Doodsklok lui vir ‘The Times’ se gedrukte weergawe

Die Tiso Blackstar-groep, voorheen bekend as Times Media, het bekend gemaak dat hulle tans ʼn herstruktureringsproses ondergaan wat na verwagting personeel by sy gedrukte en digitale publikasies sal beinvloed.

Daar is tans 1 054 mense werksaam by dié maatskappy.

Volgens Andrew Gill, besturende direkteur, sal personeel met die nodige kwalifikasies, vaardighede en kennis se poste behou word. Hy het die aankondiging in ʼn brief wat aan alle personeel gestuur is bekend gemaak.

“Die maatskappy se mediavleuel is onder baie druk as gevolg van ʼn swak ekonomiese klimaat en ʼn afname in die bedrag wat aan advertensies bestee word deur adverteerders in die openbare en privaat sektor. Daar is ook ʼn afname in verbruikersspandering,” het Gill gesê.

Dit het volgens hom gelei tot laer sirkulasiegetalle.

Hy het benadruk dat The Times se gedrukte publikasie, wat in 2007 op die been gebring is, in die afgelope drie jaar nie winsgewend presteer het nie, ondanks “verskeie veranderinge aan die besigheidsmodel in die afgelope drie jaar”.

Gill het gesê die bestuur van die maatskappy het die moontlikheid oorweeg van ʼn daaglikse digitale uitgawe in ʼn nuwe formaat wat van internasionale suksesvolle modelle gebruik maak.

Hy het bygevoeg dat redaksionele integriteit en die strewe na uitnemendheid steeds die hoeksteen van ʼn suksesvolle media-maatskappy is.

Volgens Gill het die bestuur aangedui dat The Times as ʼn gedrukte produk nie meer in sy huidige formaat kan voortbestaan nie. “Die maatskappy stel voor die gedrukte weergawe van The Times word gestaak en dat dit vervang word met ʼn produk wat slegs digitaal is.”

Gill het aangedui dat hy onseker is oor hoeveel personeel beïnvloed gaan word, maar dat die afleggingsproses teen 31 Januarie 2018 afgehandel sal wees. Volgens hom is daar reeds agt personeellede in die afgelope 12 maande afgelê.

Die eerste konsultasievergadering sal op 8 November gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

hein ·

Ja dis oor al die fop – nuus wat hulle versprei het en anti Afrikaans was- en nou? Hulle is nou gonners!! Wat jy saai sal jy maai!!!

Liberalenonsensmasjiene ·

Ek ken nie eers die publikasie nie maar baie van die eens populere media het oornag verander in seepbokse vir mense met skewe agendas en vals liberale fluff.

Boikot Naspers ·

Ons moet aanhou om Naspes te boikot en een van die dae verdwyn hulle ook. Dis nonsens dat ons moet betaal om die Afrikaanse Netwerk24 aanlyn te lees, maar die Ingelse News24 is gratis. Dis nonsens! Boikot hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.