Doodsklokke lui vir Centurion-meer

‘n Uitsig oor die sediment in die Centurion-meer voor die Centurion Lake-hotel. (Foto: Tripadvisor.com)

Die Tshwane-metro sal Woensdag die twee oorblywende sluishekke van die Centurionmeer se keerwal by die Hendrik Verwoerd-brug oopmaak as deel van ʼn proses om dié meer te dreineer en die natuurlike vloei van die Hennopsrivier te herstel.

Dit is deel van ʼn projek, waarvan die eerste fase R28,6 miljoen sal beloop, om die Hennopsrivier te rehabiliteer en ʼn natuurlike vleiland in dié omgewing te probeer vestig.

Dié meer in die suidelike voorstad van Pretoria is reeds jare lank ʼn onooglikheid in die omgewing. Maroela Media het berig dat vrywilligers met een skoonmaaksessie in November meer as 8,5 ton rommel uit die meer en rivier verwyder het.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die metro, het in Oktober gesê die rehabilitasieproses van die Centurionmeer en Hennopsrivier sal jare neem. Daar is ook verlede jaar besluit dat die meer nie as ʼn waterfront gerestoureer sal word nie, maar dat die rivier so natuurlik as menslik moontlik herstel word.

Volgens raadslid Danna Wannenburg, lid van die metro se burgemeesterskomitee van omgewing en landboubestuur, dui dit op die einde van ʼn era vir die meer wat eens op ʼn tyd ʼn belangrike baken in Centurion was.

“Ek glo egter inwoners kan nou weer hoop hê vir die herstel van die rivier en ʼn natuurlike vleiland in dié omgewing. Die meer is nooit gebou om die omvang van die besoedeling en opgehoopte sediment van die munisipaliteite stroomop te hanteer nie.

“Die stappe sal help om die rivier en meer te verbeter. Die omgewing kan nie net ʼn groen moeras bly nie, dit is tyd om vir die omgewing ʼn nuwe baadjie aan te trek.”

Wannenburg sê daar het oor die afgelope dekade meer as 50 000 kubieke meter sediment in die meer opgehoop. Die opening van die sluise sal ook help om die druk op die bestaande stormwaterstelsels te verlig, wat in die meer in vloei.

“Sodra die keerwal oopgemaak is, sal die metro begin om die slik uit die noordelike en suidelike dele van die meer te verwyder, asook voor die Centurion Lake-hotel. Dit behoort kanale aan weerskante van die meer te skep en die watervloei te verbeter, wat uiteindelik ook die stormwaterdreinering in die omgewing sal verbeter.”

Die metro is ook glo voortdurend in gesprek met die nasionale departement van waterwese en sanitasie om te verseker dat alle prosesse in ooreenstemming met die metro se watergebruiklisensie plaasvind.

“Die rehabilitasieproses behoort ʼn minimale invloed stroomaf te hê, maar inwoners langs die rivier sal vir die eerste paar weke ʼn verdonkering van die rivier se water sien. Namate die watervlakke in die meer daal en nuwe sediment blootgelê word, is daar ook kans vir onaangename reuke in die omgewing, maar dit sal verbeter namate die sediment uitdroog.”

Opruimaksie by Centurion-meer in November. (Foto: Facebook)

Wannenburg het benadruk dat daar strenger vanuit Ekurhuleni en die Johannesburgse metro opgetree moet word om besoedelaars van die Hennopsrivier uit dié munisipaliteite vas te vat. Die rioolwerke hoër op teen die meer sal ook herstel moet word.

Intussen het daar ook opgrawings van sediment by die Landbounavorsingsraad se keerwal in die noorde van die rivier plaasgevind. Die metroraad is besig met ʼn beplanningsproses om sediment en rommel by dié keerwal op te vang. Dit behoort die hoeveelheid slik en rommel wat stroomaf in die Hennopsrivier afgespoel word ook aansienlik te verminder.

“Ons almal sal moet saamwerk om die rivier en vleiland te herstel en elkeen sal sy deel moet doen. Die vrywilligers wat elke naweek inspring om die omgewing op te ruim, maak reeds ʼn verskil en die Irene-gholfklub het ook nou aangedui hulle wil betrokke raak by die opruimingswerk omdat die klub telkens skade ly as die rivier oorstroom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leeuwyfie

Wat word deur die meerderheid opgepas in Suid Afrika? Die minderheid spring dadelik in om te help. Maar die regering is veronderstel om die voorbeeld te wees.

Hexadane

Dit is baie hartseer ek onthou nog my kinder dae toe ons trap bootjies gery het op die meer die water was skoon mense het visgevang uit die meer uit, Nou wil hulle net n pleister opplak in plaas daarvan om die oorsprong te takel en dit uit te sorteer. Nee wat ek is jammer maar die spruit sal nie beter word nie die probleem gaan nou net verder af in die revier wees wie weet Clubview, Zwarkops gholfbaan Valhalla, Erasmia . hier gaan nog groot stink kom weens die besluit.

Andre

Dit is so hartseer want dit was in my weermag dae die lekkerste geselligste plek om saam vriende deur te bring. Vandag wil ek nie eers mall toe gaan nie a.g.v. die stank. Ons almal weet waar die probleem le……STROOM OP…….. Wesens wat al die geriewe GRATIS kry, wat net eenvoudig te lui is om vuilgoeddromme te gebruik, of glad nie omgee nie. Die groter prentjie is dat wanneer alles net toegelaat word om maar deur te vloei, daardie gemors uiteindelik in Hartebeespoortdam gaan opeindig, wat alreeds n gemors in en sy eie probleme het om uit te sorteer. Sorteer… Lees meer »

Marie

Hopenlik kan hulle sommer iets aan die Rietspruit rivier doen. Daai rou riool wat daarin loop maak dit ondraaglik vir almal wat om dit woon. Party dae is dit so erg jy kan nie asem haal nie.

Astrain

Fantastiese nuus ~ waar kan mens help? Alle dank aan Tshwane wat beweeg.