Doodskoot vir nóg tydskrifte

(Argieffoto: Unsplash)

Die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie het nóg slagoffers geëis.

Die Caxton-groep het vandeesweek aangekondig hy onttrek hom aan tydskrifpublikasie en alle verwante bedrywighede.

Dit beteken tydskrifte soos Rooi Rose, Vrouekeur, Woman & Home, Your Family, Bona, Country Life, Essentials en Food & Home sal voortaan nie meer verskyn nie.

“Die bestendige en voortgesette daling in besteding aan advertensies in die tydskrifsektor, asook die afname in die sirkulasie-inkomste het oor die afgelope paar jaar gestyg en die lewensvatbaarheid van die tydskrifbedryf laat daal,” het Caxton se raad Dinsdag gesê.

Die groep sê die landwye staat van afsondering weens die Covid-19-pandemie het beteken die groep se kliënte moes hul bedrywighede afskaal.

“Die negatiewe uitwerking van die onlangse Covid-19-afsonderingstydperk op algemene ekonomiese bedrywighede en gevolglik die onderneming se vermoë om normaal sake te doen in wat rééds moeilike omstandighede vir tydskrifuitgewers was, het dié besluit onvermydelik gemaak.”

Die raad sê talle adverteerders het in die aanloop tot en tydens die afsonderingstydperk advertensies onttrek en daar was kommer dat dié inkomste permanent verlore gaan wees en bykomende druk op die tydskrifbedryf en die hele groep sou plaas.

“Die beduidende daling in inkomstevlakke wat vererger word deur die moontlike langtermynuitwerking van Covid-19, gekombineer met die daling in sirkulasiesyfers, kan nie die onderneming op kort en lang termyn dra nie.

“In die lig van dié uitdagings het die groep ʼn beginselbesluit geneem om die tydskrifafdeling te sluit. Dit was ʼn moeilike maar onvermydelike besluit wat in belang van die hele groep geneem is.”

Die raad sê hy voer samesprekings met sy werkers oor die pad vorentoe.

Die sluiting van die titels kom as nóg ʼn groot skok vir die bedryf nadat Associated Media Publishing (AMP), een van Suid-Afrika se grootste onafhanklike mediahuise, verlede week aangekondig het dat hy óók sy deure sluit.

AMP publiseer die tydskrifte Cosmopolitan, House & Leisure, Good Housekeeping en Women on Wheels.

AMP het ook gesê die Covid-19-pandemie het sy tol dermate geëis dat die maatskappy met die druk en verspreiding van tydskrifte noodgedwonge halt moes roep.

“Die wêreldwye stilstand rakende die besteding aan advertensies asook die onvermoë om geleenthede te bied, het dit dus vir AMP onmoontlik gemaak om voort te gaan ondanks groot bedrae persoonlike geld wat in die maatskappy gestort is.”

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het vroeër gesê die mediabedryf speel ʼn geweldig belangrike rol tydens die Covid-19-pandemie, maar is terselfdertyd onder enorme druk.

Sanef sê nie net is werksgeleenthede op die spel nie, maar ook die produksie van gehaltenuus.

Die forum sê hy is ingelig dat sommige mediahuise beoog om salarisse met tot 40% te besnoei en die gebruik van vryskutwerkers se dienste te staak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Susan

Ai dis nou so hartseer dat hulle moes sluit. Nou wat gaan ek sonder my Vrouekeur doen???? hoop daar sal n uitkoms wees en dat hulle weer sal kan begin tydskrifte uitgee gaan nou huil oor di verlies

Renata

Rooi Rose het April 1942 die 1st keer verskyn…77 jaar se bestaan nou ten gronde. Keur het 1949 verskyn en in 1999 is dit verander na Vrouekeur.

Annette

Dis n sad dag vir my. Vroukeur lees ek vandad ek kan onthou.

capie

Die internet en vandag se leefwyse asook die ekonomie het nie net sy tol op tydskrifte gehad nie, maar ook op koerante. Ek was 21 jaar by ‘n koerant betrokke en weet wat daar aangegaan het. Is omtrent tussen 15 en 20 jaar terug daarweg en het amper o my rug gele van skok toe ek verneem hoeveel koerante daar nou daagliks gedruk word. Die pandemie gaan nog verdere skokke tot gevolg he en die huidige regering gaan dit versnel.

Mariette

So jammer. Voorheen het ek ritse tydskrifte gekoop. Na my aftrede is die enigste tydskrifte wat ek nog koop Rooi Rose en Garden & Home. Instagram is ‘n oulike alternatief vir artikels. Ongelukkig nie in Afrikaans nie.