Die verhoor van Willem Oosthuizen (28) en Theo Martins Jackson (29), wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn man in ʼn doodskis gedruk het, gaan na verwagting Maandag in Middelburg in Mpumalanga begin.
Die staat het in Maart vanjaar in die Middelburg-streekhof bekend gemaak ʼn aanklag van poging tot moord gaan by die klagstaat gevoeg word. Die twee mans is aanvanklik van ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla.
Tydens hul borgtogaansoek het die hof onder andere Victor Rethabile Mlotshwa, die beweerde slagoffer, en die beskuldigdes se weergawes van die gebeure gehoor. Mlotshwa het gesê hy het deur ʼn veld gestap toe die beskuldigdes hom voorgekeer het. Hy het gesê hy is aangerand en vasgebind en later gedwing om in ʼn doodskis te klim.
Die beskuldigdes het aangevoer Mlotshwa het koperkabels gesteel en hulle wou hom ʼn les leer. Volgens hul verklarings, wat aan die hof voorgelees is, het hulle nie bedoel om Mlotshwa leed aan te doen nie. Hulle het ook gesê Mlotshwa het hulle gedreig.
Op ʼn video van die voorval, wat wyd op sosiale media versprei is, kan gesien word hoe ʼn man huil terwyl twee ander mans hom in ʼn doodskis indwing. In die agtergrond sê ʼn manstem: “Kom nou, ons wil die petrol gooi, man. Klim in!”
Oosthuizen en Jackson het hulle op 14 November in die teenwoordigheid van hul regsverteenwoordiger by die Blinkpan-polisiestasie oorgegee.
Die voorval het glo op 17 Augustus naby die Komati-kragsentrale plaasgevind. Die beskuldigdes beweer egter die voorval was op 9 September.
Mlotshwa het eers vroeg in November ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak nadat die video van die voorval op sosiale media versprei is en hy “verneder” gevoel het.
Landdros Jongilizwe Dumehleli het Oosthuizen en Jackson op 8 Desember borgtog geweier.
Die verhoor is van 26 tot 29 Junie op die hofrol geplaas.
Lees alle vorige berigte oor die doodskis-video op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Die tipe mense is n verleentheid vir Afrikaners. Hoop hulle gaan tronk toe en leer n lewensles
Maroela, sal julle ons ook net so op hoogte hou van al die hofverrigtinge van die plaasaanvallers en swart rassiste soos wat julle gereeld berig oor die rasgevalle waar blankes in die beskuldigde bank staan.
Moet ook se dit was maar net n grap gewees dis al soos daai spur man wat n kind wou vat
Hulle kry nie borg nie maar wrede plaas aanvallers kry borg?
Maw, weens al die moord en diefstal in die land word ieder en elk nou onder dieselfde kam geskeer? Word almal nou n teiken vir andere se boosheid? Is daar net een groep wat lewens verwoes? Komaan, voel geensins jammer vir hierdie ouens. Vir hul naasbestaandes wel.