nog nie gesien het nie. Die kort video is glo met Jackson se foon geneem en die langer een met Oosthuizen se foon omdat die battery van Jackson se foon pap geraak het.

Op die video kan gehoor word: “Gaan jy nou weer steel? Wie se cable is daai? As jy lieg, gaan ek jou toemaak. Wil jy vinnig doodgaan of stadig? Voor in die bakkie is ’n lighter. Jy wil mos k*k praat, dis die laaste keer wat jy praat, nou praat jy k*k, kom klim! Jy f****n wil mos.”

Daar word ook in Zoeloe gepraat deur die beskuldigdes. Mlotshwa huil en smeek deurentyd dat hulle hom moet los. Gemeenskapslede in die hof het hul tonge geklap en sommiges het gehuil toe die video vir die eerste keer gekyk is.

Molokoane het gevra hoekom Mlotshwa nie onmiddellik die voorval aangemeld het nie waarop hy geantwoord het: “Om eerlik te wees – ná alles gebeur het, was ek deur die beskuldigdes gedreig. Een van die beskuldigdes het gesê as ek dit sou aanmeld, sou hulle plaas toe kom en my doodmaak. Hulle het aan my genoem hulle werk saam met die polisie.”

Volgens Mlotshwa was daar glo baie voorvalle in die Blinkpan-omgewing waar swart mense geviktimiseer is deur wit mense wat plase besit. “Hierdie voorvalle word aangemeld, maar geen stappe word gedoen nie. Daar is ook voertuie op die plaas wat daar rondbeweeg wat soortgelyk aan dié van die beskuldigdes se voertuig is. Die voertuie het ligte bo-op en ʼn geskryf aan die kante. Daar is ‘plaaspatrol’ op die kante geskryf. Wat my die deurmekaarste maak, is dat die embleem op die voertuie baie dieselfde lyk as dié van die polisie. Dit het my vir seker laat dink die beskuldigdes is die polisie. Dis hoekom ek dit nie aangemeld het nie.”

Mlotshwa het aangedui dat hy toe wel later die saak by die polisie aangemeld het nadat sy jonger boetie en ander mense vir hom ʼn video van die voorval gewys het. “Ek het die video gesien en ʼn artikel van die Daily Sun gelees, daar was ook ʼn foto van my by.”

Molokoane het Mlotshwa gevra of hy ʼn kabel gesteel het waarop Mlotshwa dadelik nee geantwoord het. Mlotshwa het gesê hy is gestuur om goedere vir sy ma se spazawinkel te gaan koop toe die voorval plaasgevind het. “Ek het omtrent R2 000 by my gehad om die goedere mee te gaan koop. Die papiertjie waarop geskryf was wat ek moes koop en die geld is weg, ek dink dit het weggeraak toe die beskuldigdes my deur die mielielande gejaag het.”

Oosthuizen (links) en Jackson tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Adv. Wayne Gibbs, vir Oosthuizen, het ʼn fotoalbum en ʼn doktersverslag aan die hof oorhandig as aanhangsels. Hy het die foto’s ook aan Mlotshwa oorhandig en hom begin ondervra daaroor. Hy het aangedui die foto’s is op 7 September geneem.

Gibbs het gesê Oosthuizen sal getuig die persoon agterlangs in een van die foto’s is Jackson waarop Mlotshwa gesê het hy is nie seker nie. Gibbs het ook melding gemaak van die volledige registrasienommer van die voertuig waarvan slegs die “Z 107 MP” gesien kan word. Gibbs het gesê Oosthuizen sal getuig die registrasienommer is HRZ 107 MP.

Gibbs het verder gesê Oosthuizen sal getuig die foto is geneem ná Mlotshwa uit die kis geklim het om spesifiek te wys dat hy geen sigbare beserings het nie. Mlotshwa het aangedui dat hy nie glo die foto is enigsins toe geneem nie omdat hy haastig was. Gibbs het gesê Oosthuizen sal getuig dat hulle spesifiek vir Mlotshwa gesê het om sy hemp op te lig om te wys hy het nie beserings nie “om presies die situasie wat ons vandag het te vermy”.

Gibbs het Mlotshwa toe gevra oor sy getuienis dat die voorval op 17 Augustus plaasgevind het. “Ek kan nie daardie datum vergeet nie, ek het geld by my gehad en ek onthou dit.”

Gibbs het benadruk dat die verklaring op 8 November by die polisie afgelê is ongeveer twee en ʼn half maande ná die beweerde voorval. “Sommige mense sal sukkel om ʼn presiese datum te herroep. Ek neem aan die goed wat jou ma in die spazawinkel verkoop, moet sy van iewers af kry? Gaan koop sy dit self of stuur sy iemand wat sy vertrou? My punt is, dis nie eerste keer dat jy jou ma help nie, dis nie ʼn geïsoleerde geval nie. Hoe onthou jy dan dit was die 17de as jy gereeld gaan?”

“Ek sal die dag nie vergeet nie,” het Mlotshwa geantwoord. Hy het bevestig dat hy op geen ander geleentheid deur Jackson en Oosthuizen genader is nie.

Die hof het verdaag vir middagete en sal binnekort hervat word.

Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sê maar net ·

Kom by asseblief, jy leef, wees bly en gaan aan met jou lewe. Daar word by die dag boere vermoor, families wat in rou gedompel is, werkers wat nie meer werk het nie agv die boere wat dood is. Nou moet ons dag in dag uit na hierdie patetiese verhaaltjie luister. Sê tog wat die manne vir jou moet betaal en los hulle uit.

Anoniem Nr2 ·

ja “se maar net” tot iemand jou in n kus druk en jou aanrand en behandel asof jy gemors is! dan kyk ons wie lag laaste. Die kleur van n persoon bepaal nie hoe hulle moet behandel word nie, en dit beteken ook nie oor dieselfde kleur mens ander mense vermoor nou moet almal daaronder lei nie.

jy kort n wake up call, as die storie jou so pla HOU OP DIT LEES

Stelling ·

Mens sal maar altyd sulke reaksies kry, dis die probleem met ons land.
Sterkte “volke”

Michael ·

In n eerste wereld land soos die VSA kan die eienaar jou doodskiet as jy sy eiendom betree sonder sy toestemming so bly uit ander mense se eiendom dan sal jy nie probleme hê nie

Andre ·

Hierdie bly hoofnuus terwyl daagliks moorde gepleeg word.
Rome brand,maar kry geen aandag nie !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.