Doodskis-video-saak: Slagoffer se ma getuig

Lonea Mlotshwa. Foto: ANA.

Victor Rethabile Mlotshwa, die man wat in ʼn doodskis ingedwing is, se ma het Maandag in die Middelburg-hooggeregshof getuig.

Lonea Mlotshwa het getuig haar seun het die R2 000 wat hy by hom gehad het om kruideniersware vir haar spazawinkel te gaan koop verloor die dag toe hy deur Willem Oosthuizen (28) en Theo Martins Jackson (29) in ʼn doodskis ingedwing is.

“Ek het vir Victor die geld en ʼn inkopielys gegee. Hy het later die middag huis toe gekom en nie gelukkig gelyk nie. Een van sy oë was rooi asof hy geslaan is. Hy het ook ʼn kneusplek aan die kant van sy oog gehad. Ek het hom gevra waar die kruideniersware is en of iemand hom beroof het, maar hy het ʼn gebaar met sy hand gemaak en aangedui hy wil nie my vraag antwoord nie. Hy wou slaap. Die geld en die lysie was weg,” het sy getuig.

Oosthuizen en Jackson is verlede jaar in hegtenis geneem onder meer op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, intimidasie en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Mlotshwa het getuig dat haar seun later die dag aan haar vertel het wat gebeur het. Sy het emosioneel geraak toe Robert Molokoane, die staatsaanklaer, vir haar gevra het hoe sy gevoel het toe sy gehoor het haar seun is aangerand en in ʼn kis ingedwing. Regter Sheila Mphahlele het die hof vir tien minute laat verdaag om haar geleentheid te gee om haar emosies onder beheer te bring.

Toe die verrigtinge voortgaan het sy aan die hof vertel hoe hartseer die voorval vir haar was. “Ek was so ontsteld ek kon nie eers praat nie, ek het myself afgevra wat sou gebeur het as die Here hom nie gehelp het om uit daardie kis te kom nie.”

Mlotshwa voer aan Victor het ʼn rooi merk op sy bors en krapmerke op albei bene gehad en sy klere was baie vuil asof hy in die grond gerol is.

Regter Mphahlele het haar kommer uitgespreek oor Mokgethwa Sekete, die hoftolk, se vertaling van adv. Wayne Gibbs, vir Oosthuizen, se vrae aan Mlotshwa. Sy het die hof vir ʼn wyle verdaag om ʼn vergadering met Sekete, die verdediging se regsverteenwoordigers, albei beskuldigdes en Molokoane in een van die hof se kantore te hou.

Gibbs het intussen die akkuraatheid van Mlotshwa se getuienis in twyfel getrek en gesê daar is verskille in dit wat sy in die hof getuig en die verklaring wat sy verlede jaar by die polisie afgelê het oor haar seun se beserings.

Gibbs het dit aan Mlotshwa gestel dat Victor ná die voorval ʼn merk op sy regterdy aan die dokter gewys het, maar niks genoem het oor die krapmerke aan sy bene nie. Mlotshwa voer aan die dokter het nie die merk op Victor se been gesien nie omdat hy hom nie gevra het om sy klere uit te trek nie. “Jou verklaring stem nie ooreen met wat jy nou aan die hof sê nie,” het Gibbs gesê.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

UJ ·

gooi die saak uit die hof julle mors net met ons geld. Nie een van die getuies is geloofwaardig nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.