Doodsklok lui glo vir ‘Afro Voice’

Mzwanele Jimmy Manyi. Foto: GCIS

Afro Voice, die koerant wat sedert einde April met dié naam bekendstaan, se personeel het Donderdagmiddag gehoor dat die koerant as gevolg van “regskwessies” gaan sluit. Die personeel is aangeraai om by die huis te bly tot en met verdere kennisgewing.

Daar is glo ook aan hulle belowe dat hulle Julie se salarisse sal ontvang ten spyte van die koerant wat nie gedruk gaan word nie. Volgens joernaliste is die aankondiging deur Mzwanele Manyi, die voorsitter van die raad, gemaak. Manyi was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Maroela Media het vroeër berig Manyi se Afrotone Media Holdings het ná ʼn aankondiging dat ʼn verkoper-gefinansierde ooreenkoms nagekom is, nuwe handelsname vir dié maatskappy se nuuskanaal en dagkoerant bekendgemaak. Dié handelsnaamverandering het ook gepaardgegaan met  veranderinge aan die redaksionele beleid wat strook met die perskode.

Die ANN7-nuuskanaal sou voortaan as Afro Worldview bekendstaan en The New Age-koerant is na Afro Voice hernoem.

Die maatskappy het gesê dat dit ʼn strategiese besluit is om weg te breek van die berugte, voortvlugtige Gupta-familie wat dié mediaplatforms deur verkoper-finansiering aan Manyi verkoop het. Dit dui daarop dat die Guptas vir Manyi geld geleen het om hul mediaplatforms te koop.

Dié nuuskanaal se kontrak op MultiChoice se DStv-platform kom 30 Augustus tot ʼn einde ná MultiChoice se besluit om nie ANN7 se kontrak te hernu nie.

Dié mediaplatforms het onlangs gebuk gegaan onder interne personeelprobleme wat wissel van laat betaling van salarisse tot ongedokumenteerde personeellede wat glo deur die Guptas vanuit Indië gebring is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

wraggies ·

Gaan maar sukkel sukkel sonder die Gupta’s en die invloed wat hulle geniet het vir ‘n reisie Dubai toe of geldjie hier en daar.

Mooi ·

As jy betrokke was by die verkondiging van vals nuus en haatspraak verdien jy dit om afgele te word. Hulle moet eintlik aangekla word.

MANIE ·

Ek dink die hele storie van verkoop van die koerant destyds was n klomp leuens. Hulle het gesien die skelmtyd is op n einde so die koerant is nie meer van waarde

marous ·

Gaan hulle nou weer paaie versper en ander mense se eiendom afbrand?

Wy ·

Mooi ?Regtig.Ons het ons brood en botter daar verdien op eerlike wyse,met werk skaarsheid moet jy soms iets neem al is dit teen n mens se beginsel want n dak oor jou kop moet jy he.

Kaufman ·

Ek het al baie werk weggewys van onetiese kliente. Ek hoop wy is trots op wat hulle vir geld gedoen het sonder om aan ons te dink.

Werkloos ·

Hulle is n handjievol wat nou werkloos gaan wees, maar dink hoeveel ellende en werkloosheid hulle veroorsaak het deur om as propagandamasjien van ‘n korrupte regime op te tree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.