Doodskis-video: Twee vandag weer in hof

Theo Martins Jackson en Willem Oosthuyzen in die hof voordat die vonnis gelewer is (27 Oktober 2017). Foto: Landi Slatter

Theo Martins Jackson (29) en Willem Oosthuyzen (28), die mans wat skuldig bevind is op etlike aanklagte in die opspraakwekkende doodskis-saak, sal Donderdag weer in die Middelburg-hooggeregshof om borgtog aansoek doen.

Marius Coertze, regsverteenwoordiger vir Jackson en Oosthuyzen, het aan Maroela Media gesê die saak kom voor dieselfde regter, regter Sheila Mphahlele, voor. Die staatsaanklaer is ook weer adv. Robert Molokoane. “Ons hoop regtig die aansoek sal vandag slaag,” het hy gesê.

Oosthuyzen is in Oktober gevonnis op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering, poging tot moord en intimidasie. Jackson is gevonnis op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering, poging tot moord, intimidasie en dwarsboming van die gereg.

Die twee mans se vonnis is op 9 November vanjaar aangepas en Oosthuyzen en Jackson is onderskeidelik tot effektief 11 jaar tronkstraf en 14 jaar tronkstraf gevonnis.

Die mans wil die hof nou versoek om hulle op borgtog vry te laat hangende hul aansoek om verlof tot appèl teen hul vonnis.

Oosthuyzen en Jackson se regspanne het in Oktober direk nadat hulle gevonnis is ʼn gesamentlike aansoek om verlof tot appèl by die hooggeregshof ingedien. Mphahlele het dié aansoek van die hand gewys. Oosthuyzen en Jackson het daarna besluit om hulle direk tot die appèlhof gewend.

Coertze het Donderdag gesê die regspan het ʼn aansoek om verlof tot appèl sowat twee en ʼn half weke gelede by die appèlhof in Bloemfontein gaan indien. “Ons wag nou vir terugvoer. Die appèlhof is nou in reses en ons sal moontlik eers in Januarie terugvoer ontvang.”

Die mans is gevonnis nadat hulle Victor Mlotshwa in ʼn doodskis ingedwing het. ʼn Video van die voorval is later wyd op sosiale media versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Denise ·

Hoekom word die twee mans so erg gestraf vir iets so simpel wonder nou net watse straf die persoon gan kry wat die vrou so wreed vermoor het ek is geskok dat iemand so boos kan wees dit is onmenslik !!!!

Lukie Carelsen ·

Net soos in die Oscar Pretorius saak het hierdie regter ons regstelsel totaal gediskrediteer. Gelukkig het die appelhof in die Pretorius saak uiteindelik geregtigheid laat geskied. Hierdie regter wat die doodskis-saak hanteer het, het gruwelik drooggemaak met haar skuldigbevinding van “Poging tot moord” en “Aanranding met die doel om ernstig te beseer” terwyl daar GEEN prima facie getuienis gelewer is t.o.v. die twee oortredings nie! Toe stuur sy hulle tronk toe vir 11 en 15 jaar onderskeidelik! Totaal absurd. Die beskuldigdes se optrede was barbaars en dom maar hulle was nog steeds geregtig op ‘n regverdige verhoor, wat hulle duidelik nie gekry het nie. Gelukkig is daar ‘n appelhof wat die saak kan (en ek glo sal) regstel. Onbekwame regters behoort aanspreeklik gehou te word vir hul uitsprake en waar hulle so gruwelik mistas behoort hulle nooit weer as regters op te tree nie!

Koos B ·

As die apelhof die saak regstel gaan sy maar net se sy het ‘n fout gemaak soos die een in die KFC geval

Irene ·

Ja so swaar gestraf so sweer hulle het moord gepleeg wat word van die mense wat verantwoordelik gehou word vir die mense wat dood is in daardie kliniek

Niklaas ·

Ek glo hierdie twee ouens is bitter spyt oor die skep en verspreiding van daardie video. Wat sou hul daarmee wou bereik ? Kyk nou in watter gemors bevind hul nou hulself.

jakes ·

Ek sal graag wil weet wat is die bevoegdheids kriteria om as n regter aangestel te word?

snoefie ·

ek wil graag weet of enige van die twintig plus moordernaars van Pierre de Necker van Belfast al aangekeer is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.